Grande Provence stel eerste Merlot bekend

Die bekende Franschhoekse wynlandgoed, Grande Provence, het sy eerste oesjaar van “die onbesonge held van Bordeaux” bekend gestel, die Grand Provence Merlot 2018.

Hierdie “onbesonge” kultivar is egter geensins vreemd in die landgoed se wynportefeulje nie. Dit het reeds sy aansien verdien as belangrike komponent in Grand Provence se Bordeaux-styl vlagskip-versnit, maar staan nou vir die eerste keer trots op sy eie in die portefeulje.

“Ons Grande Provence Merlot het aanvanklik as deel van The Grande Provence Red-versnit geskitter en is steeds ’n belangrike komponent in hierdie keldertrots. Met sy vrugsuiwerheid, elegansie en kompleksiteit het dit egter tot ’n elegante wyn ontwikkel wat in ons portefeulje op sy eie bene kan staan,” sê Thys Smit, die landgoed se wynmaker.

Die jeugdige, dog klassieke Grande Provence Merlot 2018 is gemaak van druiwe uit hoogliggende wingerde in die Helderberg-streek.

“Die druiwe word gekenmerk deur kleiner bessies met baie konsentrasie as gevolg van die koel seebriese wat oor die wingerde waai. Dit laat ons toe om ’n elegante tannienstruktuur te ontwikkel,” voeg Smit by.

Merlot is een van sy voorkeurwyne: “Dit kan op sy eie ’n heerlike drinkwyn wees, of dit kan skitter in ’n ryk Bordeaux-versnit. Ek het nooit besef hoeveel dit verg om só ’n wyn te maak nie. Saam met sy veelsydigheid en elegansie kom ’n baie rebelse temperament – met gemengde tekens en gemengde ontledings – wat jou slapelose nagte én baie gryshare besorg, maar altyd in iets pragtigs ontaard,” voeg hy by. 

Die Grande Provence Merlot 2018 het wonderlike intensiteit. Verwag ’n aardse tooisel van donker kersies en framboos met skeutjies wilde kruie, tamatieblaar en donker sjokolade, met kaneel-, naeltjie- en lemoenskil-ondertone.

Dié medium-styl wyn is sag en soepel en op sy beste wanneer dit bedien word met lamsvleis met ’n kruiekors en met ryk vleisdisse. Dit is heerlik in sy jeug en sal nog meer genot verskaf ná omsigtige kelderveroudering.

Die Grande Provence Merlot 2018 is teen R170 per bottel by die kelder beskikbaar. Die wyn kan ook aanlyn gekoop word by  https://shop.grandeprovence.co.za/.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>