WC Fields het eendag gesê ‘n vrou het hom na drank gedryf en hy’t nooit eers die ordentlikheid gehad om haar te bedank nie! Pous Johannes XXIII het weer gesê dat mans soos wyn is: sommige verander in asyn, maar die beste verbeter met ouderdom.
Daar is baie gesegdes oor wyn, en mens verstaan hoekom wanneer jy so ‘n tree of drie op die wonderlike wynreis geneem het. Net iets wat soveel passie ontlok soos die nektar van die wingerd kan ook soveel sêgoed na vore bring. Ek dink dit wat oor wyn uit die mond kom, word daar geplaas deur daai einste wyn!
Dis nou ‘n lekker lang aanloop na die storie van ‘n onlangse besoek aan ‘n wynarea naby Stellenbosch waar grootte beslis nie tel nie. Hier kry daai ou gesegde dat dinamiet in klein pakkies kom nuwe betekenis!
Polkadraai, daai haarnaalddraai op die ou pad tussen Stellenbosch en Kuilsrivier regoor die plaas La Provence van die Joubert-familie, spook seker vandag nog by baie van my generasie se studente en jongmense van Matieland. Ek meen, of jy het groot genoeg onderdele gehad om hom teen vreesaanjaende snelhede te pak en te wen of jy het gefaal en ‘n ander onderdeel gesien waarvoor jy gewoonlik ‘n spieël moet gebruik!
Oubaas Joubert van La Provence het glo elke Vrydagmiddag sy trekker met kettings aan die buitekant van die draai laat parkeer vir die verwagte uitsleep van motors uit die wingerd na die naweek!
Bo: Die pragtige La Provence en Polkadraaikoppie vorm 'n natuurskone agtergrond vir die Suzuki Swift.
Polkadraai en sy golwende heuwels met asemrowende uitsigte op Stellenbosch in die noorde en so ver as Valsbaai in die suidooste het oor die jare ‘n heel ander betekenis gekry en staan vandag bekend vir die ekovriendelike en omgewingsbewuste boerdery- en wynmaakmetodes van sy handjievol wynboere. En die meeste van hulle is boetiekwynmakers wat uit klein lappies grond gebottelde wonderwerke na vore bring.
Ek het my besoek by Amani (021-881-3930) op die laaste koppie voor jy afdaal na Kuilsrivier (of die eerste koppie van Kuilsrivier se kant af) begin.
Amani, wat glo Swahili vir “vrede” is, behoort aan ‘n Amerikaanse paartjie, Lynde en Rusty Myers. Net so oor die 32 hektaar is onder wingerd en die sauvignon blanc, chardonnay, shiraz, merlot en cabernet franc/merlot-versnit wat hier gebottel word, getuig van die passie, entoesiasme en energie wat almal uitstraal.
Ek het klaar besluit dat ek volgende keer met ‘n piekniekmandjie hier op die stoep van die proelokaal/kelder gaan kuier (met Amani se heerlike nektar van die gode, natuurlik!), terwyl vroulief haar kan verlustig in die uitsigte en die interessante juweliersware wat hier te koop is.
Net anderkant die pad lê heelwaarskynlik die kleinste, professionele wynmakery in die land, reg langs die ou Polkadraaipad. Hier kraai twee voormalige veeartse uit Switserland, Luca en Ingrid Bein, letterlik en figuurlik koning op hierdie boetiekwynplasie met net meer as 2 hektaar onder merlot. Hulle is nie net wingerdboukundiges en wynmakers nie, maar ook sommer plaasarbeiders! So saam met die eende en die donkies wat ook hul beskeie bydrae tot Bein-privaatkelder (021-881-3025) se bedrywighede maak.
Regs: Luca en Ingrid Bein spog met hul heerlike merlot-nektar.
Luca en Ingrid se liefde vir wyn word net ge-ewenaar deur hul liefde vir diere en die grond, en alles hier word so natuurlik moontlik gedoen. Die drie merlots wat dus Bein se vaandel dra (Bein Merlot, Bein Little Merlot en Bein Pink Merlot), is absolute getuienis hiervan.
O ja, Polkadraai-heuwels se gewilde donkiestap en wynproe het juis hier sy ontstaan gehad en begin by die kelder, en is ‘n absolute móét!
As jy nou verder met die ou Polkadraaipad aanry, deur die haarnaalddraai met La Provence en BeauJoubert links, dan regs op die La Provence-pad, kry jy Jakarta Rijsttafel Restaurant (021-881-3243) aan jou regterkant. As jy nog nie Duncan en Veronica Fransz se rijsttafel geniet het nie, weet jy nie wat jy mis nie. Ek het nooit geweet Indonesiese kos kan so lekker wees nie, nie net vir eet nie, maar ook vir kuier! Natuurlik is die kos nóg lekkerder gemaak deur die Oak Lane-wyne van BeauJoubert waarvan ons die chenin blanc/sauvignon blanc-versnit, die merlot/cabernet sauvignon-versnit en die shiraz onder hande geneem het.
En as die kuierry té lekker raak, kan jy sommer in een van die selfonderhoudende kothuisies oorbly!
Hiervandaan is ek terug na die hoofpad, links in die rigting van Stellenbosch en so ‘n honderd meter of drie verder weer links, verby De Toren-privaatkelder tot waar Johan Reyneke besig is om Reyneke-privaatkelder (021-881-3451) uit te bou tot iets baie besonders. Op 35 hektaar boer Johan op ‘n baie biodinamiese wyse met groot passie en entoesiasme, en maak hy organiese wyne wat jou wil laat inspring en hom help om sy nuwe kelder klaar te bou sodat hy meer daarvan kan maak.
Jy kan kies tussen pinotage, sauvignon blanc, chenin blanc en die rooi versnit Cornerstone, terwyl ‘n baie interessante Reyneke Reserve White 2007 bietjie na my besoek die lig gesien het. Dis glo ‘n sauvignon blanc wat in houtvate gegis het.
Nou-ja, die kenners sê die beste plek om iets weg te steek, is onder mense se neuse. Wonder hoeveel mense die M12 tussen Stellenbosch en Kuilsrivier ry en nie eens bewus is van wat langs die pad en onder hul neuse lê en wag om ontdek te word nie.
Wynwiele:
My metaalmetgesel op die kort besoek aan Polkadraai-heuwels was Suzuki se vlugvoetige klein Swift, ‘n motortjie wat my sommer met die wegtrekslag so ‘n lekker glimlag van genoegdoening laat kry het.
Links: Suzuki se verrassende Swift poseer voor La Provence met die berugte haarnaald-draai in die agtergrond.
Ek het baie jare laas ‘n kleinsegmentmotortjie gery (om die waarheid te sê, dis toe ek self nog oor motors geskryf het, en dis dekades gelede!) en kan nie juis ‘n vergelyking tref met die Swift se mededingers nie, maar hulle sal wragtag moet uithaal en wys om by hom te kom! Seepgladde ratwisseling, puik werkverrigting uit daai wakker 1500cc-enjintjie, alles wat jy nodig het om in gemak en gerief te kan ry, en bougehalte wat Duitse motorvervaardigers jaloers sal maak!
En dan’s hy ook nog pure pret en plesier. Hy’t my baie aan daai Oak Lane Chenin Blanc/Sauvignon Blanc laat dink – ‘n plesier vir die oog, ‘n verrassing op die neus en ‘n lafenis op die tong!
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast