Jacques Smit voltooi sirkel met eie wyn

Date posted:
March 31, 2010

Passie! Dít, sê Jacques Smit van Welvanpas naby Wellington, is sy bydrae tot die wyn wat hy maak. Die res laat hy oor aan die natuur. Maar hy hou darem so ‘n wakende ogie oor alles!

 

Jacques weet net soveel van wat in sy wingerde aangaan as in die kelder. Hy is nie net die eienaar van een van Wellington se wingerdstok-kwekerye, Constantia-kwekery nie, maar maak ook nou sy eie wyn. Jacques het in wingerdbou en wynkunde aan die Universiteit van Stellenbosch gegradueer en is persoonlik betrokke by die wingerdboukundige beplanning van sy kliënte, binne sowel  as buite Suid-Afrika.

 

Wellington is letterlik die geboorteplek van die Suid-Afrikaanse wynbedryf aangesien die distrik die tuiste is van die hele wingerdstok-kwekersbedryf.  Ongeveer 90% van alle geënte stokke in Suid-Afrika vir wyn sowel as tafeldruiwe word hier gekweek.

 

Nadat hy baie jare lank ‘n reputasie opgebou het as ‘n gespesialiseerde kweker van wingerdstokkies, het Jacques in 2003 besluit om sy ander roeping te volg en die eindresultaat en gevolge van die verskillende klone van druifkultivars te ervaar soos dit in wyn weerspieël word. Hierdie eerste oesjaar is twee jaar later gebottel.

 

Dit het uiteindelik gelei tot die skep van ses wyne wat op die tradisionele metode gemaak is, in oop sement-gistenke waar die rooiwyn se doppe nog met die hand deurgedruk word. Geen brei- of sagmaakmiddels word bygevoeg nie, swaelvlakke word so laag moontlik gehou en alle wyne is ongefilter. Wyn word verouder in klein Franse en  Hongaarse eikehoutvaatjies .

 

“Ons gebruik spesifieke klone en druiwetrosse wat met die hand uitgesoek is in geselekteerde wingerde om te verseker dat die wyne die passie van die Smit-familie weerspieël,” vertel Jacques met trots. “Ons sit ook nie beskrywings van die wyne op die bottels se etikette nie want ons wil hê wynliefhebbers moet vir hulself besluit wat die natuur in hul glase gesit het.”

 

Jacques glo daaraan om in die wingerd met die natuur saam te werk. As gevolg van die warmer Wellingtonse klimaat het hy besluit om sy wingerdpraktyke hierby aan te pas en so ‘n eie identiteit aan die wyne te gee, baie vol en kompleks.

 

“Ons baklei nie met die natuur nie. Ons het die rigting van ons wingerdrye verander, onderstokke volgens die grondtipes gekies, maak gebruik van geskeduleerde besproeiing, gebruik organiese kompos en ploeg nie ons grond nie om windskade aan die druiwe tot die minimum te beperk.

 

 

Links: Die wynmaker tussen sy ander roeping, wingerdstokke. En natuurlik met 'n glasie van sy eie medisyne in die hand!

 

“Vir die somer het ons ons loofbeheer aangepas deur nie ‘dun’ te gaan nie, maar eerder om lugvloei tussen die wingerdstokke te verbeter deur middel van suiering en dan die stokke toe te laat om hul eie sambreelkap te skep en sodoende skadu vir die druiwe in die hitte van die dag te voorsien. Uitdunning van die trosse en die verwydering van ‘na druiwe’ word ook gedoen om trosse van gelyke rypheid te kry.”

 

Voor parstyd proe Jacques altyd eers die druiwe om te bepaal watter hy wil hê en vir watter styl wyn.

 

 Die Jacques Smit Wines-reeks bestaan uit:

 

Cabernet Sauvignon 2003

 

Cabernet Sauvignon 2004

 

Cabernet Sauvignon 2007 (Nog nie vrygestel nie.)

 

Full Circle

 

Shiraz 2004

 

Shiraz 2005

 

Vine Valley 2004

 

Vine Valley 2006 (Nog nie vrygestel nie.)

 

Chenin Blanc NV

 

Roobernet Port 2006

 

Roobernet Port 2007

 

Welvanpas, een van die eerste plase wat buite die Kaapstad-omgewing toegeken is, is in 1699 aan ‘n Franse Hugenoot gegee. Die eerste Smit wat die plaas besit het, het dit in 1844 gekoop. Nadat dit ‘n paar keer van eienaar verwissel het, is Welvanpas in 1956 aan Jacques se pa, Abraham Jozua Smit, verkoop.

 

Die landgoed lê in die Blouvlei-area van Wellington met die asemrowende Hawekaberge as agtergrond. Die streek se ligter grond en klimaat skep ‘n unieke mikroklimaat (terroir) wat ‘n  eiesoortige styl aan die area se wyne gee.

 

Vir meer inligting oor enige van die Jacques Smit Wines-wyne, beskikbaar direk vanaf die kelder, besoek gerus www.vines2wines.com of kontak die plaas by 021 873 1265 of info@vines2wines.com.

 

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram