Johan Jordaan, sedert 2007 senior wynmaker van Spier-Wyne, is aangewys as Diner’s Club se Wynmaker van die Jaar vir 2011. Diner’s Club se Jong Wynmaker van die Jaar is Matthew van Heerden van Uva Mira-Wingerde.
Dit was die 31ste keer dat die Wynmaker van die Jaar-toekenning, een van die mees gesogte toekennings in die plaaslike wynbedryf, gedoen is en die elfde keer in die geval van die Jong Wynmaker-kompetisie.
Inskrywings word elke jaar in ? ander wynkategorie beoordeel. Vanjaar was die kategorie vir die Wynmaker van die Jaar rooi versnitwyne in die Bordeaux-styl en droë witwyne in die geval van die Jong Wynmaker van die Jaar.
Jordaan het die toekenning ontvang vir sy 2009- Spier Creative Block 5, gemaak van die vyf klassieke kultivars wat vir ? Bordeaux-versnit gebruik word. Hy is gekies uit 110 inskrywings, die meeste wat nog vir die kompetisie ontvang is. Benewens ? trofee ontvang hy ? retoerkaartjie na enige wynproduserende land ter wêreld, asook ? reistoelaag van R50 000.
Matthew van Heerden het die titel van Jong Wynmaker van die Jaar gewen met sy 2009- Uva Mira Chardonnay, ? enkelwingerdwyn waarvan 50% vir elf maande in Franse eikevate verouder is. Sy inskrywing, wat uit ? totaal van 64 gekies is, het hom, benewens ? trofee, ook ? kontantprys van R25 000 besorg.
Dave Hughes, die voorsitter van die paneel beoordelaars, het die hoogste lof gehad vir die gehalte van die inskrywings en gesê Suid-Afrikaanse wynmakers het weer eens bevestig dat hulle van wêreldstandaard is.
“Die twee bekroonde wyne in vanjaar se kompetisie is albei van die allerhoogste gehalte. Die feit dat albei van die 2009-oesjaar is, bevestig net weer die uitsonderlike gehalte wat daardie jaar gekenmerk het. Dit was waarskynlik ons beste oesjaar van die afgelope anderhalf-dekade.”
Diner’s Club se besturende direkteur, Ebrahim Matthews, het gesê die groeiende getal inskrywings bevestig die mate waartoe die kompetisie die toetssteen van gehalte vir die plaaslike wynbedryf geword het.
“Die aansien daarvan het gegroei oor ? tydperk van meer as drie dekades waartydens van Suid-Afrika se voorste wynmakers luister daaraan verleen het.”
Volgens die beoordelaars het die vyf kultivars in die Creative Block 5 wat Johan Jordaan die titel besorg het - cabernet sauvignon, merlot, petit verdot, cabernet franc en malbec - saam “? wonderlike balans van vrug, tanniene en alkohol bereik”.
Matthew van Heerden, wat tans ook as voorsitter van die SA Chardonnay-forum dien en erken hy is ? groot bewonderaar van hierdie kultivar, het gesê hy het in sy bekroonde wyn daarna gestreef om die uiterste vrugsuiwerheid te bereik en om ? wyn te maak wat duidelik van sy plek van herkoms spreek.
Benewens Dave Hughes was die ander lede van die paneel Vincent Lignac, ? wynmaker van die sesde geslag van St Émilion en vanjaar se internasionale beoordelaar; die wynskrywer en wynbeoordelaar Neil Pendock; Carrie Adams, wynbeoordelaar en spesialis-drankhandelaar; Margaret Fry, Kaapse Wynmeester; Colin Frith, wynbeoordelaar en ere-Kaapse Wynmeester, en Ntsiki Biyela, wynmaker van die Stellakaya-wynmakery.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast