Franschhoek eindig skitterende wynjaar op hoë noot

Date posted:
November 15, 2011

Franschhoek roep beelde op van ’n prentjiemooi vallei, ’n dorp bekend as Suid-Afrika se gastronomiese hoofstad, onvergeetlike feeste, en natuurlik die geboorteplek vir van die land se voorste wyne en Méthode Cap Classique’s.

 

Vir die afgelope vyf jaar het Franschhoek ander wynproduserende streke in Suid-Afrika uitgedaag met hul indrukwekkende vordering in terme van gehalte. Die vallei is trots om van die land se mees innoverende en progressiewe wynmakers in sy verskeie kelders te hê.

 

Die aankondiging van die vyfsterwyne vir 2012 se gesaghebbende en internasionaal erkende Platter's South African Wine Guide het bogenoemde feite onlangs weer beklemtoon.

 

Van die 7 000 wyne wat vanjaar geproe is (400 meer as in die 2011-gids), is slegs 45 wyne met die gesogte vyfstergradering vereer. Nege hiervan is toegeken aan wyne wat in Franschhoek geproduseer word. Die gids beskryf ’n vyfsterwyn as ’n “uitstekende en klassiek Suid-Afrikaanse wyn”. Twee van die vyfstergraderings is toegeken aan Franschhoek Méthode Cap Classique’s, die Topiary Blanc de Blancs Brut 2009 en Colmant Brut Chardonnay NV. Hierdie was die enigste Méthode Cap Classique’s wat hierdie besonderse eerbewys ontvang het. 

 

Die ander vyfsterwyne sluit in:

 

1.      Boekenhoutskloof Cabernet Sauvignon 2009

2.      Graham Beck Chalkboard 2007

3.      Cape Chamonix Pinot Noir Reserve 2010

4.      Boekenhoutskloof Syrah 2009

5.      La Motte Pierneef Shiraz Viognier 2009

6.      Graham Beck Pheasant’s Run 2011

7.      Boekenhoutskloof Noble Late Harvest 2008

 

Boekenhoutskloof is, aanvullend tot die Platter-toekennings, as die Kelder van die Jaar aangewys – ’n gesogte toekenning en ook die redakteur se persoonlike keuse. Die kriteria vir hierdie toekenning is om ’n produsent te vereer wat die toppunt van die hedendaagse Suid-Afrikaanse wynbedryf verteenwoordig. Boekenhoutskloof se The Wolftrap White 2010 is voorts aangewys as die Superquaffer van die Jaar. Die Rooiwyn van die Jaar-titel het gegaan aan Chamonix se Pinot Noir Reserve 2010 - ’n wyn wat in die gids beskryf word as “volrond en lewenslustig”. Hierdie eer gaan aan ’n vyfster-rooiwyn wat die meeste stemme van die beoordelingspaneel verwerf het. 

 

Benewens hierdie belangrike erkenning, sowel as talle internasionale toekennings vir hul uitstekende wyne, het Franschhoek se wynmakers ook die afgelope vyf jaar die titels van Wynmaker van die Jaar, Vroue-wynmaker van die Jaar en Jong Wynmaker van die Jaar ingepalm. 

 

Irene Waller, wynmaker by La Bri, is onlangs aangestel as die nuwe Voorsitter van die Vignerons de Franschhoek. Irene, wat voorheen vir ses jaar by Graham Beck in Robertson werksaam was, sal hierdie groep dinamiese Franschhoekse wynmakers op die wynmaakpad vorentoe lei.

 

“Ek sien regtig uit om met die produsente te werk want ek glo hulle het ’n rykdom van innoverende idees wat ons verder kan neem,” sê Irene.

 

Maar dit eindig nie daar nie! La Motte is onlangs aangewys as die Suid-Afrikaanse wenner van die Great Wine Capitals Best of Wine Tourism-toekennings vir 2012 - ’n eer wat weer eens Franschhoek se posisie as een van die voorste wyntoerismebestemmings bevestig het. Great Wine Capitals is ’n netwerk van die wêreld se voorste wynproduserende lande wat deel in die beginsels van internasionale beste praktyke om sodoende die standaarde in wyntoerisme wêreldwyd te bevorder. Die landgoed is ook aangewys as die:

 

·         Wenner in die kategrorie vir Kuns en Kultuur;

·         Naaswenner in die kategorie vir Volhoubare Wyntoerismepraktyke;

·         Naaswenner in die kategorie vir Argitektuur en Landskappe;

·         Derde in die kategorie vir Innoverende Wyntoerisme-ervarings.

 

Die Franschhoek-wynvallei was goed verteenwoordig in hierdie internasionaal erkende kompetisie met toekennings ook verower deur Grande Provence (naaswenner in die kategorie vir Akkommodasie en derde plek in die kategorie vir Wyntoerismedienste) en Solms-Delta (wenner in die kategorie vir Innoverende Wyntoerisme Ervarings, en derde in die kategorie vir Kuns en Kultuur).

 

“Ons is werklik trots op ons wynmakers wat voortdurend wyne van wêreldgehalte lewer. Op hierdie wyse hou hulle Franschhoek in die gedagtes van wynliefhebbers en plaaslike en internasionale toeriste as die top wynbestemming ,” sê Jenny Prinsloo, Franschhoek-wynvallei se Hoof Uitvoerende Beampte.

 

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram