Fleur du Cap seëvier by Golden Glass-toekennings

Date posted:
November 24, 2009

Die Fleur du Cap Chardonnay het weer eens sy groot oorsese aanhang bewys deur die enigste Suid-Afrikaanse wyn te word wat by die jaarlikse Golden Glass-wynkompetisie in Ysland uitgeblink het.

Dit is die Fleur du Cap Chardonnay 2008 se tweede internasionale oorwinning binne een maand. Dié wyn is in die November 2009-uitgawe van Wine Enthusiast – Amerika se gewilde wyn- en leefstyltydskrif – uitgesonder as 'n Beste Kopie-wyn met 85 punte.

Die Fleur du Cap Chardonnay 2008 is een van slegs vyf internasionale witwyne om met 'n Golden Glass-toekenning bekroon te word by die kompetisie wat jaarliks deur die Yslandse Sommelier-vereniging gereël word. Slegs 15 wyne het vanjaar 'n Golden Glass verower, waarvan die Fleur du Cap Chardonnay 2008 die enigste wyn uit Suid-Afrika is. Al die deelnemende wyne moet in kleinhandelafsetpunte in Ysland teen onder 1,990 Krona beskikbaar wees.

Die druiwe vir Fleur du Cap se wen-Chardonnay is met die hand gepluk in wingerde wat in Stellenbosch, Somerset Wes, Franschhoek en Malmesbury geleë is. In die kelder is die wyn vir vier maande in Franse en Amerikaanse eikehoutvaatjies verouder om sodoende 'n wyn te verseker wat oor al die nodige eienskappe en elegansie van 'n goeie houtverouderde chardonnay beskik.

“In die neus is die Chardonnay propvol aromas van sitrusvrugte en spanspek, met net 'n titseltjie vanielje in die agtergrond. Die palet is droog maar gerond en loop oor van appelkoos- en sitrusgeure wat heerlik aangevul word deur neute en vanielje,” is hoe die wynmaker, Pieter Badenhorst, die 2008-oesjaar, wat goed oor die volgende twee tot vier jaar sal verouder, beskryf.

Fleur du Cap Chardonnay 2008 is die perfekte pasmaat vir soesji, oesters en vis soos tuna en salm, maar is ewe lekker saam met pasta of witvleisgeregte met ryk, romerige souse. Die Chardonnay, wat teen ongeveer R40 per bottel op eie bodem beskikbaar is, bied voorwaar puik waarde vir geld.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram