Jan Boland Coetzee ontvang gesogte 1659-erepenning

Die Stellenbosse wyn- en sportlegende, Jan Boland Coetzee, is met die gesogte 1659-erepenning vereer.

Coetzee, wat langs die Kaapse Weskus groot geword en ’n graad in wynkunde aan die Universiteit van Stellenbosch behaal het, se roemryke wynmaakloopbaan het in 1968 op die Kanonkop-wynplaas buite Stellenbosch begin. Hy het terselftertyd ook naam gemaak op die rugbyveld. Nie net het hy die Westelike Provinsie destyds vir ’n rekordgetal van 127 wedstryde verteenwoordig nie, maar ook ses keer as Springbok uitgedraf.

Net so bekend as wat Coetzee is vir sy kundigheid van wingerd en wyn, so vernaam is sy reputasie vir die opheffing van landbouwerkers, asook die wynlandgemeenskappe. As deel van sy pioniersrol op die gebied van maatskaplike opheffing was hy in die 1970s een van die stigterslede van die Landelike Stigting, ’n baanbrekerorganisasie wat poog om die woon- en werksomgewing van plaaslike mense te verbeter. Hy was een van die stigterslede van die Kaapse Wynmakersgilde en is ‘n voormalige trustee van dié gilde se ontwikkelingstrust wat veral deur hul protégé-program terugploeg in die gemeenskap.

In 1980 het Coetzee die plaas Vriesenhof teen die hange van Stellenboschberg bekom, waar hy homself steeds bevind. Wanneer hy nie wynmaak nie, geniet hy dit om te jag, vis te vang aan die Weskus saam met sy kleinkinders of om saam met vriende oor ‘n glasie wyn te kuier. ‘n Eredoktersgraad in die natuurwetenskappe in landbou is in 2018 deur die Universiteit van Stellenbosch aan hom toegeken.

Volgens dr Ernest Messina, Voorsitter van Groot Constantia, word die 1659-erepenning reeds sedert 1974 aan persone toegeken wat diep spore in die wynbedryf getrap het. Met vanjaar se toekenning wil Groot Constantia se direksie hulle verbintenis herbevestig tot die verdere herstel van menswaardigheid, die uitbou van trots in die wynbedryf en beste praktyk aanmoedig.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>