Geniet die somer met De Krans se Wild Ferment Chardonnay 2018

Die De Krans-privaatkelder aan die buitewyke van Calitzdorp is nie net wyd en syd bekend vir sy portwyne van wêreldgehalte nie, maar het ook reeds naam gemaak vir sy uitstekende droë tafelwyne van Portugese kultivars. Die landgoed se Tritonia Calitzdorp Blend het byvoorbeeld reeds twee keer die trofee vir die beste rooi versnit op die Old Mutual Trophy-wynskou ingepalm. Maar dis nie net met Portugese kultivars waarmee De Krans uitblink nie, sy innoverende benadering tot wynmaak het ook gelei tot die skep van die Premium Moscato Perlé en sy klassieke enkelkultivar-wynreeks wat die Free Run Chenin Blanc, Wild Ferment Chardonnay, Pinotage Rosé en Basket Press Cabernet Sauvignon insluit.

Hoewel chenin blanc tans die vinnigste groeiende kultivar in Suid-Afrika is, het die ABC-beweging (Anything But Chardonnay) begin stoom verloor namate wynprodusente met verskillende style van chardonnay begin eksperimenteer het. Dis ’n baie veelsydige druifsoort en eerder as om die rug daarop te keer, moet wynliefhebbers soek vir die styl wat hulle die meeste pas, of dit nou “verdrink” in hout, ongehout is, vrugtig, in ’n ligter styl gemaak is, sur-lie of lewendig is met hoë suur.

Die De Krans Wild Ferment Chardonnay 2018 is een van hierdie innoverende wyne. Die naam “Wild Ferment” gee nie net aan die wyn ’n boetiekgevoel nie, maar laat val ook die kollig op die wynmaakproses. Geen gis is bygevoeg nie wat tot gevolg het dat die natuurlike gisting stadiger plaasvind wat op sy beurt lei tot ’n meer komplekse wyn. Sodra die gisting klaar is, word die wyn gefiltreer en dan vir nog 6 maande op die moer gelos voor bottelering. Hierdie ongehoute Chardonnay bied heerlike aromas van sitrus en botterkaramel in die neus, terwyl die mond geprikkel word met geure van lemmetjie, pomelo en romerige botterkaramel. Die wyn het ’n verfrissende suur wat die vrugtegeure pragtig balanseer.

De Krans se Wild Ferment Chardonnay het onlangs die kollig gesteel deur aangewys te word as een van die top vyf chardonnays op die eerste 2019 Best Value Chardonnay Tasting van Winemag.co.za en onder die wakende oog van Christian Eedes. Die kompetisie se doel is om die beste gehalte tussen R60 en R100 te vind, en teen ’n aanbevole kleinhandelprys van slegs R73 per bottel bied die Wild Ferment Chardonnay nie net uitstekende waarde vir geld nie, maar is dit die ideale wyn vir alledaagse genot, en met sy romering en vrugtige karakter sal hy ook die oorgang van lente na somer seepglad maak. Hierdie wyn sal puik saamspan met die meeste pastadisse en pizza’s, asook met ferm vis soos tuna en geelstert, of as metgesel vir ’n hoenderbraai.

Vir meer inligting oor hierdie en ander wyne in die De Krans-portefeulje, besoek www.dekrans.co.za.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>