Hartenberg stel nog 'n klassieke, tydlose Shiraz bekend

Date posted:
April 13, 2011

Hartenberg, een van Suid-Afrika se voorste en oudste produsente van shiraz geleë in die hartjie van Stellenbosch se wynlande, het die jongste klassieke en tydlose toevoeging tot sy gevierde shiraz-reeks, die Hartenberg Estate Shiraz 2007, bekend gestel.

 

Dié wyn, wat vir 20 maande in nuwe en tweedevul- Franse eikehoutvaatjies verouder is gevolg deur 'n verdere twee jaar in die bottel in Hartenberg se alombekende ondergrondse kelder, is nou reeds heerlik drinkbaar, maar kan selfs meer mollig en volrond raak as dit vir nog agt jaar gebêre word.

 

Hartenberg se shiraz, wat reeds vir die afgelope byna 40 jaar uitstekend presteer, geniet ongeëwenaarde aansien vir hul uitmuntende en veral aanhoudende gehalte. Die vermoë om grasieus te verouder, is 'n algemene kenmerk eie aan al 37 oesjare wat tot op hede by Hartenberg gemaak is. Baie van die ouer wyne het so goed behoue gebly dat dit selfs nou 20 en 30 jaar later steeds drinkbaar is. Vir Carl Schultz, Hartenberg se bekroonde wynmaker van die afgelope 18 jaar, is dit die beslissende maatstaf vir gehalte.

 

Hartenberg se indrukwekkende ondergrondse verouderingskelder – die grootste kelder in sy soort in privaat besit in Suid-Afrika – het 'n kapasiteit wat oor die 150 000 bottels kan huisves. Dit stel Carl in staat om sy rooiwyne terug te hou en sodoende onder optimale omstandighede vir vier jaar te verouder voor hy dit vrystel.

 

“Ons voel dat die Shiraz selfs na vier jaar se veroudering 'n mens net 'n skramse blik gee op die potensiaal wat in die bottel weggesluit is,” sê Carl.

 

Hartenberg se Estate Shiraz is 'n kombinasie van topgehalte druiwe afkomstig van verskillende grondtipes van regoor die plaas wat elk sy individuele karaktereienskappe en geure aan die wyn verleen.

 

Die vorige 2006-oesjaar het uitgeblink as die “beste nuwewêreldwyn” op die 2010- Zurich Internasionale Wynkompetisie in Switserland, en met die ongelooflike koel toestande en kleinste oes in baie jare, troon die 2007-oesjaar reeds uit met sy wonderlike elegansie en geparfumeerde vrugtegeure.

 

Die Hartenberg Estate Shiraz 2007 spog nou ook met 'n vars nuwe voorkoms – steeds met die ikoniese afbeelding van die Hartenberg-plaas, maar nou meer byderwets met 'n kontemporêre gevoel en meer elegansie soos dit hierdie tydlose, klassieke wyn betaam.

 

Die 2007-oesjaar is 'n weelderige, toonaangewende Shiraz met 'n uitstekende struktuur en ryk, gekonsentreerde speserygeure met moerbeie wat ondersteun word deur subtiele tanniene. Die wyn is teen R130 by die kelder beskikbaar, asook by boetiekwynwinkels en uitgesoekte restaurante landwyd.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram