Fynbos Lite, Elgin Vintners se antwoord op vraag na ‘wyn in ’n blikkie’

Wyn sonder alkohol is soos ’n skaaptjop sonder vet, slaai sonder sous, somer sonder son, winter sonder reën. Eintlik erger! Daarenteen is wyn met minder alkohol ’n perd van ’n ander kleur. Dit help onder meer met daai onwelkome kiloujoules want Fynbos Lite bevat net 8,5% alkohol per volume.

En die blikkies hou ook voordele in. Hulle is lig en kompak en dus maklik om te karwei en dra.

Elgin Vintners het by die globale tendens vir geblikte wyn aangesluit met hul gerieflike, eko-vriendelike Fynbos Lite-wyne wat in sowel wit as rooi beskikbaar is. En bo en behalwe hul kleiner koolstofvoetspoor, is hulle ook laer in alkohol, iets waaroor middellywe behoort te glimlag.

Fynbos Lite is ’n viering van die tuiste van Elgin Vintners in die Elgin-vallei wat omring word deur die Kogelberg-biosfeer in die hart van die Kaapse Blommeryk, ’n wêreld-erfenisgebied. Die verpakking vang die natuurlike skoonheid van die omgewing vas met treffende illustrasies van veldblomme en die groen suikervoëltjie wat in die Kogelberg-area voorkom.

“Ons is passievol oor volhoubare boerdery en die bewaring van die unieke biosfeer van die Kogelberg,” sê Marinda Kruger-Claassen, Elgin Vintners se wynmaker en sakebestuurder. “Fynbos Lite weerspieël daardie verbintenis en vier ons natuurlike erfenis.”

Die Elgin Vintners Fynbos Lite Premium White 2020 is ’n versnit van sauvignon blanc, viognier, semillon en vatgegiste chardonnay wat 6 maande op die moer deurgebring het. Die wyn betree die mond met geparfumeerde appelbloeisels en wit steenvrugte. Dit word gevolg deur subtiele tropiese en sitrusgeure, ’n titsel mineraliteit en subtiele vanielje. Sy natuurlike suur gee die wyn ’n “ruggraat” en lei tot ’n talmende einde.

In die Elgin Vintners Fynbos Lite Premium Red 2020 word merlot en shiraz versny. Die druiwe is heeltros gegis en die wyn is vir ses maande verouder voor versnyding. ’n Ontploffing van vars, ryp rooibessievrugte in die neus vermeng met rooi kersies en uitlokkende en sagte, romerige eikegeure, is soos Marinda die wyn beskryf. “Sagte dog ferm tanniene in die mond dui daarop dat hierdie ’n ernstige wyn is, en die lang, sappige einde smeek vir meer.”

Benewens die laer alkoholinhoud is die Fynbos Lite-wyne ook ’n derde laer in kilojoules as gewone wyn, teen 234-250kJ per175ml.

Fynbos Lite is in pakke van 4 x 300ml beskikbaar en kos R42 per blikkie. Dit is by Elgin Vintners se nuwe proelokaal beskikbaar of aanlyn by https://elginvintners.co.za/buy-wine/, en landwyd in kleinhandelwinkels.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>