J.C. Le Roux stel 2001-oesjaar van Scintilla vry

Date posted:
October 30, 2009

Die Huis van J.C. Le Roux het pas die 2001-oesjaar van sy keldertrots, die J.C. Le Roux Scintilla, ‘n delikate Méthode Cap Classique wat by die beste Franse Sjampanje kan kers opsteek, vrygestel.

 

Hierdie besonderse Cap Classique met sy stylvolle donker bottel wat veral by die fynproewer byval vind, is ‘n klassieke versnit van 75% chardonnay en 25% pinot noir. 

 

J.C. Le Roux Scintilla 2001 is ‘n weelderige, sagte en goed gebalanseerde, delikate Méthode Cap Classique wat bekoor met sy vonkelende sagte borrels. Hierdie besonderse keldertrots sal jou betower met sy pragtige goue skynsel en jou mond streel met sy sagte, droë en elegante vonkel. Die wyn het agt jaar op die gisafsaksel deurgebring en vertoon volronde vrugtegeure in die neus met vars gebakte broodgeure.

 

Die Huis van J.C. Le Roux maak ‘n klassieke reeks van Cap Classique-vonkelwyne om elke wynliefhebber te bevredig. Dit word volgens die eeu-oue Franse tradisionele metode wat op eie bodem as Méthode Cap Classique bekend staan, gemaak. Die delikate borrels word tydens ’n tweede bottelgisting binne in die bottel gevorm in ’n temperatuurbeheerde kelder om stadige gisting, wat noodsaaklik is vir ’n voortreflike Cap Classique, te verseker. Dit geskied alles onder die wakende oog van die passievolle keldermeester, Elunda Basson.

 

Geniet ‘n glasie Scintilla op sy eie by enige geleentheid of as ‘n eksklusiewe pasmaat saam met kreef, oesters, Parma ham en selfs soet nageregte.

 

J.C. Le Roux Scintilla 2001 verkoop teen ongeveer R128.00 ‘n bottel by Die Huis van J.C. Le Roux en uitgesoekte wynwinkels.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram