Gaan soek die wynspook op Weltevrede

Date posted:
February 22, 2012

Ek het ‘n paar jaar gelede die voorreg gehad om ‘n handvol wynmakers in die Robertson- en Bonnievale-omgewings te besoek. Die hoofrede was vir ‘n wynreisartikel, maar ek was eintlik baie nuuskierig om hierdie mense self te ontmoet aangesien ek al so baie van hulle gehoor het en so gereeld hul wyne proe.

 

Kyk, as jy byvoorbeeld nog nie van die Whacky Wine Weekend gehoor het nie, leef jy beslis op ‘n ander planeet. En dis maar een van vier wynfeeste wat hierdie op-en-wakker-wynroetevereniging deur die jaar aanbied.

 

Maar terug na my besoek aan daai geweste. Die eerste nag het ek op Weltevrede skuins duskant Bonnievale oornag. Die volgende oggend het ek ‘n heerlike brekvis by die bistro langs die kelder en proekamer geniet (daai omelet was die beste wat ek nog ooit gehad het!) en daarna het die baas van die plaas, Philip Jonker, my na sy “spookkelder” geneem vir ‘n vonkelwynproe.

 

Ons het deur ‘n gat in die vloer van die kelder en met styl trappies tot in ‘n kersverligte betonkuip geklim, toe deur gate van kuip tot kuip gestap terwyl kerse spookagtig ons pad verlig het. Uiteindelik het ons in ‘n kuip aangekom waar bottels vonkelwyn en glase op ‘n eikehoutwynvat gewag het vir die proe. ‘n Kers in die middel van die vat het die “vertrek” verlig.

 

Ek kan lang stories vertel van Weltevrede se heerlike vonkelwyn, maar dis nie waaroor hierdie artikel gaan nie. Laat ek dus maar vir Philip self aan die woord stel.

 

“Wanneer ek in ons ondergrondse kelder instap, verwonder ek my aan die pioniersgees wat ons voorsate gehad het sedert my oupa-grootjie Weltevrede begin het in 1912. In die dae van wynmaak voor vlekvrye staal en verkoeling het hulle in die grond ingegrawe, ronde klip per donkie van die rivier af aangery en betonkuipe gebou. Hierdie kuipe is dan jaarliks met byewas uitgesmeer en met ‘n vlam gesmelt om elke gaatjie en krakie te vul en sodoende te keer dat die wyn in kontak met die rou sement kom. Sedertdien het hierdie kuipe amper vergete geraak.

 

“My pa het egter jare gelede onder ons kelder ingegrawe, ‘n paar ou ondergrondse betonkuipe oopgebreek en van ons ou oesjaarwyne daar begin stoor as vinoteek. In 2003 het die gedagte my beetgepak om verder te ontdek en het ons dieper en dieper begin oopbreek. Met blokhamer in die hand het ons vir maande lank aan voetdikte mure geslaan om uiteindelik deur te breek en te sien wat aan die anderkant is. Die ondergrondse kuipe was vierkantig of reghoekig, almal verskillende vorme en groottes.

 

Links: In die laaste van die ondergrondse kuipe geniet jy dan van Philip (links) se heerlike vonkelwyn!

 

“Daar was vooraf geen manier om vas te stel waar die ondergrondse mure loop en waar die tenke was nie, want vir twee geslagte al was hierdie tenke nie meer in gebruik nie en vier verskillende lae vloer was al oor die oorspronklike poorte gegooi. Toe ek dus begin grawe en my pa vra of daar nog tenke in hierdie of daardie rigting is, het hy gesê hy weet nie want voor hy gebore is was hierdie ou kuipe reeds nie meer in gebruik nie en weggesteek onder die vloer. Soos ‘n Indiana Jones het ons maar ontdek soos wat ons voortgemyn het onder die kelder in.

                                                                                        

“Wat ‘n belewenis was dit nie! Plek-plek moes ons deur grond myn om by nog ‘n kuip uit te kom en uiteindelik is daar meer as agthonderd vierkante meter ondergrondse kelder ontdek. Dit is ideaal vir die vatveroudering van ons chardonnay- en shiraz-wyne, en bied konstante temperatuur vir ons Cap Classique-veroudering.

 

“Op versoek neem ons soms mense om die ondergrondse tonnels te sien, Weltevrede se wyne daar te proe en deel te word van daardie tydloosheid. As jy deur hierdie ondergrondse tonnels stap, beleef jou sintuie ervarings van geslagte gelede. Kerslig. Stilte. Spinnerakke. Die klamte en reuk van wyn wat verouder. Houtvate. En brandende kerspitte.”

 

As jy dus weer in daai omgewing is (ek stel voor jy sorg dat jy daar rond is en gaan proe wyn én vonkelwyn by Philip!), bel hom op 023-616-2141 en vind uit of hy jou deur die spookkelder sal vat. Dis beslis ‘n besoek werd.

 

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram