Gesofistikeerde Pongrácz Desiderius pronk met nuwe oesjaar

Date posted:
January 25, 2010

Suid-Afrika se geliefkoosde Méthode Cap Classique, geïnspireer deur die Hongaarse edelman, Desiderius Pongrácz, is pas in ‘n nuwe oesjaar bekend gestel. Hierdie charismatiese keldertrots van Die Huis van JC le Roux - Desiderius Pongrácz 2002 – verskyn weer eens in sy elegante gevormde bottel.

 

Desiderius Pongrácz 2002 pronk met ‘n goue glans wat die aroma van die elegante, delikate speserye en wonderlike lewendige mousse pragtig komplementeer.

 

“Hierdie uitstekende Cap Classique word omvou met grasie en uitsonderlike karakter. Dit het ‘n aanloklike, ryk kompleksiteit met lewendige borrels wat ‘n sprankelende sensasie in die mond laat. Heerlike geure van vars vrugte, amandels en vars gebakte brood streel die sintuie. Deel jou mooiste herinneringe saam met jou geliefdes met ‘n bottel Pongrácz Desiderius,” sê wynmaker Elunda Basson.

 

Hierdie adellike Cap Classique is ‘n gesofistikeerde versnit van die uitsoekdruif-variëteite pinot noir en chardonnay, en is heerlik ryk met klassieke gis-ondertone as gevolg van die sewe jaar wat die vonkelwyn op die delikate gisafsaksels verouder is. Dit kikker die glas op met sy fyn pêrelborrels en het ‘n volronde palet wat lei tot ‘n betowerende, talmende nasmaak.

 

Desiderius Pongrácz 2002 is die perfekte pasmaat vir ‘n stylvolle samesyn. Wees op die uitkyk vir die elegante MCC in sy ekslusiewe bottel by top restaurants en boetiek wynwinkels. Desiderius Pongrácz 2002 is beskikbaar teen ongeveer R213.00 ‘n bottel.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram