Hemel-en-Aarde lig sluier op ‘onbesonge helde’

Wanneer daar van die Hemel-en-Aarde-vallei gepraat word, duik die “usual suspects” se name altyd op, daai met die dubbelloopname wat onder in die vallei begin en dan hoër op met die enkelloopname eindig. Maar wanneer mens ’n ware wyn-entoesias is, is jy altyd op soek na die minder bekende, minder kommersiële produsente, dikwels boetiekwynmakerye, wat die “onbesonge helde” van ’n wynstreek is.

Na ’n besoek twee jaar gelede aan die “usual suspects” om uit te vind of hul pinot noirs met dié van Boergondië vergelyk kan word, is besluit om van die vallei se “onbesonge helde” op te spoor na vele navrae aan Planeet Wyn van wynliefhebbers wat die wonderlike reis van ontdekkking en verkenning aangepak het.

Net so terloops, tydens ’n besoek in 2018 aan Frankryk was ons bevoorreg om van dié land se beste pinot noirs te proe by produsente naby Fixin en Baune in Boergondië. Op Clos St-Louis naby Fixin het die eienaar/wynmaker, Philippe Bernard, my so heel toevallig ingelig dat daar uitstekende pinot noirs in Suid-Afrika gemaak word … net vir ienkys ek nie geweet het nie! Hy het veral na Elgin en die Hemel-en-Aarde-vallei verwys. Daarom die besoek aan die “usual suspects” twee jaar gelede.

Ons meer onlangse besoek het hoog op in die vallei by Storm Wines afgeskop, nie net omdat dit ’n nuwe naam vir my was nie, maar omdat twee bekende wynmanne met groot lof van Hannes Storm (regs) se pinot noirs gepraat het.

Die bekende Tim Atkin MW het na Hannes as “one of the world’s greatest pinot noir producers” verwys, terwyl Chris Wilson in Decanter as volg geskryf het oor Hannes se pinot noirs: “Very Burgundian in style, but with a New World flair”. Nodeloos om te sê, my nuuskierigheid was behoorlik geprikkel.

Wanneer dit by Storm Wines kom, is daar goeie nuus én slegte nuus. Die goeie nuus is dat die man kán pinot noir maak! Die slegte nuus is dat sowat 80% na ’n spul lande ver van ons grense af uitgevoer word en dat Suid-Afrikaners dit net by ’n paar plekke in die hande kan kry. Maar meer hieroor bietjie later.

Storm Wines bestaan uit ’n gehuurde gebou wat as kelder dien (daar’s ongelukkig nie ’n proelokaal nie) en drie wingerdblokke elders in die vallei wat aan Hannes die druiwe lewer vir sowel sy pinot noirs as sy chardonnays. Storm Wines is glo die enigste produsent wat pinot noir uit drie verskillende geografiese areas (appellations) waar druiwe verbou word, maak.

Storm Wines produseer drie verskillende pinot noirs – Vrede, Ignis en Ridge. Dan’s daar ook ’n Vrede Chardonnay en ’n Ridge Chardonnay. Al hierdie wyne word in baie beperkte volumes gemaak wat van Storm Wines die klassieke boetiekwynmakery maak.

Maar hoe het dit alles ontstaan? Na 12 oesjare in die Hemel-en-Aarde-vallei waartydens Hannes ten nouste met pinot noir en chardonnay gewerk het, het hy twee lappies grond met uitsonderlike terroir ontdek. Een is in die vallei self en die ander in die Bo Hemel-en-Aarde-vallei, en albei is in 2008 met pinot noir beplant. In 2012 het Hannes sy eerste wyn die lig laat sien, maar die nektar van die gode moes nog eers18 maande in die bottel deurbring voordat hulle in Augustus 2014 bekend gestel is.

“Ons streef daarna om die suiwerste eienskappe van elke wingerd na die bottel te bring,” sê Hannes. “Kleinskaalse produksie, noukeurige wingerdboupraktyke, minimale inmenging in die kelder en ’n volgehoue erkenning aan die Ou Wêreld bied aan ons wyne hul kenmerkende persoonlikheid en karakter.”

Amen!

O ja, ek sal beslis moeite doen om een van Hannes Storm se wyne in die hande te kry. As jou wynreis van ontdekking nog nie ’n storm beleef het nie, kontak Storm Wines op 028 125 0073 of hannes@stormwines.co.za. Jy sal nie spyt wees nie.

Ons tweede besoek sou by Restless River Wines gewees het, so ’n paar honderd meter in die pad af, maar aangesien dit reg in die middel van die oes was en ’n geval van “all hands on deck” vir hierdie boetiekwynmakery, het ons maar verby gery. Ek het egter bietjie gaan kers opsteek by mense wat baie meer van wyn weet as ek en vir Craig en Anne Wessels ken. Verder het Google bygedra tot my “kennis” van dié produsent.

Honderde jare gelede was die Hemel-en-Aarde-vallei glo bekend as Attacquaskloof. In 1760 het ene Wessel Wessels en sy gesin hulle hier kom tuismaak. Sommige mense meen dis Wessel wat die vallei sy huidige naam gegee het.

Snel 244 jaar vorentoe tot in 2004 en Craig en Anne Wessels koop ’n klein gedeelte van Wessel se oorspronklike plaas, en sodoende keer die naam van die oorspronklike setlaar terug na die vallei.

Craig se passie is boerdery en hy is ook die wynmaker op hierdie boetiek-wynplaas. Anne deel in sy passie en sorg vir die besigheidskant van die onderneming.

Van die oudste cabernet sauvignon- en chardonnay-wingerde in die vallei kan glo op Restless River Wines gevind word. Die eerste druiwe is in 1998 aangeplant. Pinot noir het in 2013 gevolg. Aangesien die grondsoorte op die plaas uiters uiteenlopend is, is elke blok wingerd uniek.

Ek word vertel dat Craig se benadering tot wynmaak onkonvensioneel en selfs redelik ekstreem is, maar fyn oorweging lê aan die basis van al sy besluite, en hy word glo gelei “meer deur sy sintuie as wetenskap”.

Die eerste wyn het in 2012 die lig gesien en gou internasionaal die wenkbroue laat lig.

Wynproe op Restless River Wines is glo ’n hoogs persoonlike ervaring. Die stoep van die Kaaps-Hollandse herehuis dien ook as “proelokaal” waar Craig en Anne (links) hul gaste onthaal. Maak gerus ’n afspraak by 082 650 3544 of anne@restlessriver.com. Miskien sal ek eendag die voorreg hê om saam met die Wesselse op daai stoep ’n glasie of meer te klink.

Dit was tyd vir middagete en ons is verder in die vallei af na La Vierge – wat “die maagd” in Frans beteken – wat mens net van die pad af kan mis as jy skeel of blind is! Die imposante kelder/proelokaal/restaurantkompleks staan uit soos ’n baken.

Op die ruim “dek” met sy asemrowende uitsigte oor die vallei tot so ver as Walkerbaai het ek dié landgoed se wyne geproe, wyne met tong-in-die-kies-name wat mens onwillekeurig aan die lustige en sondige stories van die Bybelse stede Sodom en Gomorra laat dink. Jezebelle, Original Sin, Last Temptation, The Redemption. En dit was maar net die wittes! Onder die rooies het The Affair, Seduction, Nymphomane en Royal Nymphomane my smaakkliere saam met my mond breed laat glimlag.

Barry Henn, La Vierge se Proekamerbestuurder, het hom deeglik van sy taak gekwyt en elke wyn met oorgawe aan my bekend gestel. Sy vriendelike en professionele aanbieding het die proe net soveel aangenamer en genotvoller gemaak.

La Vierge se wingerde is nie by die kompleks self nie, maar so 10 km verder op in die vallei op die plaas Babylon. Daar is 10 verskillende kultivars aangeplant, waaronder pinot noir en chardonnay (hoe dan anders!), sauvignon blanc, sangiovese, shiraz, merlot, semillon en riesling.

Na die proe is ons na ons tafel binne die restaurant vir middagete, en met een oog op die panoramiese uitsig en die ander op die heerlike kos en ’n komplimentêre bottel van The Affair Pinot Noir het ons gesels oor die aangename verrassings wat die vallei reeds daai dag opgelewer het. En die dag was nog nie eers verby nie!

My voorgereg – ’n interessante en heerlike carpaccio – het die ideale maat in die Pinot Noir gevind, terwyl my hoofgereg – “very rare” biefstuk (soos ek daarvan hou) met ’n sampioensous, groenvy en aartappelskyfies – en die rooietjie gesorg het vir ’n breë glimlag wat van my mond tot my maag gestrek het. Vroulief se pastagereg het ook die groen lig gekry. In die gevleuelde woorde van Arnold Schwarzenegger: “We will be back!”

Ons het die dag afgesluit by een van die wynbedryf se bekendste karakters, Bartho Eksteen, byna heel onder in die vallei. Bartho praat soos Theuns Jordaan sing, met so ’n diep, growwe stem, maar hy maak net baie mooier “musiek” as Theuns! Elkeen van sy wyne bring ’n lied na jou hart.

Mnr. Sauvignon Blanc (links) was besig om ’n rooskleurige wyntjie by sy kelder op te toor toe ons daar aankom, maar hy het nogtans tyd aan ons afgestaan.

In MANÁ – waar gaste nie net kan wyn proe nie, maar ook ligte etes kan geniet en lekkernye soos gepiekelde groente, konfyte en varsgebak kan aanskaf – het ons om ’n tafel “vergader” om na Bartho te luister en wyn te proe, van sy sjampanje wat hy DOM noem en sy gehoute Sauvignon Blanc, genaamd HOUTSKOOL, tot die Wijnskool Tree of Knowledge Sauvignon Blanc en sy lipleklekker edellaatoeswyn van sauvignon blanc, wat dan anders!, wat SOETMUIS heet.

Maar Bartho Eksteen gaan nie net oor sauvignon blanc nie. Aikôna! Hy het ook vir BLOM en OUSKOOL, Rhône-styl rooiwyne, PROFESSORE, ’n Kaapse versnit (wat deur pinotage gedryf word) en Nosotros Malbec, en daar is ook ’n Wijnskool Tree of Knowledge Shiraz.

So tussen die geproe en gesels deur het dit duidelik geword dat Bartho se kop vol planne is, dat hy nie ’n man is wat op sy louere rus nie. Dink onder meer aan pinot noir!

As ek hierdie wynplaas en alles wat hy bied, moet beskryf, kom wyle Jan Spies se gevleuelde woorde onmiddellik op, naamlik “pure plaas”! Hier’s geen pretensie nie, dis net luilekker uitspan en ontspan, vir die hele gesin, met Suné (Bartho se beter helfte) se smaaklike eetgoed en Bartho se tongtergende wyne. En as jy plek soek vir ’n lekker makietie, hou die Mill House & Petanque Garden gerus in gedagte.

Vir enige navrae, skakel 072 323 5060 of stuur ’n epos aan mana@hermanus.co.za, of besoek www.barthoeksteen.co.za.

EINDE

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>