‘Glorieryke Switserland’ onthul sy wyn- en ander geheime

Wanneer mens aan Switserland dink, dink jy onwillekeurig aan asemrowende natuurskoon, die Alpe, sjokolade, kaas, bankwese, die Switserse weermagmes en duur horlosies. En ja, hulle het Velcro ontwerp, en ook sellofaan, die aartappelskiller, Helvetica-lettersoort, muesli en eetbare sjokoladegoud.

Die roete wat ons deur Switserland gevolg het.

Kos, en veral wyn, sal nie noodwendig eerste in jou kop opduik nie, maar dis waar jy die fout maak want lekker eet is hier net so belangrik, en hul wyne sal jou smaakkliere van oor tot oor laat glimlag.

Switserland se wingerde kruip eintlik reg onder mens se neus weg! Ry net in hierdie kompakte land rond en jy sal verstom wees oor die hoeveelheid wingerde, netjies en ordelik geplant in valleie en teen heuwels en berghellings, dikwels in byna vertikale terrasse wat mens laat wonder hoe die druiwe ge-oes word, en in die voetheuwels van die Alpe dikwels so hoog bokant vertikale kranse dat mens skoon hoogtevrees kry net om daarna te kyk.

Geneve met die indrukwekkende fontein in sy meer.

Ja, Switserland hét ’n wynkultuur. Hulle maak net nie ’n bohaai daaroor nie. En wanneer mens hul wyne proe, wonder jy hoekom nie.

Tydens ’n onlangse besoek was ek verstom om te leer dat hierdie netjiese, skoon en ordelike land, ’n land wat mens nie eintlik met wynbou assosieer nie, ’n lang en ryk geskiedenis daarvan het en geensins vir sy meer bekende wynmaakbure Frankryk, Duitsland en Italië hoef terug te staan nie.  Om die waarheid te sê, nes monnikke versigtig “gebou” het aan die wingerdbou-  en wynmaakerfenis van Boergondië in Frankryk, net so het Lausanne se biskoppe in die 12de eeu die argitektuur van die wingerde rondom Lac Léman (die Genève-meer) geskep.

Die wingerde van die Geneve-wynstreek loop tot byna teenaan die meer.

Switserland se wingerde lê wyd versprei oor ses streke, van Genève tot Zurich en van Neuchatel tot Ticino.

Ek het laas in Hongarye, Kroasië en Slovenië kultivars teëgekom wat ek nog nooit eers van gehoor het nie, en die besoek aan Switserland het my wynreis van ontdekking weer eens in ’n nuwe, opwindende rigting geneem.

Ons besoek het in Genève afgeskop vanwaar ons ooswaarts al langs Lac Léman af gereis het, verby heuwels bedek met eindelose wingerde, terrasse en terrasse vol. Terloops, Genève is nie net die tuiste van verskeie internasionale organisasies en privaat banke nie, maar glo ook Switserland se tweede grootste wynstreek. Sy wingerde lê aan die westekant van die meer en bedek die heuwels aan weerskante van die Rhône-rivier wat uit die meer vloei.

‘n Bottel chasselas was my inleiding tot die Switserse wyntoneel, en watter heerlike inleiding!

Hoewel chasselas, ’n delikate witwyn en die bekendste Switserse wyndruif buite Switserland, steeds die witwyntoneel hier oorheers, het die streek se wynmakers reeds internasionale lof ontvang vir wyn van meer klassieke kutivars soos chardonnay.

Wat rooiwyn betref, oorheers gamay steeds met uitstekende, goed gestruktureerde wyne, maar kultivars soos pinot noir en ander word by die dag meer prominent.

Montreaux langs die Geneve-meer.

Vaud is ’n Franssprekende kanton langs Lac Léman oos van Genève wat die terraswingerde van Lavaux, ’n UNESCO World Heritage-terrein, insluit. Hierdie wingerde “styg” op van die rand van die meer teen hellings wat mens laat dink dat net die engele daar kan oes! En dis waar chasselas glo uitblink.

Buite Montreaux, bekend vir sy jaarlikse internasionale jazz-fees, het ons by die middeleeuse Chillon-kasteel gestop. Dit was toeka se dae die tuiste van die Grawe van Chavoy en is

Die indrukwekkende Chillon-kasteel.

verewig in Byron se “Prisoner of Chillon”. Daar word jaarliks op klein skaal spesiaal wyn gemaak wat onder die die Chillon-handelsmerk verkoop word. Die vate vir hierdie wyn word in die kasteel self gestoor.

Chillon se wynvate.

As mens verder ry, in ’n suidoostelike rigting, kom jy af op Switserland se warmste en vrugbaarste wynbou-area, Valais. Die Rhône-rivier vloei hierdeur en stel die valleivloer en -hellings in staat om ’n enorme reeks druiwe te verbou. Verskeie kultivars, soos byvoorbeeld petite arvine, het die vermoë om wêreldwyd impak te maak, maar ongelukkig word dit in bitter klein hoeveelhede aangeplant. Om egter ’n wyn te ervaar en geniet wat jy nog nooit tevore geproe het nie, en wat jy miskien nêrens anders gaan vind nie, is deel van Switserland se aanloklikheid.

Die indrukwekkende terraswingerde van Valais.

Valais, ook Switserland se grootste wynstreek, is natuurlik ook die tuiste van die bekende ski-oord Zermatt waar ons ’n wonderlike paar dae deurgebring en ’n besoek aan die Matterhorn ingesluit

‘n Tipiese wynkelder in Valais.

het. En dis juis op die pad na Zermatt dat die wingerde teen die noordelike helling van die Rhône-vallei – dikwels in smal, byna vertikale terrasse met sneeubedekte bergpieke wat oor hulle waghou – die oog gevang het. Hierdie streek is die tuiste van verskeie, unieke kultivars en ek’s aangeraai om die wit petite arvine by sy geboorteplek van Fully of die humagne rouge by Leytron te probeer. Ek het, en nes met die chasselas wou ek baie

Petite arvine, nog ‘n kultivar wat ek vir die eerste keer in Switserland ervaar en baie geniet het.

graag ’n paar bottels huistoe bring, maar pakplek en gewig het my egter gekeer.

Een van die talle sprokiesmooi dorpies wat veral in die Alpe voorkom.

Sierre, die hoofstad van die streek, het ’n interessante wynmuseum. Die een deel is by die Château de Villa in Sierra waar die geskiedenis van wyn uitgebeeld word (insluitende die produksieproses) en waar ’n groot reeks wyne geproe kan word, en die ander in die nabygeleë dorp Salgesch by die Maison Zumofen waar daar gefokus word op plaaslike toestande en kultivars. Die twee word deur middel van ’n “wyn-voetpad” verbind wat besoekers deur prentjiemooi wingerde en verby nog proe-geleenthede vat.

Humagne rouge, ‘n rooie wat Switserland nooit in die skande sal steek nie.

Wingerde in Switserland se Ticino-wynstreek.

“Glorieryke Switserland”, die naam van ons toer, het ons van Valais deur Ticino en oor die kronkelende Simplonpas vir ’n vlugtige besoek aan Italië na die Maggiore-meer en die dorpe Stresa geneem. Dit was die roete wat Napoleon Bekend as Switserland se “Klein Italië”, is Ticino die Switserse wynstreek wat glo sowel die meeste son as die meeste reën kry. Omdat die wynstreek in die suide van Switserland geleë is, teenaan Italië, is dit hoofsaaklik Italiaanssprekend.

Italiaanse kos en Switserse wyn langs die Maggiore-meer!

Hoewel daar reeds sedert die Romeinse era hier wyn gemaak word, het gehalte eers na die bekendstelling van merlot in 1906 ’n belangrike faktor geword. Die streek is dan veral vir sy uitmuntende merlot bekend, maar ander rooi kultivars

wat hier gevind word, sluit in bondola, pinot noir, cabernet franc, carminoir, gamaret, garanoir, diolinoir en ancellotta. Onder die wit kultivars tel chasselas, chardonnay, doral, semillon, sauvignon blanc, pinot blanc en kerner.

Die kronkelende Julierpas wat mens kwylend laat verlang na ‘n haastige sportmotor!

Na die kort besoek aan Italië is ons terug Switserland toe en deur Graubünden en die bergagtige terrein van die Grison-Alpe, oor die indrukwekkende Julierpas en deur die Engadine-vallei na St Moritz in die ooste. Hierdie Duitssprekende wynstreek, waar die Rynrivier sy oorsprong het, het ’n byna eindelose verskeidenheid wyn gemaak van nie minder nie as 45 kultivars. Pinot noir (hier bekend as blaüburgunder) slaan hier die trom wat rooiwyn betref, terwyl riesling-sylvaner, hier bekend as müller-thurgau, die algemeenste witwyn is.

Schloss Salenegg buite Maienfeld.

Ons het die wingerde in die Ryn-vallei op gevolg op soek na die tuiste van die completer-kultivar, nog ’n inheemse druifsoort wat sy oorsprong terug kan vat na die 8ste eeu. Slegs ’n handvol produsente sorg dat hierdie kultivar nie uitsterf nie en daar bestaan glo net sowat 2 hektaar daarvan. Dit sorg vir ’n droë witwyn hoog in suur wat glo dekades lank in die bottel kan verouder. Die dorp Malans, met sy rug teen vertikale kranse, word as die geboorteplek van hierdie wyn beskou, maar die streek se pinot noirs is glo die eintlike sterre.

Die completer-druif sorg ook vir witwyn wat die tong laat smag vir meer!

Die nabygeleë dorpie Maienfeld is die begin van die sogenaamde Heidi-pelgrimstogte en die tuiste van Château Salenegg waar een van Europa se oudste wingerde gevind kan word.

Ons reis het in Zurich ten einde geloop waar ek ‘n tradisionele Switserse gereg met ‘n plaaslike pinot noir geniet het.

Hoewel die “wyngedeelte” van die besoek agter die rug was, was daar nog baie om te sien en ervaar. ’n Asemrowende treinrit op die Glacier Express oor die Grison-berge tot by Chur, en vandaar per pad deur die Bo-Rynvallei tot by Valduz, die hoofstad (eerder hoofdorp) van Liechtenstein, en toe verder al langs die Walensee en die Zurich-meer af tot in Luzern, en vandaar weer tot by die eindpunt in Zurich, was die kersie op die koek.

Aangesien daar sommer nog baie van die reisgogga se gif in ons are is, is dit beslis nie die einde van die pad nie. Turkye is volgende op ons emmerskoplysie!

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>