Glenelly se wortels in sowel Suid-Afrika as Frankryk

Date posted:
April 7, 2011

Hoekom het die 85-jarige May de Lencquesaing, destyds eienaar van die bekende Chateau Pichon Longueville Comtesse de Lalande in Bordeaux in Frankryk, in 2003 ‘n vrugteplaas by Stellenbosch gekoop? En hoekom, na 30 jaar in die wynbedryf in Frankryk, het sy wingerd op hierdie plaas aangeplant? En ten slotte, hoekom het ‘n “ouer” dame besluit om in ‘n “jong” demokrasie te belê en ‘n nuwe uitdaging aan te pak?

Volgens Madame de Lencquesaing omdat sy in die grond, die mikro-klimaat en die potensiaal van die area glo vir die maak van wyn van gehalte! En omdat sy die Franse erfenis van wynmaak in Suid-Afrika, wat meer as 300 jaar terug dateer, wil voortsit.

Dis in ‘n neutedop die rede vir die bestaan van Glenelly langs Idasvallei en teen die suidelike helling van die Simonsberge by Stellenbosch. Ry by daai imposante ingang in en jy weet sommer net daar: Hier’s geld, maar hier’s ook “klas”! En as jy so deur die wingerde ry en daai indrukwekkende kelder bo-oor alles sien troon, dan weet jy hier gaan jy nie sommer weg sonder om beïndruk te wees nie.

Luke O’Cuinneagain, die wynmaker, en Amanda de Klerk van Distinctive Brands het my buite die kelder in die parkeerterrein ingewag wat mens ‘n pragtige uitsig oor die landgoed en die omliggende berge gee. Toe is ons na die indrukwekkende gravitasiekelder, en vandaar na die groot verouderingskelder waar rye en rye vaatjies met hul kosbare inhoud ontspan en toe na ‘n privaat proekamer agter glas wat ‘n groter vertrek deel met Madame de Lencquesaing se indrukwekkende glasversameling.

Terwyl ons 6 van Glenelly se klassieke wyne geproe het, het Luke my meer oor die landgoed self vertel.

Links: Amanda en Luke in die privaat proelokaal waar die indrukwekkende glasversameling ook gehuisves word.

 

Die landgoed van 128 hektaar is beplant met cabernet sauvignon, shiraz, merlot, petit verdot, cabernet franc en chardonnay. Hoewel wyn in Suid-Afrika gemaak word om redelik gou geniet te word, aldus Luke, word daar op Glenelly, getrou aan die tradisie in Bordeaux, wyn gemaak met die potensiaal om te verouder. Maar, voeg hy dan vinnig by, die Glenelly-wyne kan ook vroeg geniet word.

Ons het afgeskop met die 2010- Chardonnay, en toe het die rooies gevolg, eers die 2009- Merlot, en toe die 2009- Shiraz, die 2009- Cabernet Sauvignon, die 2007- Grand Vin en die 2008- Lady May.

Laat ek dit duidelik stel, hierdie wyne is nie vir mense wat lig in die broek is nie. Dis ernstige wyne, klassieke wyne, wyne wat kos vra. Op my telkaart het die Grand Vin, ‘n rooi versnit van shiraz, cabernet sauvignon en merlot, en die Lady May, ‘n elegante cabernet sauvignon, die meeste punte verdien. Veral die Lady May het my smaakkliere beïndruk.

Ek verskil met Luke wat betref die tyd om Glenelly se wyne te geniet. Die wyn word so goed gemaak, en op so ‘n klassieke manier, dat ek vir my eerder ‘n paar kissies van elk sal koop en dit dan wegbêre totdat hulle van hul “jeugdige jukkerigheid” ontslae geraak het. Dan sal ek hulle een vir een geniet ... op my eie. Oukei, miskien met iemand wat goeie wyn kan waardeer! En van wie ek baie hou!!!

Hierdie is ‘n baie jong wynmakery. Die kelder is maar eers twee jaar gelede voltooi. Maar hou die naam gerus dop, hier kom nog groot dinge!

O ja, die moderne proelokaal bied ook pragtige uitsigte oor die wingerde en die omliggende berge en maak wynproe ‘n ekstra spesiale geleentheid. Gaan loer gerus daar in. Jy sal nie spyt wees nie.

Vir meer inligting, besoek gerus die landgoed se webblad by www.glenellyestate.com.

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram