Gaan op ’n kulinêre reis na Italië by Terra del Capo

Bevredig jou “wanderlust” vir ’n Mediterreense avontuur by die Terra del Capo Antipasto Bar op Anthonij Rupert Wyne in die natuurskone Franschhoek-vallei waar die “geheime seisoen” gevier kan word met ’n watertand-winterspyskaart. Die spyskaart se fokus – eg Italiaans in alle aspekte – val op geur, varsheid en gulhartigheid in die gees van la dolce vita.

Alles word moontlik gemaak deur die gebruik van die heel beste seisoenale produkte wat op die landgoed self geproduseer word, asook verkry van plaaslike spesialiste. Die spyskaart sluit ’n keur van vegetariese disse, seekos en vleis in ’n tapas-styl in waar borde ook gedeel kan word. En aangesien puik kos en puik wyn hand-aan-hand loop, sal die landgoed se Protea-, L’Ormarins-, Cape of Good Hope-, Anthonij Rupert- en Terra del Capo-wyne beskikbaar wees om die genot na nuwe hoogtes te voer.

As Suid-Afrika se eerste produsent van Black Perigord-truffels kan gaste ook uitsien na truffel-tagliatelle, truffelgegeurde Angus-beeswors en selfs truffel-salami om heerlike, aardse umami-genot te ervaar. Die varsgemaakte tagliatelle word in ’n fluweelagtige parmesan-sous aangebied, terwyl ’n pikante, tuisgemaakte volgraan-mosterd-aioli die rykheid van die wors komplementeer. Plaaslike salmforel wat in beet berei en met ’n lemmetjie-vinaigrette bedien word, is die ideale maat vir die landgoed se Cape of Good Hope Semillon. Die reis duur voort met smaaklike disse soos die warm eend-en-pancetta-slaai, geroosterde zucchini en gerookte bocconcini pinchos. Die bekende sout-en-peper-pylinkvis bly ’n gunsteling – bestrooi met gekruide meelblom, gebraai tot krakerige perfeksie en bedien met ’n vars salsa verde.

Verleng jou besoek met ’n wynproe of wynpasmaak, vooraf as aptytwekker of na ete as die ideale afronding. En dan is daar natuurlik ook die bekende en gewilde Franschhoek-motormuseum wat slegs ’n kort en natuurskone rit in die landgoed se privaat-trem weg is, ’n hoogtepunt vir enigiemand met ’n belangstelling in alles op wiele, van toeka se dae tot nou!

Die Terra del Capo Tasting Room & Antipasto Bar is van Dinsdag tot Sondag oop tussen 10vm en 4:30nm. Om te bespreek, of vir meer inligting, skakel 021 874 9041 of stuur ’n epos aan tasting@rupertwines.com.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>