Flat Roof Manor se lewenslustige wyne maak wyd en syd vriende

Date posted:
January 26, 2010

Estelle Lourens, die wynmaker wat haar opleiding in Suid-Afrika ondergaan maar oesjare in Suid-Australië en Kalifornië se Sonoma-vallei gewerk het voordat sy haar op Stellenbosch kom vestig het, is verheug om te sien hoe goed plaaslike en internasionale verbruikers reageer op haar Flat Roof Manor-reeks van toeganklike en pretensielose wyne wat uit minder bekende kultivars gemaak is.

 

Die feit dat hulle maklik drinkbaar is, weerspreek die aandag wat hulle van die wynmaker geniet het, maar sy hou vol dat dit die spesiale stylaspekte is wat tot hul gewildheid bydra. Haar jongste wyn, ‘n 2009- Pinot Rosé, kombineer pinotage rosé met pinot grigio om aan die wyn ‘n interessante nuwe dimensie te gee. Die pinotage is na slegs ‘n dag se dopkontak in vlekvrye staaltenks gefermenteer en op die moer gelos om ‘n volronde romerigheid te verkry. Die pinot grigio, wat geen dopkontak gehad het nie, is ook op die moer gelaat vir diepte van geur.

 

“Dit is ‘n prettige wyn om nou te geniet. Wat dit so besonders maak, is die feit dat dit ‘n soet neus van ryp bessies het, maar vars en lewendig in die mond is met ‘n talmende nasmaak, en dit maak dit baie verfrissend.”

 

‘n Ander van haar nuwe aanbiedinge is die 2008-oesjaar van haar wit versnit wat eweveel semillon en sauvignon blanc bevat.

 

“Daar is geen teken van hout in die neus of mond nie, maar dit dra by tot die wyn se volheid en kompleksiteit, en dit is waarom die wyn vir minstens 18 maande op sy beste sal bly. In die neus sal jy sweempies appel, peer en vars gesnyde gras opmerk, en dieselfde vrugtige, vars eienskappe kom in die mond voor.”

 

Sy sê albei wyne is bedoel vir gemaklike drinkgenot en om saam met kos te geniet. “Jy hoef nie intellektueel oor hulle te raak nie. Geniet hulle net vir wat hulle is.”

 

Links: Flat Roof Manor bied ook hierdie heerlike wyn vir enige tyd van die jaar aan. En hy pas by 'n wye verskeidenheid disse ook!

 

Flat Roof Manor-wyne kom almal met skroefdoppe en verkry hul naam van die pragtig gerestoureerde meenthuis op die Uitkyk-landgoed buite Stellenbosch waar Estelle gebaseer is. Die huis is een van slegs drie dubbelverdieping- neoklassieke huise in hierdie styl in die Kaap, en daar word vermoed dit is deur die bekende argitek, Michel Thibault, ontwerp.

 

“Ten spyte van die feit dat dit ouer as 200 jaar is, vertoon die vooraansig byna modern met sy gestroomlyne, onderbeklemtoonde ontwerp, hoewel die verhoudings baie klassiek is. Ek het probeer om daardie eienskappe in die Flat Roof Manor-reeks oor te dra. Hulle is kontemporêr in hul vars en vrugtige uitbundigheid, maar toon steeds ‘n klassiek-geïnspireerde sin vir harmonie.”

 

Die etiket wat besonderhede van die platdak bevat, toon ook ‘n kat wat, volgens oorlewing, lank nadat die oorspronklike eienaars weg getrek het, aangebly het en jaar na jaar in die son gebak het. “Die kat,” vertel sy, “is ‘n speelse, tong-in-die-kies-element wat ‘n ontspanne benadering tot wyngenot aandui.”

 

Ander wyne in die Flat Roof Manor-reeks sluit in ‘n Pinot Grigio, ‘n Shiraz/Mourvedre-versnit, ‘n Cabernet Sauvignon/Sangiovese-versnit en ‘n Merlot.

 

Die witwyne verkoop vir sowat R35 per bottel en die rooies vir sowat R45.

 

Om op hoogte te bly van Flat Roof Manor-aktiwiteite en die inwonende kat te volg, besoek http://twitter.com/FlatRoofManor of http://www.facebook.com/pages/Flat-Roof-Manor-Cat/165779104554?ref=nf.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram