Gabriëlskloof The Landscape Series Elodie Chenin Blanc 2016: ’n Loflied!

Chenin blanc het ’n lang geskiedenis. Daar word gemeen dat hierdie wit druif so lank terug as die 9de eeu in die Anjou-streek van Frankryk ontstaan het en toe as chenere bekend was. Die druifsoort se naam is in die 15de eeu verander na chenin blanc, ’n verwysing na Mont Chenin, en kort daarna uitgevoer na die Touraine-streek in die Loire-vallei.

Chenin se geskiedenis in Suid-Afrika dateer terug na 1655 toe dit glo een van die heel eerste wingerdstokkies was wat in die tyd van Goewerneur Jan van Riebeeck in die Kaap aangekom het. Die kultivar, ook bekend as steen, het egter eers in die eerste helfte van die 20ste eeu tot sy reg gekom vir die produksie van basiswyn vir Suid-Afrikaanse brandewyn.

Omdat chenin blanc hoog in suur is, is dit uiters veelsydig en kan dit gebruik word vir die maak van uiteenlopende wyne, van ligte tot volronde witwyne, van dessertwyn tot sjampanje, en selfs brandewyn.

Chenin blanc het oor die jare heen van veelsydige en betroubare “werkperd” van die wynbedryf ontwikkel tot ’n ware “skouperd” wat vir geen ander witwyn hoef terug te staan nie.

En gepraat van “skouperde”, Gabriëlskloof se 2016- Elodie val beslis in hierdie kategorie. Dié Botrivierse wynlandgoed se The Landscape Series bestaan uit 5 wyne wat die beste van Gabriëlskloof se wingerde en wynmaak verteenwoordig.

Die druiwe vir hierdie keldertrots kom uit 2 wingerde in die Swartland wat minstens 35 jaar oud is. Dié droëlandwingerde bestaan uit bosstokke en is nog nooit besproei nie, en hulle lewer tussen 1 en 3 ton per hektaar. Die druiwe is tros en al gepars, en nadat die sap in staaltenks oornag het, is dit oorgepomp na Franse eikehoutvate van 400 en 500 liter waar dit wild gegis het tot bottelering.

Die Elodie het ’n ligte strooikleur. In die neus stel dit subtiele aromas van heuningkoek en gedroogde pynappel vry wat amandel, blomme en appelkoos voorafgaan. Hierdie geure word pragtig na die mond deurgevoer. Die wyn se vol mondgevoel, puik natuurlike suur en varsheid is kenmerkend van chenin blanc gemaak van druiwe uit ou wingerde.

Gabriëlskloof se The Landscape Series Elodie Chenin Blanc 2016 (13,9% alkohol, RS 3,5 g/ℓ, pH 3,50) sal groot plesier op sy eie verskaf, verkil, maar dis glo ook ’n eersteklasmaat vir ’n botterige, umami-ryke uietert of pangebraaide kammossels. Ek het dit met swart mossels in ’n witwynsous en aartappelskyfies (French fries) geniet (foto regs), en dit het hierdie middagete in ’n fees verander!

Net so terloops, die etiket met sy landskapstoneel is veronderstel om die gees van die Overberg te reflekteer. Dit werk vir my!

Die 2018-weergawe van die Elodie kos R305-00 by die landgoed. Dit mag miskien baie klink vir die onkundiges en oningeligtes, maar hierdie juweel behoort loshande 90/100 te verdien in die beste geselskap.

Tjorts!

EINDE

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>