Hoë punte vir Constantia Glen in Amerika se Wine Enthusiast

Date posted:
May 24, 2012

Constantia Glen, die manjifieke wynlandgoed bekend vir uitsonderlike koelklimaat-rooiwyne, het 90 punte en meer vir twee van sy uitstaande Bordeaux-stylversnitte ontvang in die New Yorkse Wine Enthusiast, een van die wêreld se invloedrykste tydskrifte wat heeltemal toegewy is aan wyn en spiritualieë.

 

Met 91 punte vir die elegante Constantia Glen Five 2008 en 90 punte vir die toeganklike Constantia Glen Three 2008, word albei wyne in die tydskrif se kategorie vir uitstekende wyne genoem.

 

Wine Enthusiast beskryf die Constantia Glen Five 2008, wat onlangs eers bekend gestel is, as ‘n goeie Bordeaux-stylversnit met ryp aromas van swart vrugte en ‘n sterk swart drop- en spesery-element wat volhoubaarheid toon. “Die verleidelike mondgevoel spog met ’n effense romerige tekstuur en tanniene wat die mond vul. Die smaak is vol gekruide boysenbessie. Geure van tabak, mokka en soet spesery talm lank.”

 

Constantia Glen Three 2008 word beskryf as ‘n wyn van “goeie waarde”, en die resensie verwys daarna dat dié merlot-dominante versnit, met cabernet sauvignon en cabernet franc, ryp aromas en geure van donker vrugte en bessies, versterk deur lae sigaartabak, leer, geurige kruie en boombas het. “Gekonsentreerd en ‘n mondvol, met ‘n fluweelagtige tekstuur, is dit ‘n goed gebalanseerde wyn met fyn, volhoubare tanniene en ‘n verlengde eindsmaak.” 

 

Wine Enthusiast is die wêreld se grootste tydskrif eksklusief gewy aan wyn en spiritualieë en het ‘n databasis van 118 026 wynbeoordelinge en resensies wat die diepte, wydte en verskeidenheid in die Amerikaanse mark weerspiëel.

 

Constantia Glen Five 2008 en Constantia Glen Three 2008 is beskikbaar by uitsoekrestaurante en boetiekwynwinkels, en word vir onderskeidelik R245 en R150 per bottel by die kelder verkoop.Skakel 021-795 5639, stuur ‘n epos aan wine@constantiaglen.co.za of besoek www.constantiaglen.com vir meer inligting.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram