Hongkong se wynmark een van uiterstes, sê Asië-kenner

Date posted:
May 18, 2011

Hongkong is Asië se Wall Street … en ’n tuiste vir puik wyn, ruim beursies en groot kelders, sê Debra Meiburg, ’n wynmeester, internasionale wynbeoordelaar en adviseur vir produsente wat in markte in Asië handel dryf.

 

Dié wynspesialis, wat in die VSA gebore is maar reeds die afgelope 23 jaar in Hongkong woon, het ’n groep plaaslike wynprodusente vroeër vandeesmaand tydens ’n seminaar in Stellenbosch toegespreek oor hoe om markte in groter Asië te benader. Die seminaar is deur Wines of South Africa (WOSA) aangebied.

 

Sy het produsente aangemoedig om die potensiële markte waarop hulle wil fokus baie deeglik na te vors, en het gewaarsku om Asië, wat uit 57 lande bestaan, nie as ’n homogene gebied te beskou nie.

 

“Hongkong is ’n bipolêre mark waar mense gereeld óf die wêreld se mees gesogte wyne met buitensporige pryse drink óf produkte aan die teenoorgestelde punt van die spektrum koop. Dit is nou ’n goeie tyd vir Suid-Afrikaanse produsente om die mark te betree want daar is geweldig baie groeipotensiaal vir wyne teen middelslagpryse.”

 

Sy het dit egter benadruk dat Hongkong se mark weens sy toeganklikheid baie versplinter is, en dat groot getalle agente en verspreiders daar bedrywig is. Dit is daarom belangrik om met invoerders saam te werk wat nie blote handelaars is nie en wat handelsmerke kan bou.

 

Hongkong is ook ’n baie belangrike poort na die res van China. Net in China, waar die bevolking vinnig na 1,4 miljard op pad is, is daar 34 provinsies, elk met sy eie besondere demografie.

 

“Meer as honderd dialekte word in die land gepraat. Daar is geen nasionale kookkuns, soos Westerlinge soms dink nie, en wynprodusente moet op plaaslike smaakvoorkeure ag slaan wanneer hulle produkte na ’n mark bring.”

 

Net sowat 10 persent van China se middelklas drink wyn. Desondanks groei die wynmark teen ’n saamgestelde jaarlikse groeikoers van 15%.

 

“Hulle is baie statusbewus, maar ook baie prysbewus. Daarby is hulle geweldig lojaal teenoor hul gekose handelsmerke, en hoewel Franse wyn die meeste steun geniet, is daar tog ook al groter nuuskierigheid oor die produkte van ander wynproduserende lande waaruit Suid-Afrika kan munt slaan.

 

“Moenie die Chinese mark met laepryswyne betree nie. Neem julle heel beste na die land toe en laat hulle die grondslag vir ? reputasie van uitnemendheid lê,” het sy gesê.

 

“Chinese slaan ’n goeie opvoeding hoog aan, en mense is gretig om meer oor wyn te wete te kom en die fassinerende verhale wat oor baie individuele produsente vertel kan word. Die Westerse lewenswyse en weelde fassineer hulle, en hulle verstaan die kenmerkendheid van oorsprong, iets wat wynmakers baie moontlikhede vir kommunikasie bied.”

 

Hoewel Chinese feitlik nét rooi wyn drink, is daar ? groeiende belangstelling in vonkelwyn. Daar moet ook geleenthede geskep word om verbruikers aan te moedig om hul smaakervaring uit te brei deur wit wyn te beproef. 

 

“Tans beskou hulle witwyn as niksseggend, maar hulle kan moontlik van mening verander, en dalk is seekos die sleutel hiertoe.

 

Daar is baie min landwye verspreiders in China, en produsente moet spesifieke markte in die land teiken en geskikte verspreiders vind. Tweedevlak-stede, waar die inwonertal dikwels dié van talle groot Westerse stede oorskry, bied baie potensiaal.”

 

Produsente kan ’n nismark vir hulself skep deur promosies met bepaalde kossoorte te koppel. “Kies ’n dis en verbind dit met ’n bepaalde wyn om nuwe verbruikers te betrek.”

 

Sy het die klem laat val op feesdae wanneer geskenke oorhandig word, soos die maan-nuwejaar, middel-herfs en ander landwye feeste, asook groot onthale vir troues en maatskappyfunksies. Dit alles bied bemarkingsgeleenthede.

 

Sy stel egter voor dat plaaslike wynmakers eerder handelsmerke probeer ontwikkel waarvan die name makliker uitgespreek kan word as dié wat tans in internasionale markte te koop is.

 

“Dis baie belangrik om langtermynverhoudings met sakevennote aan te knoop. Talle van die voorste Franse wynhuise stuur hul seuns en dogters om Chinese markte namens hulle te bearbei want hulle besef hoe belangrik dit is om persoonlike bande te smee om hul handelsmerke te ondersteun.”

 

Volgens WOSA maak China, met inbegrip van Hongkong, net meer as 35% van die markwaarde van Asië aan die Stille Oseaan uit, en Japan 22,5%.

 

Meiburg het gesê Japan is bykans ’n volwasse mark en een van die min in Asië waar meer vroue as mans wyn koop. Daar is ’n tradisie in Japan om gebeure te vier, en Suid-Afrikaanse produsente kan dit oorweeg om ’n Suid-Afrikaanse nasionale vakansiedag as grondslag vir spesiale promosies te gebruik.

 

Sy het Suid-Korea as ’n welvarende, gesofistikeerde, goed opgevoede en vinnig groeiende mark uitgesonder.

 

“Koreane hou van Duitse wyn, en wynmakers uit Chili bou ’n sterk steunbasis danksy ’n gunstige wedersydse handelsooreenkoms met daardie land.”

 

Suid-Korea verteenwoordig 3,6% van die waarde van die wynhandel in Asië aan die Stille Oseaan, en Indië 1,4%. Na raming sal laasgenoemde volgens WOSA se syfers binne die volgende vyf jaar met sowat 150% groei.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram