Flat Roof Manor se nuwe ‘wyn vir die middellyn’!

Date posted:
July 25, 2011

Suid-Afrikaners kan nou ‘n sauvignon blanc met lae alkohol kry danksy Flat Roof Manor se Sauvignon Blanc Light. Die heel eerste oesjaar – dié van 2011 – het net 9% alkohol per volume (APV). Dit bevat ook 32% minder kilojoules as Uitkyk se gewone Sauvignon Blanc van dieselfde oesjaar met sy 14,3% APV. Albei word deur Estelle Lourens op die beroemde Uitkyk-landgoed naby Stellenbosch gemaak word.

 ’n Glas met 100 ml van die nuwe wyn bevat net 290 kJ (69 kkal) teenoor die gewone wyn se 426 kJ (101 kkal). Dit maak ’n aansienlike verskil vir almal wat hul middellywe dophou! 

“Ons sê dié wyn is lig, maar beslis nie lig in die broek nie,” sê Lourens. “Die styl is elegant, maar smaak kom beslis nie in gedrang nie. Dis fris en vars, met sonnige, lewendige kruiekarakters in die neus en op die tong. Dis waarlik ’n smaaklike alternatief vir wynliefhebbers wat moet óf wil dophou wat hulle drink sonder dat hulle die genot van ’n heerlike wyn moet prysgee. Sauvignon blanc is verreweg die gewildste kultivar in Suid-Afrika, en nou het mense ? selfs groter keuse.”

Die druiwe vir hierdie jongste toevoeging tot die Flat Roof Manor-reeks van oorwegend ongewone, speelse wyne kom van drie Uitkyk-wingerde wat taamlik hoog teen die hange lê. Dit is in Februarie tussen 18° en 19 °Balling gepluk toe die druiwesuiker nog betreklik laag was.

“Dié druiwe is vroeg in die oggend gepluk en met die hand uitgesoek vir goeie geurkonsentrasie, maar voor die korrels volryp was.”

Na die druiwe gepars is, is die sap onmiddellik van die doppe geskei. Net die vrylopende sap is gegis. Die wyn is toe drie maande lank vir ’n ronder smaak op die moer gelos. Lourens het ook vir meer kompleksiteit ’n tikkie chenin blanc by die finale versnit gevoeg.

Reeds van hul bekendstelling ? dekade gelede is die wyne van Flat Roof Manor bekend vir die innovering in die maak daarvan. Dit was een van die eerste reekse wat ? pinot grigio ingesluit het, lank voor die huidige gewildheid van dié kultivar. Dié wyn het danksy perske-, appelkoos- en lietsjie-smake baie aanhangers, en ook omdat dit baie goed by pikante disse, veral dié uit Asië, pas. Lourens sê die 2011-oesjaar van die Pinot Grigio is ewe geurig as sy voorgangers.

Sy maak ook ’n baie interessante maar toeganklike Pinot Rosé, ’n versnit van pinotage en pinot grigio wat interessante smake en verfrissing saamvoeg. Die 2010-oesjaar is nou plaaslik te kry.

Die 2009-oesjaar van die Shiraz/Mourvèdre/Viognier is een van die rooiwyne in die reeks wat die beste verkoop. Dié medium-vol, vars, vrugtige wyn met heerlike speserysmake in die styl van wyne van die Rhône-streek is aanvanklik net vir uitvoer gemaak, maar is nou ook plaaslik beskikbaar. Die sap van die verskillende kultivars is in rotasie- en oop gistenke afsonderlik tot wyn gemaak. Die wyne is daarna vir ’n ligter aanslag 12 maande lank in hoofsaaklik derdevulvate van 300 liter verouder.

“Toe ons die versnit aanvanklik bekend gestel het, was daar geen viognier in nie, maar ons het dit later bygevoeg omdat dit ’n aantreklike blomme- en druiwesmaak lewer. Ons sê altyd dit voeg die kenmerkende je ne sais quoi by waarvoor Flat Roof Manor se wyn bekend geword het.”

Die 2009- Merlot het ook 12 maande lank in eikehout gelê. “Dis ’n lewendige, sappige wyn, en die sterk framboos- en moerbeismake, en ’n tikkie spesery, sorg dat dit wonderlik veelsydig is.”

Die wit- en rosé-wyne verkoop in die kleinhandel teen sowat R38, en die rooiwyne teen sowat R49.

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram