Monis, die oudste produsent van gefortifiseerde wyn in die land, het ‘n goue medalje los geslaan vir sy 2004- Muscadel op die Muscats du Monde wat onlangs in Frankryk gehou is. Dit volg op die onlangse platinum-toekenning wat dit op die 2010-prysuitdeling van die Suid-Afrikaanse Muskadelassosiasie ontvang het nadat dit goud vir sowel die produk self as die verpakking verdien het.
Met meer as 206 monsters uit 23 lande wat geproe is, het die Monis Muscadel goud verower, een van slegs drie Suid-Afrikaanse produsente wat dit reg gekry het, wat die prestasie van die wynmaker, Dirkie Christowitz, soveel meer indrukwekkend maak.
Christowitz sê: “Ons Muscadel vaar goed op die internasionale mark danksy sy buitengewone smaakprofiel. Ons kies ons wyne uit die beste muskadelproduserende areas van Suid-Afrika vir hul vermoë om hul beste voet na vatveroudering voor te sit.”
Die wyn is vir vyf jaar verouder in Franse eikehoutvate van 500 liter wat ‘n heerlike kombinasie van rosyntjies, Kerskoek, kaneel en subtiele sitrus teweeg bring het en wat veroorsaak dat dit fluweelsag en met ‘n talmende mokka-nasmaak eindig.
Christowitz stel voor dat die Muscadel as ‘n verwelkomingsdrankie geniet word of as ‘n plaasvervanger vir nagereg in ‘n yskoue martini-glas oor gebreekte ys.
Die Monis Muscadel 2004 kos sowat R80 per 500ml-bottel.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast