Heerlike kos, lekker wyn en hope avontuur wag in die Durbanville-wynvallei

Breek ’n slag weg en gaan drink, smul en ontdek een van die Kaap se opwindendste bestemmings, Kaapstad se noordelikste wingerde rondom Durbanville, net 20 minute van die middestad af.

“Die Durbanville-wynvallei was nog altyd gewild onder besoekers – van dagbesoekers tot reisigers wat meer van die Kaap wil geniet. Ons vallei bied ’n veilige alternatief vir wegbreke ná aan die huis,” sê Natasha de Villiers, die Durbanville-wynvallei (DWV) se nuut-aangestelde bestuurder.

Die vallei is ’n gewilde bestemming vir buitelug-liefhebbers vir onder meer sy wye reeks wyn-en-kos-ervarings. En die bonus is dat dit heeljaar beskikbaar is – ongeag die seisoen.

“Die streek se bekoring lê in die vallei se gasvryheid,” sê Natasha. “’n Varswaterfontein het Durbanville in vervloë dae ’n gewilde oornagplek vir ontdekkers, transportryers en plaaslike boere gemaak. Reisigers tussen die kus en binneland het dikwels hier vertoef om hul voorraad aan te vul.”

Hierdie besoekers se behoeftes het gou die geleentheid vir aanbiedings verbeter en beesboerdery is aangevul met koring-produksie. Wingerde – en toe ’n klein dorpie – het gevolg. Die naam Durbanville – ter ere van die destydse Kaapse Goewerneur, Sir Benjamin d’Urban – is in 1886 amptelik aangeneem.

Die Durbanville landskap met sy golwende valleie en heuwels is ’n magneet vir buitelug-entoesiaste. Onder die vele aktiwiteite is meer as 170km se bergfietsroetes wat die wingerde en wildernisgebiede deurkruis, terwyl plaaslike natuurreservate die ideale plek is vir pieknieks en voëlkyk. Uitsonderlike uitsigte is deel van elke besoek.

Feeste en spesiale gebeure is ook ’n gereelde aantrekking en baie plekke, waaronder wynkelders, maak hul programme op die kalender op www.durbanvillewine.co.za bekend.

“Tans is ons besig met die beplanning van ’n winter-veldtog. Plase sal sop en wyn in hul proelokale bedien,” sê Natasha. “Ons wil ook ’n ‘Smul Durbanville’-maand aanbied om die uitmuntende wynplase en restaurante in die kollig te plaas.”

Die streek het ’n wye verskeidenheid interessante eet-opsies. Geniet ’n ligte middagete onder die akkerbome of smul in die knus luuksheid van omskepte wyntenks. Ontgin kontemporêre kookkuns met klassieke wyne of geniet jou eie piekniek op ’n uitgestrekte grasperk onder die majestieuse blou hemelruim.

Drink Durbanville

Die Durbanville-wynvallei is die tuiste van sommige van Suid-Afrika se bekendste wynkelders wat met ’n lang geskiedenis van bekroonde wyne spog wat in die streek se koel klimaat en diverse terroir en hellings hul ontstaan het. Dit sluit Altydgedacht, Bloemendal, Canto, D’Aria, Diemersdal, De Grendel, Durbanville Hills, Hillcrest, Klein Roosboom, Loch Lynne, Maastricht, Meerendal, Nitida, Groot Phesantekraal en Signal Gun in.

Die wynmaak-tradisie word hier reeds sedert die einde van die 17de eeu geslyp. Die streek se oudste wingerd – pinotage – is in 1955 geplant en dra steeds vrugte wat wêreldklaswyne lewer. Hoewel die vallei oor die algemeen bekend is vir sy uitmuntende sauvignon blanc, wat jaarliks vereer word met die Season of Sauvignon-fees, gedy ander kultivars ook hier. Een van Suid-Afrika se mees ikoniese wyne, die George Spies Cabernet Sauvignon van die 1960s, het sy geboorteplek hier.

Besoek www.durbanvillewine.co.za of stuur ’n epos na info@durbanvillewine.co.za vir meer inligting oor die Durbanville-wynvallei.

Haak en volg die Durbanville Wynvallei om die jongste nuus oor gebeure te kry. Vind @DurbanvilleWine op Twitter, Facebook en Instagram.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>