Gastronomiese genot wag by Terra del Capo

Suid-Afrikaners is bederf met die diversiteit, gehalte en omvang van die aanbiedings in die Kaap se wynlande, en noudat toerisme weer toegelaat word na maande se inperking, is dit tyd om daardie aanbiedings weer ten volle te geniet en waardeer. En daar is geen beter plek om te begin as die gewilde Terra del Capo Antipasti Bar op die Anthonij Rupert-landgoed in die prentjiemooi Franschhoek-vallei nie.

Vanaf 1 September kan besoekers weer eens uitsonderlike wyne en vars, Italiaans-geïnspireerde geregte in hierdie pragtige omgewing ervaar en geniet. Wanneer die weer saamspeel, kan dit selfs in die fasiliteit se welige tuin in die skadu van olyfbome geniet word.

Die seisoen-geïnspireerde spyskaart sluit ’n verskeidenheid kontemporêre en tradisionele antipasti-borde in. Van die bestanddele wat die smaakkliere sal  laat rieldans, is die landgoed se bekroonde olyfolie, heuning, Black Angus-biefstuk en Black Perigord-truffels van sy Altima-plaas naby Villiersdorp. Plaaslike bestanddele en fynkos vat hande om ’n uitsonderlike ervaring te skep.

Die “truffeljag” die afgelope paar maande op Altima het ’n skatkis van hierdie fynkos bewerkstellig, en met voortdurende produkontwikkeling kan gaste uitsien na heerlike truffel-geïnspireerde disse soos tuisgemaakte Truffle Tagliatelle met verouderde Parmesan-kaas.

As truffels egter nie jou mond aan die kwyl sit nie, is daar borde vol smaaklike en geurige charcuterie en tuisgemaakte kase om aan te smul. Een van die vegetariese opsies op die spyskaart is Sicilian Panelle met geskroeide zucchini en olywe, of wat van ’n geurige groenboontjie- en sitrusslaai bedien met verouderde balsamiekasyn?

Die genot eindig egter nie daar in die Terra del Capo Tasting Room & Antipasti Bar nie. O nee, daar wag nog meer verrassings in die landgoed se winkel waar spesiale items wag om die huis op te kikker, en met die feesseisoen om die draai, sal ’n besoek aan die winkel beslis die moeite werd wees. Dekor-items, geskenke, tuisgemaakte produkte en ingevoerde Italiaanse artikels sal onder meer te koop wees.

Die Terra del Capo Tasting Room & Antipasti Bar is oop van Dinsdag tot Sondag van 10:00 vm tot 4:30 nm. Besoeke aan die landgoed en sy fasiliteite is slegs per afspraak. Veiligheidsprotokols word streng gevolg om ’n veilige en onvergeetlike ervaring te verseker.

Vir meer inligting of om te bespreek, kontak die landgoed op 021 874 9041 of tasting@rupertwines.com.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>