Grand Plaisir 2007 werklik ‘n groot plesier!

Date posted:
June 21, 2010

 

Mens kan nie te veel van ’n goeie ding kry nie! Dit skyn die filosofie te wees agter Plaisir de Merle se jongste, beperkte vrystelling.

 

Slegs 500 kissies van die keldermeester en wynmaker, Niel Bester, se spesialiteitswyn, die Grand Plaisir 2007, gaan plaaslik verkoop word as deel van die standaard-reeks, maar met nuwe, elegante room- en goudkleurige verpakking.

 

“As gevolg van die aanvraag en voortgesette navrae het ons besluit om ‘n beperkte hoeveelheid beskikbaar te stel aan ons top wynhandelaars,” sê Deidre Samson, bemarkingsbestuurder. Tot dusver was die wyn slegs op die plaas en die internasionale mark te koop.

 

“Die beste druiwe uit geselekteerde wingerde op die plaas, spesiaal gereserveer vir die Grand Plaisir, vorm die filosofie agter hierdie wyn,” verduidelik Bester. “Elke wyn is besonders in terme van sy kultivaruitdrukking, maar versny vorm hulle saam ‘n harmonieuse wyn waar geen enkele kultivar oorheers nie.”

 

Vir hierdie versnit is die volgende keuses gemaak: 40% cabernet sauvignon, 15% cabernet franc, vir sy delikate elegansie, en 15% shiraz, vir sy soet kersie- en speseryagtige wit pepergeure, asook 10% elk malbec, merlot, met sy blommegeure, en petit verdot, vir sy sterk speseryagtigheid en kleur.

 

Bester meen hierdie wyn toon baie lewe, kleur, aroma en smaak. “Dis ‘n uitlokkende, delikate wyn met verfyndheid. Dit toon uitstekend hoe hierdie verskillende kultivars op mekaar inwerk en die geure word al hoe duideliker namate die wyn asemhaal.”

 

‘n Speseryagtigheid met ligte rooi bessievrugte en selfs ‘n effense kruisementagtigheid word in die neus onthul, gevolg deur die eikegeure, tabak, seder, speserye en aromatiese boeket van die shiraz.

 

Verskillende lae geure verhoog die kompleksiteit van die wyn met ‘n kombinasie van mondvullende rooi bessies die eerste gewaarwording. Dit word gevolg deur die effense soetigheid van die shiraz en die speseryagtigheid van die petit verdot en malbec.

 

Die nasmaak bevat effense soet tanniene, geensins aggressief nie, en laat mens met die indruk dat die tanniene stewig genoeg is om die wyn vir baie jare te laat verouder.

 

Met sy heerlike reuk en smaak, asook die helder robynrooi voorkoms, tesame met die nuwe verpakking, het Plaisir de Merle se Grand Plaisir beslis al die bestanddele om ‘n wenner in sy klas en reeks te wees.

 

Die nuwe Grand Plaisir 2007 kos sowat R260 per bottel. Skakel Plaisir de Merle by (021)-874-1071, stuur ‘n faks aan (021)-874-1689 of ‘n epos aan plaisirdemerle@capelegends.co.za of besoek www.plaisirdemerle.co.za vir meer inligting.

 

Einde

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram