Klink gerus ’n glasie op Four Cousins se vonkelwyn. Dit voeg ’n vonkel by enige geleentheid!
Hierdie prettige wynreeks kan dwarsdeur die jaar geniet word, of dit nou saam met ’n vurige kerrie in die winter, ’n mengeldrankie by ’n sosiale geleentheid of langs die swembad op ’n warm somersdag is.
Four Cousins is een van Suid-Afrika se mees geliefde en gewildste wynhandelsmerke wat ’n verskeidenheid toeganklike wyne, asook ’n reeks vonkelwyne, insluit. Of jy nou vriende oornooi vir ’n laat ontbyt, ’n jaareindfunksie vir kantoorpersoneel reël, ’n spesiale geleentheid vier, ontspan aan die einde van ’n lang dag of doodgewoon vir die perfekte pasmaat vir jou maaltyd soek, met die Four Cousins-wyne sal jy beslis een vind wat in jou smaak val. Boonop het die drie soeter style in hul klein vonkelwynstal laer alkoholvlakke.
Die geurige Four Cousins White bied aromas van sagte kanferfoelie en geure van sappige appelkose, nougat en ryk, tropiese vrugteslaai. Dit is die perfekte skemerkelkie, bedien met skyfies vrugte, maar is net so genotvol saam met geurige Oosterse kos.
Die vlamkleurige Four Cousins Blush het ook ’n blommegeur, maar dit is die geure van tropiese vrugte, perskes en rosyntjies wat talm. Geniet ’n bottel as ’n aptytwekker of bedien dit saam met nageregte.
Die Four Cousins Red is ’n ewe goeie, alledaagse vonkelwyn met aromas van ryp pruime, aarbeie en eksotiese speserye. Die robynrooi wyn het ’n sagte roosblaargeur en is enige tyd ’n treffer, veral saam met geurige kos, nageregte en vrugteslaai.
Kikker ’n maaltyd van toegeskroeide tuna op met ’n glasie Four Cousins Sauvignon Blanc Brut, ’n ligte verfrissende wyn. Dit gaan ook goed saam met gerookte salm, skulpvis, romerige pasta, ham of wit vleis en spog met subtiele aromas van tropiese vrugte.
Is dit nie dalk tyd om iets anders te probeer nie? Hieronder is ’n heerlike vonkelwynresep wat ’n bietjie vonk en oemf aan enige maal sal gee.
• Four Cousins-somerjellie
Rond ’n uitstekende maaltyd af met hierdie ligte, laevet-nagereg.
Bestanddele (bedien 4):
300 ml water
55g strooisuiker
500 ml Four Cousins Blush Sparkling
1 sakkie gelatien (3 t)
150 g vars aarbeie
Metode:
Plaas die water en suiker in ’n kastrolletjie op medium hitte en roer om die kristalle op te los. Stel die hitte hoër en bring tot kookpunt. Verminder die hitte en prut vir 5 minute en verwyder dan die kastrol. Voeg die gelatien by die suikermengsel en klits vinnig totdat die gelatien heeltemal opgelos het. Voeg die Four Cousins Blush by, roer die mengsel vinnig en hou dit eenkant om effens af te koel. Gooi die mengsel in ’n ander houer en verkoel vir ongeveer een uur of totdat dit begin verdik. Roer die aarbeie by en verdeel die mengsel tussen die 4 opdienglase en plaas oornag in die yskas, of totdat dit gestol het. Bedien met ’n glas van enige van die Four Cousins-vonkelwyne.
Die Four Cousins-vonkelwyne is landwyd beskikbaar en kos ongeveer R45 elk.
EINDE
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast