Fleur du Cap lewer twee vyfsterwyne op in nuwe Platter-gids

Date posted:
September 2, 2009

Twee van Fleur du Cap se wyne het uitgeblink met vyfsterglorie in die 2010-uitgawe van die toonaangewende Platter's South African Wine Guide. Die immergewilde Unfiltered Sauvignon Blanc is met 5 sterre bekroon en die Fleur du Cap Noble Late Harvest het vir die derde agtereenvolgende jaar vyf sterre ontvang.

Dié edellaatoeswyn hou vol om oesjaar na oesjaar uit te blink en die Fleur du Cap Noble Late Harvest 2008 is die jongste oesjaar om met die gesogte 5 sterre vereer te word. Fleur du Cap is alombekend vir sy puik Unfiltered Sauvignon Blanc en maak sy vyfsterdebuut met die uitsonderlike 2009-oesjaar. Albei dié skitterende wyne is deur Pieter Badenhorst, wynmaker van Fleur du Cap se witwyne, gemaak.

Fleur du Cap Noble Late Harvest 2008 en Fleur du Cap Unfiltered Sauvignon Blanc 2009 maak deel uit van 'n rekord 41 nuwe vyfsterwyne wat uitgesonder is uit die amper 6 000 wyne wat in die 2010-uitgawe sal verskyn.

Fleur du Cap Noble Late Harvest 2008 is 'n ryk vesnit van sémillon-druiwe (58%) uit die Durbanville-area en riesling-druiwe (42%) afkomstig van 'n enkelwingerd geleë in Stellenbosch. Die wyn is propvol aanloklike geure van heuning, appelkoos en gedroogte pere met klassieke vlagies van die muskusgeur afkomstig van die botritis in die neus, terwyl die smaak beloon met heerlike nartjie, marmelade en heuning. Verder versag die suurgehalte van die wyn die soetheid en beklemtoon die vrugtegeure.

Die sterbelaaide Fleur du Cap Unfiltered Sauvignon Blanc 2009 is gemaak van druiwe wat uiters sorgvuldig uitgesoek is van terroir-spesifieke wingerde geleë in Lutzville, Darling, Kaap Agulhas, Elgin en Stellenbosch om met die uiteenlopende liggings soveel moontlik variëteitskarakter te verskaf en ‘n vars maar volronde sauvignon blanc te verseker.

Dié wyn, wat met 'n handige skroefdop verseël is om die oorspronklike kwaliteit te bewaar, loop oor van aromas van speseryagtige, groen soetrissie met vyeblaar en aspersie, asook ‘n titseltjie delikate tropiese vrugtegeure, terwyl die smaak vars en perfek gebalanseerd is met bossieveldgeure sowel as tropiese vrugtegeure en 'n goed saamgestelde suurgehalte.

Fleur du Cap Noble Late Harvest is teen ongeveer R107 beskikbaar by uitgesoekte wynhandelaars en die Fleur du Cap Unfiltered Sauvignon Blanc 2009, wat later vanjaar beskikbaar sal wees, teen ongeveer R92 per bottel.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram