Het Zwarteland: As jy moeg word vir die lewe in die stad …!

’n Goeie en gesoute reisiger doen altyd sy huiswerk, of hy nou buitelands of binnelands reis. En hy soek verder as daardie toeriste-attraksies waarvan brosjures vol is en waaroor almal praat.

Toe ons uitgenooi word om die Swartland se Wyn- en Olyfroete (www.swartlandwineandolives.co.za) te besoek, het ons besluit dat hoewel kos en wyn die hooftemas sal bly, ons die net wyer gaan span om ook die streek se ander, “minder bekende” toeriste-attraksies by te sleep.

Canola-lande gloei goud in die Swartland. Jip, die Swartland gaan nie net oor wyn en olywe nie.

Maar eers so bietjie geskiedenis! Die streek wat vandag as die Swartland bekend staan, word reeds etlike duisende jare bewoon, soos die pragtige rotskuns van die Khoi- en San-stamme getuig. Die eerste geskrewe rekord van die streek dateer uit die 1600s toe Jan van Riebeek ’n stasie vir die herbevoorrading van verbygaande skepe vir die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie gestig het.

Die eerste Europeërs wat die binneland ingevaar het, het op ’n wilde landskap bedek met donkergrys bosse – die inheemse renosterbos – afgekom en dit Het Zwarteland genoem, met verwysing na die donker bosse. Vandaar die hedendaagse naam, Swartland.

 

Ons besoek van drie dae het een Dinsdagoggend in Malmesbury begin. Ons eerste “port of call” was die toerismekantoor (www.swartlandtourism.co.za) om bietjie inligting in te win want wanneer mens aan hierdie dorp dink, is dit selde – indien ooit – as toerismebestemming. Nee, mens ry mos net daardeur op pad iewers heen, nie waar nie?

Die pragtige NG Kerk in Malmesbury.

Verkeerd! Doen jou huiswerk en jy sal gou besef Malmesbury het meer te bied as wat baie mense besef. Die dorp dateer terug na die vroeë 1700s toe die eerste vryburgerplase in die omgewing toegeken is. Daar is heelwat oorblyfsels van sy ryk kultuurgeskiedenis, soos die pragtige geboue uit die Georgiaanse, Victoriaanse, Edwardiaanse en Kaaps-Hollandse periodes wat deel vorm van die dorp se Erfenisroete. Beslis ’n besoek werd!

‘n Statige Victoriaanse woning in Faurestraat, een van vele geboue op die dorp wat die geskiedenis in herrinnering roep.

Ons “reis” deur die dorp het begin by die Malmesbury-museum, ’n Joodse sinagoge wat in 1911 gestig en later aan die plaaslike munisipaliteit geskenk is deur die seun van die bouer, Max Goldman. Vandag huisves dit die museum wat ’n besoek werd is want dit vat mens terug na vervloë dae, dikwels met heimwee en ’n glimlag. Net langs die museum is die ou Vrymesselaarslosie wat in 1866 tot stand gekom het.

Na vinnige besoeke aan sommige van die ou geboue uit ’n elegante dog vergane era, insluitende die ou Malmesbury-stasie, die imposante NG Kerk en die ou waterput wat terugdateer na 1751 (een van toeka se waterpunte wat hoofsaaklik deur nagmaalgangers gebruik is en behoue gebly het en vandag binne ’n winkel gevind kan word) het die honger- en dorspyne begin knaag en is ons na Cherry Lane Bistro & Deli (www.cherrylaneontop.co.za) waar Wim en Karin Smit ons ingewag het. Karin staan aan die roer van sake by hierdie eg plattelandse eetplekkie en winkeltjie waar jy maklik jou begroting in sy maai kan stuur!

Wim Smit en vyf Renosterbos-rooies wat ons op die stoep van Chery Lane geproe het, en daarna dit saam met ‘n hartlike middagete geniet het.

Maar ons was hier om Wim se wyne uit Hofstraat Kelder in Myrtledene aan die buitewyke van die dorp te proe en daarna iets te nuttig om ook die hongerpyne te stil. Wim, ’n bouer van beroep, se passie vir die nektar van die gode het hom gedryf om so twee dekades gelede ook die wynmakerhoed op te sit. Hy bemark sy wyne onder die pragtige Renosterbos-etiket en kan met reg ’n garagiste-wynmaker genoem word. Die druiwe vir sy wyne koop hy aan.

Die Renosterbos-reeks bestaan net uit rooiwyne en dié dag het ons vier van hulle onder hande geneem, die Cabernet Sauvignon, Shiraz, Pinotage en Nebbiolo. Na dese kan ek verstaan hoekom Wim en Renosterbos reeds 7 garagiste-titels en ’n hele paar goue medaljes huistoe gebring het.

Sy wyne is onder meer beskikbaar by die Wine Kollective en Enjoy Liquors in Riebeek Kasteel, Druiwetros en Bill&Co in Malmesbury, Giovanni’s in Kaapstad en natuurlik Cherry Lane.

Wim bied persoonlike wynproeë by sy keldertjie aan, maar dit moet vooraf bespreek word by 083 270 2352. Vir meer inligting, gaan na https://swartlandwineandolives.co.za/hofstraat-wines/

Na ’n smullekker en eg plattelandse ete is ons vort na Riebeek Kasteel waar die volgende “kuier” op ons gewag het, hierdie keer met olyfprodukte by!

Die Riebeek-vallei in al sy glorie.

Wanneer mens die Bothmaskloofpas se “kruin” bereik, is dit die pragtige Riebeek-vallei wat jou oog eerste vang. Dan let jou kykers ’n nuwe kuierplek op sommer daar langs die pad af ondertoe, Eight Feet Village. Maar meer daaroor later.

Die drie wyne uit die Kloovenburg-kelder wat my smaakkliere betower het.

Aan die onderpunt van die pas lê een van my gunsteling-wynlandgoedere, Kloovenburg van die Du Toit-familie. Hier het ek al meermale my begroting in sy peetjie gestuur, en nie net op wyn nie! En op hierdie dag sou die geskiedenis hom herhaal want na ’n lekker informele wynproe met die wynmaker, Duncan Stuart, het Kloovenburg se olyfprodukte aan die beurt gekom, en toe klim ek en vroulief onder laasgenoemde in, ek dié wat maag toe gaan en sy dié wat die lyf verfraai.

Kan mens dan nou so lekker smul aan brood en olyfolie!

Aangesien ek die oggend net rooiwyne van Hofstraat Kelder geproe het, het ek vir Duncan gevra om my te verras met hul wittes. Hy het drie van Kloovenburg se wittes uitgehaal, ’n ongehoute chardonnay, ’n vatverouderde chardonnay en die Eight Feet White, ’n heerlike versnit van 31% chenin blanc, 29% grenache blanc, 20% verdelho en 20% Roussanne. As ek nog stoorplek by die huis gehad het …

En die olyfprodukte? Ek kan nog goed onthou toe dit net olywe, olyfolie en olyftapenade was wat mens in hierdie vallei kon proe en koop. Vandag is die verskeidenheid en uiteenlopendheid van die produkte wat van olywe gemaak word absoluut ongelooflik.

O ja, hier het nogal heelwat nuwe attraksies bygekom sedert ons laaste besoek. Bo en behalwe die Eight Feet Village, waaroor ons later gaan gesels, het Kloovenburg nou ook ’n gesinsvriendelike eetplek, Kringe inni Bos, waar mens lustig kan smul en proe terwyl die kleingoed baljaar. Kringe inni Bos is net op Vrydae, Saterdae en Sondae oop.

Vir meer inligting, skakel 022 448 1635 of stuur ’n epos aan info@kloovenburg.com, of besoek www.kloovenburg.com.

Mens voel sommer tuis as jy by Ruby Rose uit die kar klim en jy word so begroet!

Die eerste dag van ons besoek het einde se kant toe begin staan en ons moes ons basis vir die volgende paar dae, Ruby Rose Country House (https://rubyrosecountryhouse.co.za) in Riebeek Wes, opspoor.

En dan wag hierdie bederf op jou. Lekker bly darem maar lekker!

Riebeek Wes is so ’n paar kilometer anderkant Riebeek Kasteel (albei dorpies lê aan die voet van die Kasteelberg) en Ruby Rose is in ’n lowergroen en boomryke gedeelte van die dorp geleë. Dis nou die ideale basis vir ’n besoek aan die Swartland. Veilige parkering in die skadu van bome, verblyf in ruim en gerieflike kamers, en ’n gasheer en personeel wat jou soos ’n BBP laat voel, sorg alles dat jou verblyf onvergeetlik is.

Ons tweede dag het met ’n heerlike, vullende ontbyt by Ruby Rose begin. En toe is ons Riebeek Kasteel toe om die dorpie, waar ons reeds tevore heerlike tye deurgebring het, verder te verken, sommer te voet.

Dis nou pure platteland, kalm en rustig. Parkeer iewers in die middel van die dorp en slaan dan verder voet, van koffiekroeg en kunsgalery tot geskenkwinkel en wyngenot. En tussenin kan jy middagete geniet in een van die dorp se lekker eetplekke. G’n wonder so baie mense vrek oor die dorpie nie!

Vandag sou nie ’n wyndag wees nie, maar die streek se byna tallose en uiteenlopende olyfprodukte het op ons gewag, en dit sou ’n ervaring en opvoeding op sy eie wees. Na Kloovenburg het ons gereken ons weet byna alles van olywe af, maar Het Vlock Kasteel en die Olive Boutique het ander planne gehad.

Wat jy nie by Het Vlock Kasteel kry wat uit olywe gemaak word nie, is nog nie uitgedink nie! En daar’s veel meer om huistoe te neem.

Die groot verskeidenheid olyfprodukte by Het Vlock Kasteel slaan mens se asem heeltemal weg. Daar is meer as 200 van hulle! Wanneer mens by die deli instap, slaan jou kennebak die vloer soos ’n donderslag. Net waar jy kyk, is daar olywe, olyfolies, geurige smeermiddels, konfyte, bolae vir nageregte … Dis ’n kosliefhebber se paradys! En dis alles te danke aan die handewerk van die matriarg van die familie, Ansie Vlok. Nodeloos om te sê, die plastiek het weer gegons en ons is daar weg met olywe in byna elke denkbare vorm.

Maar Het Vlock Kasteel is veel meer as net ’n deli wat mens soos ’n wafferse Aladdin se skatkamer betower. Gaan loer gerus by www.hetvlockkasteel.co.za en leer meer.

Buite of binne, by The Barn gaan jy lekker kuier!

Ons moes eers weer asem skep en is vir middagete na The Barn waar ons buite onder ’n sonsambreel onder bome ingeskuif en met die vallei as agtergrond ’n smaaklike ete geniet het, ek met ’n plaaslike wyntjie want die dag kon darem nie sonder ’n ou proeseltjie verby gaan nie.

In die skadu van ‘n boom en sonsambreel, en met ‘n wyntjie byderhand, was hierdie middagete ‘n fees.

Hier het Thomas en sy span werklikwaar ’n heerlike, rustige uitspanplek geskep waar kos mense bymekaar bring vir ’n heerlike samesyn. Die kos roep herrrinneringe van lande aan die Middellandse See op met die geure wat mens se neus en mond bederf. En as die weer nie saamspeel nie, bied The Barn (www.thebarnriebeek.com) dieselfde ontspannende atmosfeer binnenshuis.

Skuins oorkant die pad van The Barn is die Olive Boutique van Derek en Susan van der Riet. En hier het ons weer besef hoe min ons eintlik van olywe weet en hoe ongelooflik veelsydig hierdie vrug werklik is. Derek het ’n meestersklas aangebied waartydens ons op ’n baie interessante en opvoedkundige “olyfoliereis” geneem is.

Derek het ‘n baie interessante en leersame proe aangebied, en ons is nie met leë hande daar weg nie.

Het jy geweet van die verlangde geure by olywe sluit appel, amandel, artisjok, piesang, gras, neute en peper in? En moenie dieselfde olie vir byvoorbeeld slaai, pasta en vleis gebruik nie. Aikôna! Olywe is soos wyn, ’n wonderlike reis van ontdekking en verkenning.

Vir meer inligting oor die Olive Boutique en sy produkte, besoek www.olive-boutique.co.za.

Met ’n kop propvol inligting oor olywe en die uiteenlopende produkte van olywe (en ’n bagasiebak wat al hoe meer na ’n olyfsmous s’n begin lyk het!) is ons terug in die rigting van Riebeek Wes, en toe besluit ons op die ingewing van die oomblik op ’n vinnige besoek aan Allesverloren en vriend Danie Malan.

Hierdie twee menere sal ‘n glimlag op enige wynliefhebber se gesig sit.

Wanneer mens Danie se wyne proe, weet jy alles is nie verlore nie! En toe die proelokaal “opdrag” kry oms ons huistoe te stuur, dis nou na Danie-hulle se huis, het ek geweet die dag het ’n goeie kans om lank te word!

En net daar in die Malans se sitkamer het ons die land en die wynbedryf se probleme aangepak, eers oor ’n glas of drie van Allesverloren se Tres Verhelmos, ’n elegante en heerlike versnit van souzao, tinta barocca en touriga nacional. Sy geure van rooi bessies, donker sjokolade en ligte speserye was net die regte “voorsmakie” vir die volgende wyn wat Danie soos wafferse kulkunstenaar na vore gebring het. Die baie spesiale Fanie Malan Fine Old Vintage Reserve 2014 is ’n huldeblyk aan Danie se pa, die vierde geslag Malan op Allesverloren. En wat ’n huldeblyk!

Nodeloos om te sê, ons het toe NIE die land of wynbedryf se probleme opgelos nie, wel deeglik aangespreek, maar dit beteken maar net dat dié probleme weer in oënskou geneem sal moet word, hierdie keer met Allesverloren se ander wyne! Vir meer inligting, besoek www.allesverloren.co.za.

Was dit nie so koud nie …

Hiervandaan is ons terug Ruby Rose toe om bietjie te ontspan voor aandete. Was dit somer sou ons heelwaarskynlik bietjie gaan “afspoel” het in die gastehuis se lekker swembad.

Oor aandete by ’n bekende restaurant in Riebeek Kasteel, waar ons voorheen ’n slag of wat baie lekker ge-eet het, sal ek liewers nie veel sê nie, behalwe dat die plekkie ons nie weer sal sien nie. Met kompetisie wat

‘n Ruby Rose-ontbyt: krag vir die dag!

so groot is, en in ’n tyd wanneer alle restaurante klippe kou om kop bo water te hou, is dit onverskoonbaar dat sulke swak diens en ewe swak kos opgedis word. Gelukkig het die dorp ander eetplekke wat die moeite werd is om te besoek.

Dag 3 van ons besoek het weer eens met ’n stewige ontbyt by Ruby Rose begin. Dit was ook tyd vir afskeid neem, maar ons sal beslis weer op Ruby Rose Country House se nommer druk wanneer ons die Swartland besoek. Daar is nog baie om te sien, ervaar en doen!

Die Jan Smuts Museum buite Riebeek Wes.

Ons eerste besoek was die Jan Smuts Museum net buite Riebeek Wes. Vir diegene wat nie hul geskiedenis ken nie, Jan Christiaan Smuts, gebore op 24 Mei 1870, was ’n prominente Suid-Afrikaanse en Britse Statebond-staatsman, militêre leier en filosoof. Hy was Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika van 1919 tot 1924, en toe weer van 1939 tot 1948. Hy het in 1941 ’n veldmaarskalk in die Britse leër geword en in die Britse oorlogskabinet onder Winston Churchill gedien. Hy was ook die enigste man wat albei vredesverdrae onderteken het na afloop van die Eerste en Tweede Wêreldoorloë.

Smuts is op die familieplaas Bovenplaats gebore. In die vroeë vyftigerjare van die vorige eeu is die plaas deur PPC Cement aangeskaf. Die huis waarin hy gebore is, is in 1984 gerestoureer en weerspieël die tydperk van sy jeug. ’n Buitegebou is in ’n klein museum omgeskep.

Hiervandaan is ons na die Riebeek Valley Garden Centre aan die buitewyke van die dorp. Die kwekery het ook ’n klein kunsgalery en deli/koffiewinkel.

Dit was egter weer tyd vir die nektar van die gode (ek kon sweer ek het ’n vliegtuig herhaaldelik oor die vallei hoor vlieg!) en ons is terug Riebeek Kasteel toe. Ons het vinnig ingeloer by die ruim proelokaal van Riebeek Valley Wine Co en toe na die Wine Kollektiv gestap, ’n paar tree in die straat af, waar mens wyn teen kelderpryse kan koop.

Martin en jors troelie, en Marras Wines se “vrinne-in-‘n-bottel”, goeie vrinne, lekker vrinne!

Hier het Martin “Marras” Lampbrecht van Marras Wines ons ingewag. Martin pak die skuld vir sy liefde vir die lewe en alles wat mooi en heerlik is daarin vierkantig op sy hegte familie. Dis juis sy liefde om lewenservarings te deel wat hom op die wynmaakpad gesit het, sê hy. En ’n Cum Laude in keldertegnologie aan die bekende Elsenburg-landboukollege was beslis nie ’n struikelblok nie.

“Gewapen met die beste resep vir braaibroodjies en hope ambisie” het hy by die legendariese David Nieuwoudt van Cederberg Wines beland, en toe is hy Frankryk toe waar hy in die noordelike Rhône-vallei geleer het dat ’n wynmaker nooit sy eie belangrikheid moet oorskat nie. Hier, voeg hy by, het hy egter ook geleer hoe om wyn te maak wat die geskiedenis van die wingerd en sy mense reflekteer, terwyl die Franse hom bekend gestel het aan sommige van die wyne wat hy op tuisbodem in die Swartland en Piekenierskloof sou herontdek.

Martin se heerlike en baie vriendelike wyne kom ook in hierdie baie handige verpakking voor, ideaal vir pieknieks of as jy net ‘n glasie of twee wil geniet.

“In ruil daarvoor het ek hulle geleer hoe om behoorlik te braai!” vertel hy met ’n breë glimlag.

Martin sê sy wyne is slegs “middele vir die skep van herrinneringe” en niks meer nie. “Of jy ons wyne in jou slaapklere geniet met ’n boereworsrolletjie of gekoller en getaai, die belangrikste is dat jy net jouself moet wees en die lewe geniet.”

Die volgende wyne is tans onder die Marras-handelsmerk beskikbaar:

Piekenierskloof Chenin Blanc

Piekenierskloof Grenache

Swartland Los Tros Chenin Blanc

Swartland Shiraz Cinsault

The Trickster Cinsault

“Was Jou” Hanepoot Dry White

Maar die goeie nuus eindig nie daar nie! Die Los Tros Chenin Blanc en Shiraz Cinsault is ook in baie handige blikkies beskikbaar, vier in ’n pak. Maar groot seblief, drink die heerlike nektar tog uit ’n glas anders nie sal jy die gode beledig!

Nog goeie nuus uit die Marras-kamp is dat Martin ’n heerlike, intieme kuierplekkie in Riebeek Wes beplan, reg langs die kwekery, waar mens nie net sy baie vriendelike wyne kan geniet nie, maar ook iets om te geniet saam met dit, miskien selfs ’n boereworsrolletjie!

Vir meer inligting oor Marras Wines en waar om jou hande op hierdie “gebottelde vriende” te lê, besoek www.marraswines.co.za.

Die tyd het aangestap en ons het aan die einde gekom van ’n heerlike, baie genotvolle en lekker opvoedkundige besoek. Wel, amper want daar was nog tyd vir ’n laaste middagmaal (met wyn natuurlik) voordat ons die pad huiswaarts aangedurf het.

Eight Feet Village bied ligte etes (gekomplementeer deur Kloovenburg se puik wyne) en asemrowende uitsigte op die Riebeek-vallei. Beslis ‘n besoek werd.

Die Eight Feet Village bokant Kloovenburg het pas sy deure oopgegooi vir die publiek en ons is geseën met ’n heerlike, sonnige wintersdag. Onder ’n sonsambreel op die een dek en met panoramiese uitsigte oor die Riebeek-vallei het ons elkeen ’n lipleklekker pizza geniet, ek met een van die landgoed se rooiwyne as metgesel.

Vir meer inligting oor hul spyskaart, besoek www.eightfeet.co.za.

Ander dorpe in die streek wat nie afgeskeep moet word nie, is Moorreesburg, Piketberg en Porterville, en elkeen het ’n interessante storie te vertel.

EINDE

 

 

 

3 thoughts on Het Zwarteland: As jy moeg word vir die lewe in die stad …!

  • How utterly rediculaus and an absolute waste of a well written article. Can you please inform me why it is published in only Afrikaans with no option to translate into English, how very sad, and small minded, would have loved to share this with many friends and customers throughout the UK ,and indeed many parts of the English speaking world, but it would appear you only wish to advertise to a small local market.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>