GlenWood bied eiesoortige kos-en-wyn-ervaring in stil, rustige en natuurlike omgewing

Almal wat iets van kos en wyn weet, ken die breë, besige Franschhoek-vallei met sy luisterryke wynlandgoedere en restaurante. As mens egter die moeite doen en afdraai waar die GlenWood-aanwysingsbord is, vind jy ’n heelwat smaller vallei, stiller en rustiger en baie meer natuurlik. Dis hier waar jy GlenWood vind, die enigste wynmakery in hierdie vallei, snoesig geleë in die “palm van die natuur se hand” wat deur die omringende heuwels gevorm word.

 

Die kelder, proelokaal en restaurant op GlenWood.

Dis hier waar ek ’n jaar of so gelede kennis gemaak het met DP Burger, wynmaker/keldermeester/bestuurder, GlenWood se heerlike wyne en smaaklike kos op die restaurant se stoep onder die bome. En destyds was ek reeds beïndruk deur die natuurlike omgewing en die stille rustigheid wat besoekers begroet, en natuurlik die lekker kos en wyn.

 

Toe ons dus uitgenooi word om die landgoed se nuwe en unieke kos-en-wyn-pasmaats te ervaar, het ek nie twee keer gedink nie. En die spreekwoordelike kersie op die koek was die uitnodiging om ook sommer die aand te oornag in die weelderige kothuis langs GlenWood se herehuis. Dis glo nie te huur nie en slegs vir “vriende en familie”. Wat kan ek sê, ons is GlenWood-vriende!

 

Om te sê vroulief, wat die Franschhoek-vallei deeglik ken, was aangenaam verras met die kleiner, smaller en meer natuurlike vallei waarin GlenWood hom vind, is die “understatement” van die jaar. Sy is mal daaroor.

 

By GlenWood aangekom, is ons eers deur die kelder gevat deur die assistant-wynmaker, Zinaschke Steyn (links). Daar is uit tenks geproe, oor wynmaakfilosofieë en verskillende verouderingstegnieke gesels, verder uit vate geproe en uiteindelik na die proelokaal vergesel waar die kos-en-wyn-pasmaats gewag het.

 

Om kos en wyn bymekaar te pas, is niks nuut nie. Omtrent almal doen dit. Wat GlenWood s’n anders maak, is die feit dat jy jou middagmaal kies uit die ses proeporsies wat jy saam met die verskillende wyne ervaar het. Na hierdie sensoriese sensasie gaan sit jy dus in die restaurant – in ons geval buite op die stoep in die skadu van die bome – en daar word jy jou middagete bedien.

 

Maar terug na die kos-en-wyn-pasmaats. Die 6 proeporsies bestaan uit:

 

  • Lig gerookte salmforel wat met GlenWood se Sauvignon Blanc/Semillon-versnit gekombineer word,
  • Ceviche wat met die landgoed se ongehoute Chardonnay voorgesit word,
  • Hoender Caeser-slaai wat pas gemaak word met die GlenWood Merlot,
  • “Rugby Snack” wat met GlenWood se Syrah Grand Duc gekombineer word,
  • Hoenderporsie wat met die Semillon / Sauvignon Blanc Grand Duc geniet word, en
  • Kruisskyf wat met die landgoed se Shiraz Vigneron’s Selection bedien word.

 

Die wyne wat die proedisse vergesel het!

Met elke kanapee het die vriendelike en professionele kelnerin verduidelik hoekom die sjef die eetgoed by die drinkgoed pasgemaak het, en elke keer was sy in die kol.

 

Vroulief se geurige, sappige hoendergereg.

Vroulief het die hoender as hoofgereg gekies en jors troelie die biefstuk. Haar kos se “vloeibare metgesel” was die tradisionele “fietse lyfie-koeldrank”, terwyl ek op nog van die GlenWood Shiraz Vigneron’s Selection besluit het. DP het vir middagete by ons aangesluit en dieselfde as ek gekies. En daar het ons heerlik gesit en kuier, in die stilte en rustigheid van daai spesiale vallei, en weer eens het puik kos, puik wyn en puik geselskap gesorg vir ‘n puik samesyn.

 

Jors troelie se vleisdis wat ewe geuring en sappig was, en so gaar (of rou) soos ek gevra het.

Al die vleis was heerlik sag en sappig – my bees was amper dood soos ek daarvan hou en waarvoor ek gevra het – en die bykosse het verseker dat ons tonge behoorlik bederf is.

 

Nagereg was die dekadente kersie op die koek van ’n vyfster-ervaring, vergesel van GlenWood se Noblesse Grand Duc NV, ’n dessertwyn wat jou tong laat skree vir meer!

 

‘n Dekadente nagereg met ‘n ewe dekadente dessertwyn was die kersie op die koek.

’n Lekker stil nagrus is gevolg deur ’n heerlike, eenvoudige ontbyt van vrugtesap, frittata en spesiaal geroosterde brood, en lekker sterk koffie.

 

Maar moenie dink GlenWood se storie is klaar geskryf nie. Aikôna! Daar is planne in die spreekwoordelike pyplyn vir onder meer ontbyt gevolg deur ’n bergfietsrit in die omliggende heuwels en ’n bergfietsrit in die omliggende heuwels gevolg deur middagete soos hierbo, om maar net twee te noem.

 

Vir enige navrae en meer inligting, besoek www.glenwoodvineyards.co.za.

 

En word ’n GlenWood-vriend … so gou moontlik! Jy sal nooit spyt wees nie.

 

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>