Gaan maak ’n jakkalsdraai op Jakkalsvlei!  

Nes mens dink die Kaapse wynwêreld kan jou nie meer verras nie, bewys hy jou verkeerd. Vat nou vir Jakkalsvlei as voorbeeld. Daar iewers tussen nêrens en êrens, naby Herbertsdale in die Klein Karoo van alle plekke, lê en wag hierdie juweel om ’n ieder en ’n elk te verras met kos, wyn en samesyn wat jy nie gou sal vergeet nie.

 

Die restaurant en proekamer pronk bo die wingerde.

Jakkalsvlei is ’n wynplaas van 34 hektaar sowat 40km van die Indiese Oseaan en Mosselbaai af aan die voet van die Langeberg. En dis die rit dubbel en dwars werd.

 

Wyne wat die mond laat water!

Die Jonker-familie het die plaas in 1972 aangeskaf nadat Oupa Nelis Jonker deur die landskap se natuurskoon geïnspireer is. In 1987 het sy seun, Andrew, die eerste wingerdstokke geplant, chenin blanc natuurlik. Jantjie Jonker, die derde geslag op die plaas, het in 2007 die boerdery oorgeneem en die volgende jaar Jakkalsvlei se eerste wyn gebottel. Dit was die Mount Cuvee en Hanepoot. Twee jaar later het Jakkalsvlei sy deure vir die publiek oopgegooi … en nooit weer terug gekyk nie.

 

Die ruim restaurant is ‘n gewilde kuierplek.

Maar vanwaar die naam? Eenvoudig, die plaas is vernoem na al die jakkalse in die omliggende berge!

 

Die kaasbord.

Die landgoed se veelsydige wynreeks bestaan uit 11 verskillende wyne en sluit ’n vars en lewendige Sauvignon Blanc, ’n vrugtige River Cuvee (’n wit versnit van chenin blanc en sauvignon blanc), ’n elegante Red Mount Cuvee-versnit (pinotage en merlot), ’n “koffie”- Pinotage en ’n volronde Cabernet Sauvignon in. Dan’s daar ook ’n Merlot, ’n Chardonnay, ’n Pinot Noir, ’n Cabernet Franc en ’n La Perlé Rosé. Twee soetwyne, ’n ryk en romerige Hanepoot en ’n sappige en stroperige Red Muscadel, rond die reeks af.

 

Burgers vir Afrika!

En pizzas wat so lekker is soos hulle lyk.

Die spreekwoordelike kersie op die koek is die Lord Jackal-versameling, vier wyne wat in beperkte hoeveelhede gemaak en net in Jakkalsvlei se proekamer beskikbaar is. Lord Jackal verwys na Jim Spitsveld, ’n bekende karakter in die Herbertsdale-omgewing, wat vir baie jare lank die area se boere gehelp het om hul vee teen roofdiere te beskerm. Hy het saam met Oupa Nelis groot geword. Jantjie onthou nog goed hoe Jim, geweer oor die skouer, die veld gepatrolleer het met sy getroue honde.

 

Die ontspan- en uitspan-area voor die restaurant en proelokaal.

Waar Jakkalsvlei in 2008 slegs 5 000 bottels wyn gemaak het, het dit tot 250 000 bottels gestyg in 2019, en waar 1 000 mense die landgoed in 2010 besoek het, is daar verlede jaar sowat 60 000 mense bederf met kos, wyn en samesyn.

 

“Ons wingerde lê teen die suidelike en noordelike hellings van die Langeberge,” vertel Jantjie. “Dit gee ons meer opsies om verskillende kutivars te plant. Die suidelike hellings, byvoorbeeld, het die voordeel van die oggendson,

Jantjie Jonker en jors troelie. Hy het rede om so breed te glimlag!

warm dae en koue nagte. Die matige klimaat en beperkende grond -– van klei en sandsteen tot leiklip – is belangrik vir die verbouing van druiwe van gehalte. Ons wyne het al heelwat lof ontvang vir hul diepte en elegansie.”

 

Mens verlustig jou nie net aan lekker wyn hier nie. Die ruim eetplek met sy pragtige uitsigte bied kaasborde, pizzas en burgers om saam met die wyn te geniet. Verder kan piekniekmandjies gereël word wat gaste op die ruim grasperk voor die eetplek en proekamer kan geniet. En dan’s daar ook “craft beer”, Jackal Lager en Wolf Ale!

 

Vir meer inligting, kontak die landgoed op 044 333 0222 of info@jakkalsvlei.co.za, of besoek www.jakkalsvlei.co.za. Vir restaurant-besprekings, skakel 044 333 0222 of stuur ’n epos aan catering@jakkalsvlei.co.za.

 

EINDE

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>