Groote Post stel nuwe oesjare van The Old Man’s Blend-reeks bekend

Date posted:
May 31, 2011

Groote Post, die geskiedkundige wynplaas van die Pentz-familie in die Darling-heuwels langs die Kaapse Weskus, het pas die nuwe oesjare van die The Old Man’s Blend-reeks bekend gestel:

          Groote Post The Old Man’s Blend White 2011

          Groote Post The Old Man’s Blend Red 2010

          Groote Post The Old Man’s Sparkle Brut Rosé (vierde  weergawe van hierdie nie-oesjaar- Cap Classique)

Die The Old Man’s Blend-reeks het in 2001 ontstaan in opdrag van Groote Post se “Old Man”, Peter Pentz, wat gevra het dat ’n rooiwyn vir hom versny word wat hy in die winteraande kon geniet. Die versnit se enorme gewildheid het ’n Groote Post-tradisie geskep met ’n soortgelyke rooi versnit wat jaarliks onder die The Old Man’s Blend-etiket verskyn. Die The Old Man’s Blend White en The Old Man’s Sparkle is later bygevoeg.

Die Groote Post The Old Man’s Blend Red 2010, wat sowat R49 kos, is ’n versnit van cabernet sauvignon (50%), merlot (41%) en cabernet franc (9%). Die wyn is sag en glad, en in die neus kom ligte geure van wit peper en speserye voor, terwyl die mond gevul word met geure van bessies en pruime. Tydens die hele wynmaak- en verouderingsproses word die verskillende wyne afsonderlik gehou. “The Old Man”, Peter Pentz, neem self deel aan ’n strawwe proeproses voordat op die finale versnit besluit word.

Die Groote Post Old Man’s Blend White 2011 is ’n versnit van sauvignon blanc (60%), chenin blanc (20%) en semillon (10%). Hierdie wyn stel heerlike geure van Granny Smith-appels en tropiese vrugte in die mond vry, asook ’n lewendige suur en varsheid van die sauvignon blanc, ’n sappige vrugte-intensiteit van die chenin blanc en diepte van geur van die semillon. Die drie kultivars waaruit die versnit bestaan, word deur die hele wynmaakproses afsonderlik gehou en dan in verskillende verhoudings versny totdat die “Old Man” tevrede is. Die wynmaker, Lukas Wentzel, sê met trots dat “hierdie wyn beslis fantastiese waarde vir geld bied en baie tonge plesier gaan verskaf” – en teen ’n kleinhandelprys van sowat R44, is hierdie beslis ’n winskopie wat moeilik geklop gaan word.

Die Groote Post The Old Man’s Sparkle Brut Rosé, ’n delikaat, salmpienk en effe droë Cap Classique wat sowat R83 kos, is ’n versnit van 53% merlot, 34% chardonnay en 13% pinot noir. Dit toon heerlike geure van fyngedrukte aarbeie en pruime. Die The Old Man’s Sparkle is volgens die eeue-oue tradisie van ’n tweede gisting in die bottel gemaak. Hierdie beproefde proses verleen gis- en beskuitgeure aan die wyn. Die wyn is met die hand gedraai in houtrakke, en twee jaar in die bottel voor bekendstelling het groter intensiteit aan die wyn verleen. Die “Old Man” van Groote Post is trots om die The Old Man’s Sparkle Brut Rosé bekend te stel en sy grootste wens is dat hierdie vonkelwyn ’n vonkel in almal se lewens sal sit.

Benewens die uitstekende reeks Groote Post- en The Old Man’s Blend-wyne, bied hierdie geskiedkundige plaas baie om te geniet en ervaar, insluitende natuur-staptogte, ritte deur die wingerde en ’n wildskamp van 2 000 hektaar, manjifieke lenteblomme en die bekroonde restaurant, Hilda’s Kitchen.

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram