Hartenberg Sauvignon Blanc wen goud in Brussel

Date posted:
May 10, 2010

Hartenberg het homself luidkeels aangekondig op die 2010- Concours Mondial de Bruxelles toe hy ‘n goue medalje vir sy dinamiese 2009- Sauvignon Blanc los geslaan het. Internasionale beoordelaars van hierdie vooraanstaande jaarlikse kompetisie in Brussel het gegons oor dié wyn van die 2009-oes, ‘n oesjaar wat deur vele beskou word as een van die bestes nog wat die sauvignon blanc-variëteit betref.

 

Sowat 7 000 wyne het deurgeloop onder ‘n streng paneel internasionale wynkenners van bykans 40 lande, wat volgens die organiseerders veelsydigheid aan die kompetitise verleen en die uniekheid van die geleentheid waarborg.

 

Die Hartenberg-medaljewenner dek feitlik die volle sauvignon blanc-spektrum wat aromas betref, insluitende gras, groenvye, aspersies en tropiese vrugte. Die agt maande wat die wyn op die afsaksels deurgebring het, het daaraan ‘n kompleksiteit in die mond verleen met “‘n dinamiese intrapslag wat in ‘n volrondheid op die middelpalet ontaard en afgerond word met ‘n lang, romerige nasmaak”, verduidelik die wynmaker, Carl Schultz.

 

Die druiwe is afkomstig vanaf twee wingerde wat aan die hoër, koeler hellings van die bekende Stellenbosch-wynlandgoed geleë is, “ideaal vir dié Eskimo-variëtiet”, soos dit deur Carl beskryf word, en kan nog vir die volgende drie jaar ten volle geniet word.

 

Die Hartenberg Sauvignon Blanc 2009 verkoop teen R67.00 per bottel op die landgoed, asook by uitgesoekte restaurante en wynhandelaars landwyd.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram