Grenache vind ’n heerlike tuiste in die Piekenierskloof

Wanneer ek aan grenache dink, kom Châteauneuf-du-Pape (wat nuwe chateau van die pous beteken) en Provence onvermydelik in my kop op. Hoekom? Wel, dié wêreldbekende handelsmerk is onder meer ’n rooi versnit wat deur grenache noir gedryf word, terwyl hierdie kultivar ook ’n hoofrol speel in Provence se bekende, salmkleurige rosé-wyne.

Net so terloops, Châteauneuf-du-Pape is meer as net ’n wynhandelsmerk. Dis ook ’n Franse wynstreek rondom die dorpie met dieselfde naam in die Rhône-wynstreek in die suidooste van Frankryk.

Piekenierskloof se interessante etiket wat ook sommer die geskiedenis van die streek uitbeeld.

Maar, “anything they can do, we can do …”, wel, miskien nie beter nie, maar minstens ewe goed! So het ons reeds met ons eie Méthode Cap Classique bewys, en ek het ook reeds uitgevind dat ons ook nie eintlik hoef terug te staan wat chardonnay en pinot noir betref nie na proeë verlede Augustus in Chablis en buite Beaune.

My eerste, ernstige kennismaking met grenache was tydens genoemde besoek aan Frankryk waartydens ek die voorreg gehad het om sowel rosé uit Provence en vier oesjare Châteauneuf-du-Pape te proe. Die salmkleurige wyne het my baie breed laat glimlag, maar die rooi versnitte van Châteauneuf-du-Pape was ’n teleurstelling, of miskien het ek net te veel verwag van hierdie wêreldbekende handelsmerk. Vir my het hulle elegansie en soepelheid gekort, maar ek’s geen wynkenner nie.

My blootstelling aan plaaslike grenache-wyne was tot dusver baie beperk en toe ek dus die uitnodiging kry om grenache van die Piekenierskloof te proe, het ek dit met albei hande aangegryp. Die Grenache Experience is aangebied by Hebron heelbo in die Piekenierskloofpas.

Maar eers so ’n bietjie agtergrond. Die Piekenierskloofhoogland lê in die Citrusdalberge, en dis hier waar die grenache-wingerde al dekades gelede aangeplant is. Die druiwe kom van vier plase – Bergendal, Heidedal, Kleinvlei en Kleinbegin. Die naam Piekenierskloof is afgelei van die Hollandse piekeniers (soldate) wat ’n paar honderd jaar gelede uit die Kaap die Goeie Hoop gestuur is om die uitgestrekte pleine weerskante van die Olifantsrivier te verken. Hulle het ook gedien as beskermers van mense wat oor die destydse bergpas gereis het. Die berge was in daardie dae vol roofdiere. Hulle het glo hul onafhanklikheid só geniet dat hulle besluit het om hulle hier te vestig en nie na die Kaap terug te keer nie. Hulle het begin om die grond te bewerk en ’n klein boeregemeenskap gevorm. Die bliksemse kolonialiste, né!

Onthou die naam … en sorg dat daar Piekenierskloof Grenache in jou “kelder” is!

Maar terug na die Piekenierskloof en sy wyne van grenache. Die Piekenierskloof Wine Company se kelder is in Citrusdal geleë. Dit was voorheen die tuiste van eers Goue Vallei Wyne en later Citrusdal Wines. Jaco van Niekerk, met ’n BSc-graad in wynkunde en wingerdbou, is sowel die wynmaker as hoofbestuurder.

Die Grenache Experience bestaan uit 4 wyne wat met eethappies pasgemaak word. Die wyne is die Piekenierskloof Grenache Blanc 2017, die Piekenierskloof Grenache Rosé 2018, die Piekenierskloof Grenache 2016 en die Piekenierskloof Heirloom Red 2015 (’n versnit van 45% grenache, 45% shiraz, 5% mourvèdre en 5% tannat).

Die kombinasies wat die tong soms uitgedaag en soms gestreel het.

Die Grenache Blanc is aangebied met gebakte camembert op ’n crostini met ’n bosbessiesous, die Rosé met groen olywe gevul met geroosterde bokkom en gerookte tamatie, die Grenache met ’n tiemie- en parmesanse kaasvinger en ’n truffel-sampioen-doopsous, en die Heirloom Red met ’n Turkse lekker van beet bedek met donker sjokolade en wit peper.

Om kos en wyn bymekaar te pas, is net so persoonlik en subjektief soos wyn op sy eie. Òf die kombinasie werk vir jou òf dit werk nie.

Die proelokaal op Hebron links en die winkeltjie langsaan.

Die eerste kombinasie het nie vir my gewerk nie aangesien die wyn te lig in die broek is vir die eetgoed, maar op sy eie is die Grenache Blanc ’n wyn wat jou vra om net te ontspan en hom te geniet. Veral die skoner geslag wat ’n ligter wyn soek, sal hom baie geniet. Geen redenasies, argumente of gesprekke nie!

Die Rosé- en Grenache-kombinasies was in die kol, na my beskeie mening, terwyl die Heirloom Red en die Turkse happie taamlik afsydig teenoor mekaar gestaan het, aldus my tong.

Wat die wyne self betref, die Grenache Blanc bied ligte sitrus- en groenappelgeure, met so ’n effense kruie-agtigheid, terwyl die Rosé aangename aarbei- en kersiegeure vrystel en my nogal aan ’n heerlike ervaring met ’n soortgelyke wyntjie in Avignon herrinner het … ook gemaak van grenache!

Die vier wyne van die Grenache Experience.

Die Grenache is ’n elegante, aromatiese wyn vol geure van soet, donker vrugte soos braambessies, en Kerskoekspeserye wat puik gebalanseer word deur die tyd in houtvate … en my persoonlike gunsteling! Dit het my laat dink aan hoe die wynmaker in Châteauneuf-du-Pape grenache noir beskryf het: “For me grenache has been like the proverbial girl next door. It has taken years to discover how beautiful she is!”

Piekenierskloof se Heirloom Red (wat 3 van die Châteauneuf-du-Pape se 8 moontlike kultivars bevat, naamlik grenache, shiraz en mourvèdre) sal beslis die vier wyne wat ek in die Rhône geproe het ’n ding of twee kan leer oor pure drinkbaarheid. Swartbessies, kersies, anys, wit peper en vanieljepeul lok jou om weer te proe … en weer … en weer … En van spoeg het daar net eenvoudig niks gekom nie! Miskien moet hy die Châteauneuf-du-Piekeniers herdoop word!

Piekenierskloof se grenache-wyne is uiteraard by die proekamer by Hebron beskikbaar, asook by uitgesoekte wynwinkels en in ’n paar Tops @ Spar-winkels. Verder kan dit aanlyn gekoop word by (https://www.cybercellar.com/catalogsearch/result/?q=piekenierskloof) en die wynmakery se webblad (https://www.piekenierskloofwines.co.za/shop/).  Of skakel 022 921 2233, maar sorg dat jy jou eie “girl next door” kry!

Tjorts!

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>