JC le Roux stel nuwe, jeugdige MCC Brut bekend

Date posted:
April 4, 2011

Die Huis van JC le Roux, Suid-Afrika se eerste toegewyde vonkelwynkelder, het pas hul Méthode Cap Classique-vonkelwynreeks uitgebrei met ‘n nuwe klassieke dog verfrissend jeugdige Brut.

Die nuwe JC le Roux Brut is hoofsaaklik van pinot noir-druiwe gemaak met ‘n klein hoeveelheid chardonnay. Dit is ‘n nie-oesjaar- Cap Classique met uitstekende geure wat mekaar volmaak aanvul. Dit het ‘n pragtige kombinasie van bessievrugte, jeugdigheid en komplekse bottelgefermenteerde eienskappe met ‘n talmende nasmaak. 

”Die nuweling in ons Cap Classique-familie is spesiaal handgemaak vir diegene met ‘n waardering vir die elegansie van ‘n bottelgefermenteerde vonkelwyn met ‘n jeugdige karakter. Ons nuwe Brut is beide verfrissend en bevredigend met ‘n ryk gisagtige smaak en heerlike, vrugtige pinot noir-eienskappe,” sê die  passievolle keldermeester, Elunda Basson, wat al van haar aankoms by JC le Roux in 2007 ‘n behoefte gehad het om ‘n JC le Roux Brut te maak.

 

“‘n Nie-oesjaar- Brut-versnit van die klassieke sjampanje-kultivars is oor die algemeen die basis van enige sjampanjehuis in Frankryk. Omdat ons bestaande Méthode Cap Classique-reeks by Die Huis van JC le Roux oorheersend met ‘n enkel druifsoort van ’n spesifieke oesjaar gemaak word, moes ons eenvoudig net ‘n nie-oesjaar- Brut maak wat elke dag geniet kan word”, sê Elunda.


Ofskoon die nuwe Brut verruklik en wonderlik verfrissend so op sy eie is, glo Elunda dat dit absoluut ideaal is om saam met kos te geniet.

“Ek is baie lief daarvoor om JC le Roux Brut met vis, seekos, pasta en hoendergeregte te geniet, en moenie die soesji vergeet nie”, voeg sy by.

Die Huis van JC le Roux het ‘n wye reeks van Cap Classique- en vonkelwyne om elke wynliefhebber te bevredig, van klassieke oesjaarvonkels tot die meer toeganklike effe-droë gunstelinge. Die Cap Classique-wyne word volgens die eeu-oue Franse tradisionele metode gemaak waartydens die fyn borrels, die kenteken van ‘n voortreflike Cap Classique, as gevolg van ‘n tweede gisting in die bottel gevorm word.

 

JC le Roux Brut is beskikbaar teen R68 by kelder en ander fynproewer-wynwinkels.
                                                                                                                      

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram