Hazendal stel De Haas-wynreeks bekend

Date posted:
May 12, 2011

Hazendal, die geskiedkundige wynlandgoed aan die voet van die pragtige Bottelaryheuwels naby Stellenbosch, het met trots sy “haas”-reeks, De Haas-wyne, bekend gestel. Hierdie reeks bestaan uit ‘n witwyn, ‘n rosé en ‘n rooiwyn. Hierdie nuwe reeks, die eerste Hazendal-wyne met skroefdoppe, bied uitstekende waarde teen ‘n uitstekende prys.

Die De Haas-reeks, ontwikkel deur die man- en vrouspan van Colin Frith, hoofbestuurder van die wynafdeling, en Ronell Wiid, bekende wynmaker, is slaggereed om die pad te vat. Die reeks is landwyd by vooraanstaande drankwinkels beskikbaar teen slegs R35 per bottel.

Die Hazendal De Haas White is ‘n versnit van chenin blanc van ou bosstokwingerde (55%) en sauvignon blanc (45%) wat die lewendige suur en varsheid van die sauvignon blanc en die sappige tropiese vrugte van die chenin blanc vertoon. Die wyn is heerlik op sy eie, maar kombineer goed met oesters; soesji; lynvis; ligte, romerige pastas; hoenderdisse en vars tuinslaai.

Die De Haas Rosé, wat hoofsaaklik van merlot gemaak is, het ‘n pragtige kersiebloeiselkleur, uitlokkende aromas van roosblare en aarbeie en room, en sagte, sappige vrugtegeure. Met 7.5 g/l se ressuiker wat dit aanloklik effedroog maak, is die De Haas Rosé die ideale aptytwekker, maar ook ‘n goeie pasmaat vir kaviaar, soesji, gerookte salm, kreef en Kaaps Maleise of Thai-disse.

Hazendal se De Haas Red is ‘n sagte versnit van klassieke rooi kultivars: 51% shiraz, 27% merlot, 22% cabernet sauvignon. Dit stel ‘n sappige potpourri van ryk pruim- en bessiegeure met so ‘n titsel speserye vry. Dis ‘n wyn vir elke geleentheid en is net so tuis op die etenstafel as by ‘n vleisbraai. Dis die perfekte metgesel vir die meeste vleisgeregte, vleisagtige vis soos salm of tuna en is heerlik saam met pizza of pasta.

Hazendal se naam kom van sy eerste eienaar, Christoffel Hazenwinkel, af. Hazenwinkel het in 1686 uit Duitsland na Suid-Afrika gekom om vir die Nederlands Oos-Indiese Maatskappy te werk. In 1699 het Goewerneur Willem Adriaan van der Stel 60 hektaar grond aan hom toegeken en in dieselfde jaar het hy die eerste wingerdstokke op Hazendal geplant.

Die nuwe De Haas-wynreeks verkry ook sy naam van Christoffel Hazenwinkel. “Hazen” is die meervoud van “haas”, en volgens oorlewering was hase volop op Hazendal in die vroeë jare.

Volgens die Chinese se astrologiese kalender  is 2011 die Jaar van die Haas. Dit het op 3 Februarie begin en eindig op 22 Januarie 2012. Die haas lei ‘n nuwe jaar in wat positief en inspirerend is, aldus Chinese tradisie, asook ‘n jaar van diplomasie, kreatiwiteit en hoop, “groen” lewe en persoonlike ontwikkeling, met ‘n hernude waardering vir geliefdes en vriende. Daarom is die Hazendal-span se wens vir alle vriende en ondersteuners om ‘n vreedsame enverrykende Jaar van die Haas te ervaar.

Pure plaas! Die pragtige werf van die geskiedkundige Hazendal-wynlandgoed aan die voet van die Bottelary-heuwels naby Stellenbosch.

Hazendal is een van die oudste wynplase in Suid-Afrika. Die plaas het oor die eeue heen talle kere van eienaar verwissel, maar daar is deurgaans wyn van gehalte gemaak. In 1994, toe die plaas taamlik verwaarloos was, is Hazendal deur sy huidige eienaars, die Russies-gebore entrepreneur, dr. Mark Voloshin, en Leo Schumacher, aangeskaf. Hulle het begin deur die geskiedkundige geboue te restoureer en sodoende die plaas tot sy eertydse glorie herstel.

Met die wynkundigheid van Colin Frith en Hazendal se nuwe wynreeks is daar groot opgewondenheid oor die landgoed se wyne in die bedryf. Daar word ‘n groot opgradering van die kelder en wingerde beplan om Hazendal se wyne na opwindende, nuwe hoogtes te neem.  Hierdie ontwikkelings sluit in die installering van nuwe tenks in die kelder, die aanskaf van ‘n koelhouer vir die 2011-oes, voortgesette navorsing na die beste Franse eikehout om die landgoed se wyne te komplementeer en die kies van wingerde wat vervang moet word. Hou dus gerus hierdie ruimte dop!

Die huidige oesjare van Hazendal se ander wyne:

        Hazendal Sauvignon Blanc 2010

        Hazendal Chenin Blanc Wooded 2008

        Hazendal Bushvine Chenin Blanc 2009

        Hazendal Blanc de Noir 2010

        Hazendal Shiraz 2008

        Hazendal Shiraz Cabernet Sauvignon 2007

        Hazendal Merlot 2007

        Hazendal Reserve Red 2008

        Hazendal White Nights Brut Cap Classique 2007

        Hazendal The Last Straw 2007 – bekroonde dessertwyn gemaak van luggedroogde chenin blanc van 30-jaaroue bosstokke

        Marvol Pinotage Limited Release 2007

Behalwe wynproe in die oorspronklike kelder, wat ‘n manjifieke sitkamer en kaggel insluit, bied Hazendal ook die volgende: ‘n moderne kelder, plaastoere, die Hermitage Restaurant, piekniek in die somer en die Marvol Museum  van Russiese kuns en kultuur. Hazendal bied ook die ideale plek vir troues, konferensies en spanbou.

Hazendal is sewe dae per week oop vir wynproe en toere. Die restaurant is slegs op Maandae toe.

Kontakbesonderhede:

Tel: 021-903-5112

Epos: info@hazendal.co.za

Webblad: www.hazendal.co.za

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram