Franschhoek stel nuwe kos- en wynroete bekend

Date posted:
February 10, 2011

Asemrowende natuurskoon, hartlike gasvryheid, kos wat jou lighoofdig sal laat van pure lekker, puik wyn, eiesoortige kunstenaars en ’n kleindorpse atmosfeer. Dis die kenmerke van die prentjiemooi Franschhoek-wynvallei geleë in die hart van die Kaap se wynlande.

Die Franschhoek-wynvallei se Kos-en Wynroete, wat onlangs bekend gestel is, bied dit alles en meer, en ’n rustige besoek sal mense se oë oopmaak vir al die skatte op hierdie roete. Hierdie opwindende inisiatief bou voort op Franschhoek se reputasie as Suid-Afrika se koshoofstad en vat die gedagte van ’n kos- en wynervaring na ’n heeltemal nuwe vlak waar besoekers ’n groot verskeidenheid innoverende disse en wyn- en leefstylervarings sal geniet wat uniek is aan die wynlande van die Kaap.

Die roete is oop regdeur die jaar en sluit onder meer in kos- en wynparings, enkelkultivarwynproeë, Cap Classique-proeë, sjokolademaak, kookklasse in demonstrasiekombuise, olyfolieproeë en besoeke aan sommige van Franschhoek se eetplekke. Besoekers kan ’n kaart kry waarop al die hoogtepunte aangedui word. Dit sal hulle in staat stel om hul besoeke nommerpas te beplan.

Die asemrowend mooi Franschhoek-wynvallei bied nou 'n kos- en wynroete vir diegene wat die beter dinge in die lewe waardeer.

Hierdie inisiatief van die Franschhoek-wynvallei word deur die plaaslike sakegemeenskap ondersteun en beloof om nie net die karakter van die area as die land se koshoofstad te onderstreep nie, maar ook as die uiterste leefstylbestemming.

“Dit het maande gevat om hierdie projek te vervolmaak en ons is verheug om die roete beskikbaar te stel aan besoekers wat belangstel in alles wat Franschhoek aanbied. Ons is trots om hierby betrokke te wees en glo dat die nuwe roete van krag tot krag sal gaan,” het die HUB van Franschhoek Wine Valley, Jenny Prinsloo, gesê.

Besoekers se ervaring sal verder verhoog word wanneer hulle besef hoe ’n uitsonderlike bestemming Franschhoek werklik is, of dit nou vir verjaarsdae, herdenkings, Valentynsdag, troues, wittebrode of net naweekwegbreke is.

In hierdie vallei kan jy ook kos geniet wat deur gastronomiese kunstenaars geskep word!

 

Die roete begin by Dalewood Cheese en sluit dan Babylonstoren, Backsberg, Noble Hill, Vrede en Lust en Val de Vie (die laaste twee op die R310) in, asook Boekenhoutskloof en Franschhoek Pass Winery. Dit stel besoekers in staat om die skoonheid van die vallei tussen die bergreekse te ervaar.

Vir meer inligting oor hierdie Franschhoekse inisiatief, besoek www.franschhoek.org.za of kontak Franschhoek Wine Valley op 021-876-2861.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram