Gamay, die held van Beaujolais!

Al ooit gewonder oor die “old Beaujolais wine” waarna die sanger Gary Moore in sy gewilde Blues-liedjie, Parisienne Walkways, verwys?

I remember Paris in ‘49

The Champs-Élysées, Saint Michelle and old Beaujolais wine

And I recall that you were mine

In those Parisienne days …

Wel, Beaujolais is die naam van ’n klein area in Frankryk net suid van Boergondië waar wyn van gamay-druiwe gemaak word. Dis een van die min wynstreke in Frankryk wat hulself glo nie te ernstig opneem nie.

Maar wat presies is Beaujolais? Dis ’n ligte rooi wyn wat, soos genoem, van gamay gemaak word en spog met geure soos framboos, kersie, sampioen, viooltjies, piesang en kougom. Dis hoog in suur en laag in tanniene, en is glo op sy beste as dit effe verkoel geniet word.

Een van die dinge wat Beaujolais anders maak, is die styl waarin dit gemaak word, ’n styl wat die gamay-kultivar soos ’n handskoen pas. Die meeste wyne van die area word gemaak deur ’n metode wat as semi-koolsuurmaserasie bekend staan wat die ongelooflike vrugte-geure van die wyn beklemtoon.

Nadat die druiwe gepluk is, word die heel trosse in ’n vat of tenk geplaas. Die druk van die trosse breek die druiwe onder in die vat/tenk en die sap word sodoende uitgedruk. Wanneer die sap in aanraking kom met die inheemse gis op die doppe, begin dit gis en ontstaan CO2, of koolsuurgas, wat die suurstof uit die vat/tenk forseer.

Hierdie gebrek aan suurstof veroorsaak ’n ensimaties/biochemiese vorm van gisting binne die korrels wat hulle laat ontplof. Na ’n kort maserasieperiode van sowat 4-8 dae word die sap afgetap (die sogenaamde vryloopsap) en die oorblywende sap word dan uit die doppe gedruk (die sogenaamde harde pars). Die twee sappe word dan versny. Hiervandaan sal die sap sy gistingsproses voltooi en ’n “normale” wyn word.

Hierdie vorm van gisting is ook verantwoordelik vir die kenmerkende aromas van piesang, versuikerde vrugte, peer, framboos en bosbessie in die voltooide wyn.

Die volgende keer as jy dus ’n gamay-wyn geniet, dink bietjie aan Beaujolais … en die Blues!

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>