Gewilde Drostdy-Hof wen goud teen die beste

Date posted:
June 27, 2011

Die gewilde wynreeks, Drostdy-Hof, het pas bewys dat die duurste nie noodwendig die beste is nie deurdat sy 2010- Chardonnay by een van die wêreld se voorste wynkompetisies 'n goue medalje losgeslaan het. Die wyn, wat sowat R35 per bottel in die kleinhandel kos, is by die Decanter World Wine Awards in Londen beoordeel in die geselskap van sommige van die wêreld se mees eksklusiewe handelsmerke waarvan baie teen 'n paar honderd rand per bottel verhandel.

 

Decanter is een van die wêreld se gesaghebbendste wynpublikasies. Van die mees gerekende proeërs word jaarliks byeengebring om die beoordeling te doen. Vanjaar se proepanele het talle Masters of Wine (MW) ingesluit, die hoogste wynkwalifikasie wat bestaan. Daar is minder as 300 mense ter wêreld wat hierdie onderskeiding behaal het.

 

Die druiwe vir die Drostdy-Hof Chardonnay is ge-oes van droëlandwingerde in Stellenbosch, Malmesbury en Franschhoek.

 

“In sekere opsigte is wingerdstokke nes mense,” sê Pieter Badenhorst, die wynmaker. “Hulle moet ook bietjie onder druk - maar nie te veel nie - geplaas word om hul beste te lewer. Deur waterstres in die wingerde noukeurig te monitor, is dit moontlik om die opbrengs te beperk tot waar die stok druiwe van optimale gehalte en uitstekende geurkonsentrasie lewer.”

 

Die wyn is in vlekvrye-staaltenks gegis, maar het ook houtkontak gehad om die karaktereienskappe van die kultivar te beklemtoon en 'n aantreklike afronding te verseker.

 

Badenhorst sê hierdie Chardonnay is ryk en glad op die tong, en is by uitstek 'n lekker drinkwyn.

 

“Dit is heerlik saam met seekos, pluimvee, slaaie en roomgeregte. Soms, na 'n lang dag by die werk, ontspan ek graag met 'n glas van hierdie Chardonnay, met neute en olywe as peuselgoed.”

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram