Fleur du Cap Noble Late Harvest sy goud werd

Date posted:
May 24, 2010

Fleur du Cap se Noble Late Harvest, ‘n wyn wat soos vloeibare goud deur die hart van sy wynmakers vloei, staan uit as een van Suid-Afrika se beste dessertwyne danksy sy koersvaste kwaliteit en talle uitmuntende toekennings. Oesjaar na oesjaar bewys dié buitengewone edel-laatoeswyn dat hy beslis sy goud werd is.

 

Dit is die drie opeenvolgende vyfstertoekennings in die Platter-wyngids wat Fleur du Cap se wynmaker, Pieter Badenhorst, op sy tone hou. “’n Edellaatoes is een van dié mees uitdagende wyne om te maak, maar om drie vyfsterwyne in Platter te kry, maak dit alles die moeite werd,” vertel hy.

 

Met die verloop van tyd het die Fleur du Cap Noble Late Harvest sommer ook ‘n handvol goue medaljes by Veritas ingepalm, en meer onlangs ‘n goue medalje by die 2008 Old Mutual Trophy-wynskou, sowel as ‘n Grand D’Or-medalje op die 2009- Michelangelo-toekennings wat die trotse tradisie van diepte en volhoudende kwaliteit uitbeeld.

 

“Daar is beslis ‘n verskil in die denkwyse wanneer dit kom by die maak van ‘n wyn vir ‘n skou en ‘n wyn wat vir daaglikse gebruik gemaak word,” vertel Pieter, “maar wanneer jy ‘n wyn maak wat wynliefhebbers sowel as wynbeoordelaars aangryp, het jy ‘n wenresep beet.”

 

Die beste botritisdruiwe word noukeurig gekies en is die grondslag waarop die Fleur du Cap Noble Late Harvest sy reputasie bou. Terwyl meeste van die oesjare van rhine riesling gemaak is, is chenin blanc in vroeër oesjare gebruik. Die 2008- Platter-vyfsterwyn is ’n versnit van semillon en rhine riesling, terwyl die 2009-oesjaar terug keer na suiwer chenin blanc.

 

Pieter bedien graag die Fleur du Cap Noble Late Harvest koud en beveel dit aan saam met ’n verskeidenheid kase en nageregte. Die wyn kos sowat R110 by wynhandelaars landwyd.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram