Hartenberg stel toeganklike Doorkeeper Shiraz bekend

Date posted:
May 16, 2012

Hartenberg, een van Suid-Afrika se voorste en oudste produsente van shiraz-wyne, geleë in die hartjie van Stellenbosch se wynlande, het pas ‘n splinternuwe dog bekostigbare shiraz, die Doorkeeper Shiraz 2010, by hul bekroonde shiraz-stamboom gevoeg.

 

"Ons Doorkeeper Shiraz versinnebeeld Hartenberg Shiraz in ‘n jonger, moderne en meer treffende styl. Die wyn is bedoel om die pragtige en opvallende vrugte-aromas en -geure van dié druifsoort ten toon te stel, " sê Hartenberg se wynmaker, Carl Schultz, wat al die afgelope 19 jaar by die landgoed is en al van die land se beste shiraz-wyne geskep het.

 

Die Doorkeeper Shiraz 2010 wyn word gemaak van druiwe vanuit die jonger shiraz-wingerde op die landgoed wat ‘n wonderlike uitdrukking van dié druifsoort bied en ook die wyn vroeër toeganklik maak. Anders as Hartenberg se bekende shiraz-trio wat uit The Stork, Gravel Hill en die Estate Shiraz bestaan en vir vier tot vyf jaar in die bottel verouder word voor die wyne vrygestel word, word die Doorkeeper slegs twee jaar verouder.

 

Die etiket op die Doorkeeper Shiraz se bottel is ‘n uitbeelding van Hartenberg se ryk erfenis wat tot 1692 terug dateer en spog met die oorspronklike ‘doorkeep’, oftewel die deurklopper wat op die historiese deure van Hartenberg se bekende ondergrondse kelder verskyn.

 

Hierdie diep, swart-rooi wyn bederf die neus met ryk, gekonsentreerde spesery-, sjokolade- en viooltjiearomas en het 'n ryk, maar subtiele smaak wat geroosterde koffie- en vanieljegeure onthul en lank op die tong talm. Met die sagte, ryp tanniene wat genoegsame struktuur aan die wyn verleen, kan hierdie wyn foutloos met geurige wildsvleis-, lam- en beesvleisgeregte geniet word.

Die Doorkeeper Shiraz 2010 is teen R70 by die kelder beskikbaar, asook by boetiekwynwinkels en uitgesoekte restaurante landwyd.

 

Proe die Doorkeeper en vele ander uitstekende shiraz-wyne by die Fees van Shiraz & Charcuterie op Hartenberg op Saterdag, 2 Junie, vanaf 12h00 tot 17h00. Kaartjies kos R180 per persoon, sluit kos en wynproeë in en kan by www.webtickets.co.za verkry word. Vir meer inligting, skakel gerus 021-865-2541, stuur ‘n epos aan info@hartenbergestate.com of besoek www.hartenbergestate.com.

 

Einde

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram