The Stork, Hartenberg se uitdrukkingsvolle enkelwingerd-shiraz bekend vir sy ryk kompleksiteit, het vir twee agtereenvolgende maande skitterende resensies in gesaghebbende Britse en Amerikaanse wynpublikasies behaal. Die Hartenberg-wynlandgoed is een van Suid-Afrika se voorste en oudste produsente van hierdie spesifieke druifvariëteit.
In die Januarie-uitgawe van die VK se Decanter-tydskrif sonder Tim Atkin the 2005-oesjaar uit as die enigste shiraz om ingesluit te word by sy lys van 25 wyne wat “die kroon span op dit wat Suid-Afrika kan bied.” In die VSA het James Molesworth dié wyn met 92 punte beloon in die Februarie-uitgawe van Wine Spectator Insider.
Atkin beskryf die wyn as 'n “Nuwe Wêreld”-styl en “een van slegs 'n handjievol aangrypende syrahs wat in die Kaap gemaak word”, terwyl Molesworth gek is oor die gevoel wat die wyn op die tong laat en die “heerlike kern van damaspruim, vye en boysenbessie, afgerond met sweempies van pikante yster en speserye.”
“Die ligging van The Stork se wingerd verleen onmiddellike 'voor op die wa'-geure en 'n rykheid wat eindig met `n veelomvattende smaak,” is hoe Carl Schultz, Hartenberg se wynmaker, die gevierde enkelwingerdwyn beskryf.
Hartenberg se Shiraz, wat reeds vir sowat 40 jaar uitstekend presteer, is gereeld in die kollig met toonaangewende plaaslike sowel as internasionale toekennings en geniet ongeëwenaarde aansien vir uitmuntende en aanhoudende gehalte.
The Stork is die jongste lid van Hartenberg se shiraz-drietal. Die ander twee wyne in dié trio is Gravel Hill, Suid-Afrika se eerste enkelwingerd-shiraz, en die oorspronklike Estate Shiraz wat tans in sy 36ste oesjaar is.
Hartenberg The Stork 2005 is teen R410 per bottel by die kelder beskikbaar, asook by boetiekwynwinkels en uitgesoekte fynproewerrestaurante.
Die Hartenberg-wynlandgoed is geleë op die Bottelarypad buite Stellenbosch. Die kelder is sewe dae van die week oop vir wynproeë, pieknieks en 'n staproete langs vleilande, terwyl besprekings 'n moet is vir keldertoere.
Vir meer besonderhede, skakel 021-865-2541, stuur 'n epos aan info@hartenbergestate.com of besoek www.hartenbergestate.com.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast