‘Imperialistiese’ Amarula oorrompel ook Amerika

Date posted:
December 7, 2012

Amarula word wêreldwyd al hoe gewilder, en is boonop by die 2012 New York International Spirits Competition as Likeur van die Jaar aangewys.

 

Dié Afrika-drankie, soos die handelsmerk bekend is, was ook een van net drie wenners van ’n dubbelgoue medalje in die hele kompetisie, wat inskrywings uit 34 lande gelok het. Die beoordelaars vir dié geleentheid, wat vanjaar vir die derde keer aangebied word, is almal by die handel betrokke. Hulle sluit aankopers van spiritualieë, kleinhandelaars, eienaars van restaurante en kroeë, verspreiders en invoerders in.

 

“Dis vir die handelsmerk opwindend om só ’n klop op die skouer te kry van mense wat in wese as kanaal na New York se verbruikers dien,” sê Siobhan Thompson, die handelsmerk se globale woordvoerder.

 

As die beste presteerder in sy kategorie is Amarula in Desember in die Manhattan-stadskern by ’n Wennersvoorskou tydens ’n glansgeleentheid aan meer as 100 BBP’s uit die bedryf asook joernaliste ten toon gestel.

 

Vroeër vanjaar het Amarula by die International Wine & Spirit Competition (IWSC) in Londen ’n goue medalje ingepalm. Hy het tevore ook al die IWSC se trofee vir die Beste Likeur ter Wêreld verower.

 

Die jongste toekenning volg in die spore van Amarula se volgehoue groei van jaar tot jaar. Selfs in streke soos Europa, waar ekonomieë groot druk ervaar, het verkoopsvolumes toegeneem, sê Thompson. Intussen lok hy in sy tuisland steeds meer nuwe verbruikers, wat vir baie bemoedigende binnelandse verkope sorg.

 

Euromonitor het Amarula uitgesonder as een van die globale spiritualieë-handelsmerke wat die vinnigste groei. Spirits Business het dit danksy sy uitsonderlike groei as ’n Handelsmerkkampioen aangewys.

 

Gaan na www.amarula.com of www.facebook.com/amarula vir nadere besonderhede oor Amarula.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram