Flat Roof Manor stel Rosé met lae alkohol bekend

Date posted:
July 13, 2012

Die gewilde Flat Roof Manor-reeks het pas 'n rosé met lae alkohol onder die naam Pinot Rosé Light op die mark gebring waarvan die alkoholinhoud slegs 9% is. Dit volg op die sukses van sy Sauvignon Blanc Light verlede jaar. Die nuwe wyn bevat 27% minder kilojoules as die ou Pinot Rosé wat dit vervang.

 

'n Glas met 100ml van die nuwe Pinot Rosé Light bevat slegs 292 kilojoules (70 kkal) teenoor die bestaande Pinot Rosé se 399 kilojoules (95 kkal).

 

The Flat Roof Manor-reeks word op die bekende Uitkyk-landgoed naby Stellenbosch deur Estelle Lourens, Uitkyk se wynmaker die afgelope dekade, gemaak. Volgens haar het die Sauvignon Blanc Light baie gou 'n nis in die mark gevul en verkoop dit so goed dat besluit is om 'n tweede ligte wyn beskikbaar te stel.

 

“Weens die gewildheid van hierdie wyntipe is die mark die laaste paar jaar oorstroom met rosé-wyne. Om tussen al hierdie mededingers deur die verbruiker raakgesien te word, moet 'n wyn iets besonders bied. En dit is presies wat die Pinot Rosé Light doen. Die wyn onderskei homself verder daarin dat, anders as die meeste ander lae-alkoholwyne, dit vol geur en karakter is – 'n lewendige, pikante wyn wat hom uitstekend tot enige geleentheid leen.”

 

Die Pinot Rosé Light is 'n versnit van 70% pinotage en 30% pinot grigio. Die wyn is op die tradisionele manier vir rosé gemaak: die pinotage-druiwe is gepluk toe hulle optimale rypheid bereik het waarna hulle gepars is. Die sap is vir twee dae op die doppe gelaat voor dit afgetap en gisting voortgesit is. Die pinot grigio sowel as die pinotage is vir twee maande op die moer gelaat voor die finale versnit gedoen is.

 

“Ek het die sap langer as gewoonlik in die geval van 'n rosé op die doppe gelaat om meer kleurekstraksie te verkry aangesien ek geweet het dat wanneer ek die wit wyn daarby versny, die eindproduk my daardie verleidelike kleur van 'n egte rosé sal gee,” het Lourens gesê.

 

Die Flat Roof Manor Pinot Rosé Light 2012 is landwyd beskikbaar en verkoop teen sowat R35 tot R40 per bottel.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram