“Ek speel altyd graag bietjie rond met die heel laaste bestanddeel,” sê Razvan Macici, Nederburg se keldermeester, oor sy Ingenuity White, wat uit agt kultivars bestaan en tans sy derde oesjaar as die toppunt van die Nederburg-reeks beleef. Die 2009-oesjaar is onlangs in die mark bekend gestel.
“Ons het nou vir die eerste keer gewürztraminer bygevoeg. Dis net twee persent, maar verleen tog ’n sweempie soetigheid aan dié uiters komplekse, ryk en genuanseerde versnit. Dis só effentjies dat ’n mens dit skaars agterkom, maar dit rond die mondgevoel af en gee erkenning aan Günter Brözel, wat in die jare tagtig met dié kultivar geweldig baie sukses by Nederburg behaal het.”
In daardie jare het Brözel talle goue medaljes vir dié druifsoort by die International Wine & Spirit Competition gewen. Hy is ook in 1986 as die Diners Club se Wynmaker van die Jaar met sy gewürztraminer aangewys.
Die Nederburg-span het die eerste Ingenuity White-versnit in 2007 bedink en geskep as ’n manier om die aandag op die wynmakery se vermoë tot oorspronklikheid en vernuwing te vestig. Hulle het verdelho toe as die kersie op die koek gebruik, en in 2008 was dit muskaat, maar vir die 2009-oesjaar wou hulle ’n ander druifsoort inspan om iets unieks daarvan te maak.
“Die gewürztraminer, wat van naby Stellenbosch kom, het ’n strelende blommegeur en ’n subtiele smaak wat my aan Turkse lekkers herinner. Dis egter net een klein besonderheid in dié veelsydige, weelderige maar terselfdertyd fris, geurige wyn wat by allerlei kossoorte pas,” sê Macici. “Dit is ook verbasend genuanseer, en elke keer as jy dit drink, ontdek jy nuwe kenmerke.”
Die ander sewe druifsoorte in die 2009-oesjaar is dieselfde as in die verlede, maar die samestelling het effens verander.
“Die belangrikste kultivar is steeds sauvignon blanc vir die fris mineraalsmake wat hy die wyn gee, en maak 30% van die geheel uit. Vir ekstra diepte het ons ’n bietjie daarvan in klein eikevate verouder. Chardonnay van Durbanville en die Paarl is volgende, en maak 25% van die versnit uit. Dié druiwe is in Franse eikevate van 228 liter gegis en agt maande lank op die doppe gelaat en gereeld geroer. Aangesien geen appelmelksuurgisting toegelaat is nie, verleen die chardonnay lieflike, romerige sitrusgeure en -smake aan die versnit.
“Die semillon is ook in hout verouder, bind die sauvignon en chardonnay in ’n hegte geheel saam en sorg vir die wyn se stewige en goed geïntegreerde struktuur. Dit maak 15% van die versnit uit, nes die chenin blanc wat kom van bosstokke in Darling en Stellenbosch se omgewing wat intens geurige druiwe lewer. Dit gee aan die wyn ? lewendige suur en net ? sweem van ? rosyntjiegeur.”
Die 2009 Ingenuity White bevat ook nouvelle (6%) wat ’n paar maande in hout deurgebring het, riesling (5%) en viognier (2%).
“Hierdie viognier het ook tyd in hout deurgebring. Dis groot, uitgesproke en ryp, en al wat ons nodig gehad het, was 2% om ons sy heerlike perske-, appelkoos- en vanieljesmake te gee.”
Macici sê die resultaat is ’n indrukwekkende maar elegante versnit met diepte en talle kruie-, sitrus-, sagtevrugte-, spesery- en blommegeure wat ’n mens ook duidelik proe.
“Die samevoeging van al die onderdele sorg vir die elegansie en swier.”
Tariro Masayiti, die witwynmaker by Nederburg, sê: “Ons het ’n wyn gemaak met genoeg struktuur om agt tot tien jaar lank sy man te staan. Die samevoeging van mineraal-, vrugte- en eikehoutkarakters sorg vir kompleksiteit wat by talle seekosdisse, asook rooi- en witvleisdisse pas.”
Die twee voorgangers van die wyn het in hul onderskeie jare albei vyf sterre in die Platter South African Wine Guide gekry.
Die wyn verkoop in die kleinhandel vir sowat R150 per 750ml bottel.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast