Harry die grootvoet maak ‘n Boplaas-wyntjie of twee

Date posted:
September 17, 2009

Oukei, dis nie meer ‘n nuwe, vars storie nie, maar ek geniet dit elke keer as ek dit lees en na die foto kyk! So, hier’s hy vir diegene wat hom nog nie gesien het nie.

 

Vir duisende jare het mense gehelp om wyn te maak deur druiwe met hulle voete te trap. Die voet is glo die beste manier om druiwe te trap en te breek aangesien dit byvoorbeeld nie die pitte breek wat ‘n galsterige smaak kan veroorsaak nie. Dit is egter ‘n langsame manier van wyn maak en in vandag se gejaagde lewe word moderne masjiene ingespan om die voet se werk te doen.

 

So nou en dan egter kom ‘n wynmaker met ‘n nuwigheid vorendag wat die koppe laat draai. So het die Nels van Boplaas in die Klein Karoo besluit dis tyd om weer ‘n slag die voet in te span, maar nie sommige enige voet nie. ‘n Groot voet, ‘n regte grootvoet!

 

Vir die eerste keer in die geskiedenis van wynmaak het ‘n olifant met die proses gehelp deur druiwe te trap. Die getrappery het by die Knysna Elephant Park plaasgevind waar Harry die olifant vir drie weke opgelei is om hierdie joppie te doen. 

 

Harry, wat 23 jaar oud is, het glo ‘n groot liefde vir druiwe, veral chardonnay, pinotage en cabernet sauvignon. Mens kan amper sê Harry is ‘n wynkenner, ‘n ware wynmeester! Hy het per slot van sake die neus daarvoor! En die mond!

 

Voor die getrap begin het, is Harry se voete eers goed skoon gemaak. Gedurende die proses kon hy nie die versoeking weerstaan om homself te beloon vir sy harde werk nie en elke dan en wan druiwe met sy slurp uit die bak gegaps.

 

Die druiwe en sap is na Boplaas vervoer waar dit verder verwerk is in die wynmaakproses. Twee wyne is daarvan gemaak, ‘n Boplaas Elephant Rosé 2008 en ‘n Boplaas Elephant Chardonnay 2008. Albei is versnitte van druiwe wat tradisioneel bewerk is en Harry s’n.  Die wyne is met ‘n spesiale etiket vrygestel en bemark deur geselekteerde restaurante en drankwinkels.

 

‘n Deel van die opbrengs van die verkope word geskenk aan olifantnavorsing en -bewaring. 

 

Vir meer inligting, besoek www.boplaas.co.za of www.knysnaelephantpark.co.za.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram