Geskiedkundige Stettyn stel vier nuwe wyne vry

Date posted:
August 31, 2010

Die geskiedkundige Stettyn-wynlandgoed op die Worcester-wynroete het pas vier nuwe wyne vrygestel, twee wittes, ‘n rosé en ‘n rooie. Die witwyne wat pas die lig gesien het, is die Millstone Sauvignon Blanc 2010 en die Millstone Chenin Blanc 2010, terwyl die Millstone Shiraz Rosé 2010 en die Millstone Stone Red 2008 die lys voltooi. Die naam Millstone verwys na die ou graanmeul op die geskiedkundige landgoed.

“Die druiwe vir al vier die wyne kom uit wingerde wat baie noukeurig verbou is,” vertel Albie Treurnicht, die wynmaker. “Die druiwe is in ons kelder vertroetel om ‘n reeks besonder drinkbare wyne te maak, wyne wat tegelyk gehalte en waarde vir geld bied.

“Stettyn se beleid is om puik wyne sonder tierlantyntjies te maak en daarom word die wyne met skroefdoppe verpak. Ons wyne dien as ‘n vertoonvenster vir die toewyding en passie waarmee ons alles aanpak.”

Vir die Millstone Sauvignon Blanc 2010 is druiwe gekies wat die delikate geure van die kultivar reflekteer. Die eindresultaat is ‘n heerlik drinkbare wyn eie aan Stettyn se klimaat met ‘n aangename balans tussen suiker, suur en geure. Die Sauvignon Blanc kos R27.50 per bottel.

Die druiwe vir die 2010- Millstone Chenin Blanc kom van die Jonkersrivierplaas waar hierdie besonderse kultivar die afgelope tien jaar ‘n reputasie vir gehalte opgebou het. Vir die 2010-oesjaar het Stettyn 12% nouvelle en 3% viognier bygevoeg om ‘n breë spektrum van geure daar te stel. Hierdie wyn kos R23,50 per bottel.

Die Millstone Shiraz Rosé 2010 se druiwe kom van die Jonkersrivier- en Stettynplase. Die twee komponente is teen verskillende rypheid gepluk om die groener, tropiese styl met die ryper aarbei-bessiegeure te kombineer. ‘n Gedeelte van die wyn is ook toegelaat om spontaan appelmelksuurgisting te ondergaan om die middelmondgevoel aan te vul met romerige yoghurt-geure.

Die rosé met sy pragtige pienk salmkleur is ‘n lekker vars, verfrissende somerwyn wat nie oorweldigend soet is nie en kos R23.50.

 

Links: Die Stone Red van Stettyn bied ewe uitstekende waarde vir geld en wys weer eens dat wyn van goeie gehalte nie duur hoef te wees nie.

 

Met die samestelling van die Millstone Stone Red 2008 was drinkgenot die prioriteit. Die versnit bestaan uit cabernet sauvignon  met ‘n skeut cabernet franc.

“Sagte kruisement- en donker sjokoladegeure met ‘n titsel drop kom in die neus voor, terwyl fluweelsagte tanniene die heerlike mondgevoel afrond. Die perfekte wyn vir ‘n lekker pepperoni-pizza,” sê Treurnicht.

Die oorspronklike plaas is in 1714 toegeken en die opstal is in 1777 voltooi. Die voorsate van die huidige eienaars, die Botha’s, het die plaas in 1818 aangeskaf. Die huidige geslag Botha’s is die agtste op Stettyn.

Wyn is reeds meer as ‘n eeu deel van Stettyn se geskiedenis en is reeds sedert die laat 1800’s tot in die 1950’s op die onderskeie plase gemaak. Hulpbronne is egter hierna saamgevoeg en ‘n moderne kelder is op Stettyn gebou. Die eerste druiwe is in 1964 gelewer.

Stettyn se druiwe en wyn het oor die geslagte heen gebaat uit die intieme kennis van die plaas se terroir wat van tot geslag oorgedra is. Gerestoureerde geboue, wingerde en boorde, asook massiewe eikebome, dra stille getuienis van ‘n plek waar mense lank reeds gevestig is, werk en floreer.

Die proesentrum bied besoekers die geleentheid om die vallei se wyne te proe en te waardeer, terwyl hulle ‘n asemrowende uitsig op die wingerde en vallei het.

Stettyn se wyne is beskikbaar by uitgesoekte handelaars en via die internet. Vir enige navrae, skakel  023-340-4220, stuur ‘n epos aan stettyncellar@breede.co.za  of besoek www.stettyncellar.co.za.

Einde

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram