Gunstige seisoen, besonderse wyne!

Wynliefhebbers kan uitsien na uitsonderlike wyne van Suid-Afrika se 2020-wyndruifoes danksy gunstige weerstoestande regdeur die seisoen. Dít volgens die Suid-Afrikaanse wynbedryf se Wynoesverslag 2020.

“Hoewel dit altyd belangrik is om die diversiteit van ons tien wyndruifverboustreke in ag te neem, het ons bedryf oor die algemeen ʼn baie goeie seisoen ervaar wat ons glo wyne van uitsonderlike gehalte na verbruikers sal bring,” sê Conrad Schutte, konsultasiediensbestuurder van die wynbedryf se verteenwoordigende liggaam, Vinpro.

Die 2020-oes word op 1 349 883 ton beraam, volgens die bedryfsliggaam SAWIS (Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting & -Stelsels) se mees onlangse skatting op 24 April 2020. Dit is 8.2% groter as die 2019-oes.

Weerstoestande was oor die algemeen gunstig en die trosgetalle het vroeg in die seisoen belowend gelyk, maar winderige toestande gedurende die set- en sensitiewe korrelgroeistadiums het tot kleiner korrels en ʼn ligter oes in sekere gebiede bygedra. Die seisoen is ook gekenmerk deur groot variasie tussen wingerdblokke, en selfs in dieselfde wingerdblokke, wat droë toestande ervaar het.

Die Stellenbosch-, Swartland-, Kaap-Suidkus-, Paarl- en Breedekloofstreke het almal meer wyndruiwe as in 2019 ge-oes, en die Olifantsrivierstreek het bykans weer na sy normale produksievlakke teruggekeer nadat hierdie een van die streke was wat die ergste deur die onlangse droogte getref is. Die Klein Karoo gaan steeds swaar gebuk onder die voortslepende droogte wat ook in sekere dele van die Robertsonstreek ervaar is, terwyl rypskade tot groot oesverliese in die Noord-Kaap gelei het.

COVID-19

Hoewel parstyd sowat twee weke vroeër as gewoonlik afgeskop het, het die onverwagse aankondiging van die COVID-19-inperking wat op 26 Maart in werking getree het daartoe gelei dat heelwat produsente moes skarrel om die laaste druiwe vir die seisoen te pars en om die wynmaakprosesse in die kelders te finaliseer. Wynverwante aktiwiteite is aanvanklik verbied, maar die regering het op die nippertjie ʼn toegewing gemaak dat oes- en bergingsaktiwiteite, wat noodsaaklik is om die vermorsing van primêre landbouprodukte te verhoed, gedurende die inperkingstyd wel toegelaat word. Ten tye van dié aankondiging moes sowat 40 000 ton wyndruiwe nog gepars word.

“Weens onsekerheid rondom die aankondiging van die inperking het sekere produsente besluit om die druiwe sonder voorbehoud te pars om dit so gou moontlik in die kelder te kry, terwyl ander vir optimale rypheid gewag het om uitsonderlike gehalte te verseker,” sê Conrad.

Voortreflike Gehalte

“Ons is opgewonde oor die voortreflike wyne wat uit die 2020-wyndruifoes gaan voortvloei, met chenin blanc en chardonnay aan die voorpunt,” sê Conrad. “Die vroeë druifsoorte het baie goeie suur getoon, en die kleur- en tannienontledings in die rooiwyne dui op vol wyne met gekonsentreerde geurprofiele.”

Die 2020-wynoes – insluitend sap en konsentraat vir nie-alkoholiese doeleindes, wyn vir brandewyn en distilleerwyn – gaan na raming 1 046.2 miljoen liter beloop teen ʼn gemiddelde verhaling van 775 liter per ton wyndruiwe.

Oorsig oor die streke

Breedekloof
Ietwat groter oes as in 2019 hoewel die teenwoordigheid van wind gedurende korrelgroei ʼn negatiewe effek op blom en set in sekere gebiede gehad het.

Kaap-Suidkus
Beter opbrengste as die vorige seisoen danksy gunstige klimaatstoestande, die implementering van Guyot-snoeistelsels, gebruik van rusbreekmiddels en wysigings tot bemestingsprogramme.

Klein Karoo
Weer eens ʼn klein oes weens die voortslepende droogte en ʼn krimpende wingerdstand.

Noord-Kaap
Laer as verwagte oes vanweë erge rypskade wat aan die einde van Oktober in die laerliggende dele oos van Upington voorgekom het.

Olifantsrivier
ʼn Uitsonderlike jaar. Wingerde het goed herstel van die droogte en die streek het oor beter watervoorsiening as gedurende die vorige seisoen beskik.

Paarl
ʼn Beter oes as in 2019 danksy gunstige na-oestoestande, voldoende water vir besproeiing en matige temperature gedurende rypwording.

Robertson
Kleiner opbrengste weens watertekorte in sekere dele van die streek, asook kleiner korrels as gevolg van wind gedurende set, ʼn afname in nuwe aanplantings en die voorkoms van botritis en suurvrot na reën in Januarie.

Stellenbosch
ʼn Groter wyndruifoes as in 2019 danksy goeie reserwes wat in die na-oesperiode opgebou is, reën gedurende die belangrike korrelgroeifase en matige klimaatstoestande regdeur die groeiseisoen.

Swartland
Groter opbrengste as in 2019 gekenmerk deur goeie trosgetalle danksy goeie na-oesbesproeiing en winterstoestande. Grondprofiele is ook goed aangevul deur laat winterreënval.

Worcester
Wisselende opbrengste regdeur die streek, maar produsente teken oor die algemeen ʼn ietwat groter oes as in 2019 aan.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>