Hartenberg stel 2006-oesjaar van sy staatmaker-shiraz bekend

Date posted:
March 19, 2010

Die Hartenberg-wynlandgoed, een van Suid-Afrika se voorste en oudste produsente van shiraz en geleë in die hartjie van Stellenbosch se wynlande, het so pas die langverwagte 2006-oesjaar van sy staatmaker vir meer as 36 jaar, die Hartenberg Estate Shiraz, bekend gestel.

Hierdie Hartenberg Shiraz, wat reeds vir die afgelope byna 40 jaar uitstekend presteer, vind ook internasionaal groot byval by meeste van die wêreld se strengste wynbeoordelaars. Die eerste Hartenberg Shiraz is van die 1974-oesjaar gemaak en die landgoed se wyne van hierdie kultivar geniet vandag steeds ongeëwenaarde aansien vir uitmuntende en aanhoudende gehalte.

Die 2006-oesjaar het 'n uitstekende struktuur en 'n oorvloed ryk vrugtegeure met speserye, lelies en rooiaalbessie wat heerlik saamgesnoer word in die neus. Die wyn is vir twee jaar in Franse eikehoutvaatjies (50% nuut, 50% tweedevul) verouder voor dit gebotteleer is en vir 'n verdere twee jaar in Hartenberg se indrukwekkende, temperatuurbeheerde, ondergrondse verouderingskelder laat lê is.

Die shiraz, wat nou reeds drinkbaar is, sal egter net verbeter en selfs meer volrond raak as jy dit vir tot nog twaalf jaar bêre. Die Hartenberg Estate Shiraz 2006 is teen R130 per bottel by die kelder beskikbaar, asook by boetiekwynwinkels en uitgesoekte fynproewerrestaurante.

“As ons nou terugkyk, was dit 'n fantastiese visie om in die laat sestigerjare van die vorige eeu shiraz op Hartenberg aan te plant in 'n era toe cabernet sauvignon eintlik hoogty gevier het,” vertel Carl Schultz, Hartenberg se wynmaker vir die afgelope 17 jaar, wat baie bevoorreg voel om die Kaap se beste shiraz-wingerde tot sy beskikking te hê.

Die vermoë om grasieus te verouder, is 'n algemene kenmerk eie aan al 36 oesjare wat tot op hede by Hartenberg gemaak is. Baie van die ouer wyne het so goed behoue gebly dat dit selfs nou, 20 en 30 jaar later, steeds heerlik drinkbaar is. Vir Carl is dit die beslissende maatstaf vir gehalte.

Oor die jare heen het Hartenberg se onderskeie shiraz-versorgers tot die slotsom gekom dat hul wyn tyd nodig het om tot hul volle reg te kom. Daarom stel Hartenberg eers sy shiraz vier jaar na die oesjaar bekend.

“Ons voel dat die shiraz selfs na vier jaar se veroudering 'n mens net 'n skramse blik gee op die potensiaal wat in die bottel weggesluit is,” voeg Carl by.

Deesdae maak Hartenberg drie uitstaande voorbeelde van shiraz - Gravel Hill Shiraz, The Stork en die Estate Shiraz - met elkeen wat uiting gee aan hul eie individualiteit en unieke karakter. Die verskil in styl van die wyne kan toegeskryf word aan die ervaring van die wingerdspan wat al vir die afgelope 15 jaar Hartenberg se lande bewerk en so die subtiele verskille in karakter en hoe die onderskeie “terroir” op die landgoed uiting gee aan die variëteit, leer ken het.

“Aan die een kant gaan die Gravel Hill Shiraz oor lineêre tanniene, wonderlike lengte en 'n bewese vermoë om goed te verouder. Daarenteen verleen die ligging van The Stork se wingerd onmiddellike 'voor op die wa'-geure en 'n rykheid wat eindig met 'n veelomvattende smaak,” is hoe Carl sy twee enkelwingerd-shirazwyne beskryf.

Gravel Hill, die eerste enkelwingerd-shiraz wat in Suid-Afrika in 1995 gemaak is, was oorspronklik slegs bestem vir die veiling van die Kaapse Wynmakersgilde en word gekenmerk as die wyn wat die langste op die veiling aangebied is. Carl is al sedert 1996 'n lid van die gilde en sy spesiale veilingwyne sluit tans 'n riesling en merlot in.

The Stork, die jongste toevoeging tot Hartenberg se shiraz-reeks, het pas vir twee agtereenvolgende maande skitterende resensies in gesaghebbende Britse en Amerikaanse wynpublikasies behaal. In die Januarie-uitgawe van Decanter sonder Tim Atkin die 2005-oesjaar uit as die enigste shiraz om ingesluit te word by sy lys van 25 wyne wat “die kroon span op dit wat Suid-Afrika kan bied”,terwyl James Molesworth dié wyn met 92 punte beloon het in die Februarie-uitgawe van Wine Spectator Insider.

Hierdie twee wyne word perfek aangevul deur die oudste lid van die trio, die oorspronklike Estate Shiraz, wat gemaak word van die oorblewende shiraz-wingerde op die plaas wat elk uiting gee aan sy individuele karaktereienskappe en sodoende lewe gee aan dié toonaangewende wyn.

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram