Geniet Het Land van Waveren se oorvloed!

Date posted:
September 5, 2011

Ek kry wynroetes verder weg van die Moederstad jammer. Hulle moet meeding met veel bekender wynroetes met groter en meer bekende wynhandelsmerke wat nader aan Kaapstad geleë is. Dis dus nie ’n gelyke speelveld nie. Ongelukkig maak hulle nie juis sake vir hulself makliker deur te sit en wag dat die wêreld na hulle kom eerder as om die omstandighede te skep wat dit vir die wêreld die moeite werd maak om daai entjie verder te ry nie.

Is dit ’n geval van ’n gebrek aan die nodige hulpbronne om die noodsaaklike bemarking te doen of is dit suiwer ’n geval van onkunde? Ek glo swak kommunikasie is een van die groot probleme. Soos die geval met ander wynstreke verder weg van die Kaapse Skiereiland, hoor mens selde indien ooit van die Tulbagh-wynroete en sy lede. En dis eintlik onverskoonbaar in so ‘n mededingende wyn- en toerismemark, en in die 21ste eeu. En wat dit erger maak, is dat hierdie streke dikwels die heel lekkerste wyntoerisme-ervarings bied.

En op daardie punt wil ek nou vertel van my onlangse besoek aan die Tulbagh-wynroete, ’n besoek wat eintlik lankal moes plaasgevind het. Maar nou-ja, dis nooit te laat om nog ‘n nuwe juweel in die Kaap se wynlande te ontdek nie! En hierdie juweel word nie verniet die vallei van oorvloed genoem nie.

Toe die wynroete my uitnooi om ’n slag my gesig daar te kom wys, het ek nie twee keer gedink nie. Die plan was dat ek by vier van die dertien wynprodusente sou gaan inloer, wyn proe en gesels oor alles wat die area aanbied, en dan saam met een middagete geniet. My vervoer vir die besoek was Chevrolet se jongste Captiva 3,0 LTZ AWD outomaties. Net so aantreklik soos sy voorganger, maar met ‘n forser voorkoms, bied hierdie weelderige sportsnutsvoertuig alles wat jy in ‘n SNV soek in ’n marksegment waar die mededinging baie straf is. Lees meer oor hierdie weeldewa by http://planeetwyn.co.za/node/2589.

Die Tulbagh-wynroete is maar net so ’n uur en ’n half se ry van Kaapstad af. Ek het nie juis geweet wat om te verwag nie, maar toe ek deur die Nuwekloofpas ry en daai vallei, omring deur die majestieuse Obikwa-, Winterhoek- en Witzenberge, ontvou voor my oë, het ek besef hier is iets besonders en hier gaan ek dit geniet. En sommer gou het ek agter gekom dat jy nie hier vinnig moet kom kuier nie. Aikôna, kom skop jou skoene vir ‘n hele naweek uit en geniet en ervaar alles wat Tulbagh en sy pragtige omgewing bied.

Links: Suzette van Rensburg en David Sadie het my Lemberg se lekker wyne laat proe sommer in die kelder tussen al daai bottels versoeking, reg langs die stylvolle en intieme proelokaal!

Maar ek loop myself nou vooruit. My besoek het net anderkant die Nuwekloofpas by Lemberg (082 749 7585 / lemberg@webafrica.co.za) begin. Hier het David Sadie, die wynmaker, en Suzette van Rensburg, mede-eienaar, my in die netjiese proekamer ingewag.

Maar eers ietsie oor hierdie boetiekkelder met sy majestieuse uitsigte op die Witzenberge en die Groot Winterhoekberge. Lemberg is in 1978 deur die bekende wynmaker, Janey Muller, gestig. In 2007 het Henk de Bruyn, Suzette se lewensmaat, die plaas van 22 hektaar aangeskaf. Dit was ’n jarelange droom wat Henk, ’n mediese dokter, wêreldwye reisiger en beskeie matroos, verwesenlik het.

Tot in 2010 het Henk en Suzette kers opgesteek by bekendes in die wynbedryf soos Jan “Boland” Coetzee van Vriesenhof en in hierdie tyd hul eie versnit van pinot noir en pinotage gemaak, Lemberg Private Bin 13. In 2010 is nog 2 hektaar van hierdie twee kultivars aangeplant wat die totale wingerdoppervlakte op 8 hektaar te staan gebring het. Dit sluit 3 hektaar shiraz en ’n ouerige blok sauvignon blanc in wat uit 1980 dateer.

Die talentvolle David Sadie het sedertdien by hulle aangesluit en ek het die voorreg gehad om saam met hom en Suzette drie van Lemberg se 6 wyne te proe, die Lemberg Private Bin 13 2009, die Lemberg Pinotage 2010 en die Lemberg Spencer 2010, ’n elegante pinotage wat in nuwer hout verouder is. Ek het ook ’n vatmonster van die 2011- pinotage geproe en reken dat die “grootmense” van die Tulbagh-wynroete hul oë moet oophou vir hierdie “baba van die vallei”!

Terloops, Lemberg maak ook sauvignon blanc, en daar’s selfs ’n Lemberg Syrah blanc de noir. O ja, en hier’s ook selfsorgverblyf in die vorm van ’n rondawel en twee kothuisies.

Bo: Nog 'n uitsig op die asemrowende Tulbagh-vallei met Tulbagh Winery in die middel onder. Regtig mense, diegene wat nog nie hul skoene in hierdie prentjiemooi vallei met sy oorvloed uitgeskop het nie, weet nie wat hulle mis nie!

Soos gewoonlik het ek heeltemal te lekker gekuier en moes ek vir Quintus Basson by Tulbagh Winery bel om verskoning te maak dat ek laat gaan wees! Mens ry deur die pragtige en geskiedkundige dorp om by Tulbagh Winery (023-230-1001 / info@tulbaghwine.co.za) uit te kom. Hierdie kelder, wat in 1906 gestig is en ‘n eeu later met Porterville Kelder in die Swartland saamgesmelt het, is vandag een van die grootste in die land en spog met ‘n hele rits mylpale, soos byvoorbeeld die eerste uitvoerkelder, die eerste kelder wat vonkelwyn gemaak het en die eerste wat ’n skip te water gelaat het. Die Koningin Moeder het die Windsor Castle van 38 000 ton gedoop met Tulbagh Winery se Witzenberg!

Die wyne wat hier gemaak word, dek die volle spektrum van Suid-Afrika se beste en bekendste kultivars, of dit nou gemaklike en gesellige rooiwyne is of vars en pikante wittes. Die klem is op vrugtige versnitte wat die gasvryheid en hartlikheid van die vallei weerspieël, terwyl ’n nuwe benadering tot rooiwyn wissel van volronde cabernets tot vrugtige pinotage-, merlot- en shiraz-wyne, van die gesellige Tulbagh Winery-reeks tot die bekroonde Klein Tulbagh-wyne.

Quintus het my so tussen die geproe deur ook vertel van al die aktiwiteite wat in die vallei op besoekers wag, van varswaterhengel en voëlkyk tot stap-, bergfiets- en 4x4-roetes. En aan verblyf- en eetplekke is daar ook beslis geen tekort nie. En dan praat ek nie eers van al die geskiedkundige kultuurskatte wat in Tulbagh self wag om ontdek te word nie.

Die tydprobleem het natuurlik met al die geproe en gesels al hoe groter geword en ek het al begin sien hoe vinnig ek middagete sal moet afjaag as ek nie aanstaltes begin maak nie. Gelukkig moes ek net ’n kort entjie terug ry in die rigting van Tulbagh om by Rijk’s Private Cellar (023-230-1622 / wine@rijks.co.za) uit te kom.

Aangesien tyd teen ons was, het ek en die wynmaker, Pierre Wahl, sommer reguit na die plaas se spoggerige gastehuis ’n entjie van die kelder gery waar ons middagete op die stoep met sy pragtige uitsigte sou geniet. Hier het hy my vertel van die reeks wyne wat Rijk’s aanbied, altesaam 16, wat wissel van ’n sauvignon blanc, drie chenin blancs en twee chardonnays tot drie pinotage’s en twee shiraz’e. En dan’s daar ook nog drie versnitte, plus Rijk’s se twee vlagskipwyne, die Estate Syrah 2007 en die Estate The Master 2007.

Saam met ‘n heerlike, ligte middagete het ons ’n bottel 2008- Sauvignon Blanc verslind, en as daai heerlike witte ’n voorsmakie is van wat nog op my smaakkliere wag, moet ek beslis weer daar ’n draai gaan maak om ook die ander wyne te proe.

Nes Lemberg is Rijk’s Private Cellar ’n “new kid on the block”. Die ontwikkeling van die plaas van 137 hektaar het maar eers in 1997 begin toe 14 hektaar se wingerd aangeplant is, maar vandag is die Rijk’s-handelsmerk meer bekend vir kwaliteit as kwantiteit. Verskoon tog maar die anglisismes, maar dit klink net beter so! Mense wat hierdie wyne koop, ken en waardeer beslis die beter dinge in die lewe want die pryse wissel tussen R80 en R250.

Regs: Johan Delport voor die imposante kompleks wat die kelder en proelokaal, 'n restaurant en selfs 'n klein, intieme kapel insluit.

Nou-ja, my laaste besoek van die dag het op die pad na Ceres gewag, Waverley Hills (023-231-0002 / info@waverleyhills.co.za) waar organiese wyn en olyfolie gemaak word. Maar hier’s ook ‘n hele paar ander produkte, soos wynjellie en druiwesaad-ekstrak, wat ‘n besoek byna verpligtend maak!

Johan Delport, die kelderbestuurder, het my by die imposante kelderkompleks (wat ook ‘n restaurant en intieme kapel insluit) aan die voet van die Witzenberge ingewag. Wat mens heel eerste opval, sommer al daar in die parkeerterrein,  is die panoramiese uitsigte op die berge en vallei waar sowel die Breë- as die Bergrivier glo hul oorsprong het.

Johan het my vertel dat die area bekend is vir sy fynbos wat aan hul wyne ‘n unieke kruiekarakter gee. Die gladheid van die wyne met hul sagte, ryp tanniene en effe robuuste fynbos-eienskappe is nogal opvallend. Wyn van cabernet sauvignon-, merlot-, mourvedre-, shiraz-, sauvignon blanc-, viognier-, chardonnay- en semillon-druiwe word hier gemaak.

Hulle, wie hulle ook al is, sê dis nie die eerste besoek wat ‘n plek se sukses waarborg nie, maar die getal kere wat mens terug gaan. Ek het reeds begin beplan aan my volgende besoek aan die Tulbagh-wynroete, my tweede en vroulief se eerste. En ek’s seker daai geweste sal ons nog ‘n hele paar keer daarna ook sien.

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram